2009 NASIONALE SKAAPBOER VAN DIE JAAR KOMPETISIE

2009 Nasionale Skaapboer van die Jaar Kompetisie

 

Wenner:  Bismarck Boerdery – Wesselsbron (Theo en Piet Delport)

Finalis:      WP van Aardt – Cookhouse (Willem van Aardt)

Finalis:      Wessels Broers – Bredasdorp (Boeta en Kosie Wessels)

 

2009 Nasionale Beesboer van die Jaar Kompetisie

 

Wenner:  Wink Broers Barkly-Oos (Theroen Vian Wink)

Finalis:      FC Durow Trust – Clocolan (Carl Durow)

Finalis:      JJ Maritz  – Memel – (Jaco Maritz)  

 

DIE BEESBOER

Doeltreffende veeboerdery bly ’n uitdaging onder variërende en soms uiters beperkte natuurlike hulpbronne.  Die Nasionale Bees- en Skaapboerkompetisie vir 2009 het weereens bewys dat daar uiters suksesvolle veeprodusente, wat nie net uiters winsgewend, maar ook volhoubaar kan boer onder wyd uiteenlopende omstandighede.  So het reproduksiedoeltreffendheid (met speenpersentasie as ’n belangrike indikator) weereens ’n belangrike rol gespeel in die beoordeling van die deelnemers.  Verskeie bestuursaspekte soos bv. hulpbron-, telings-, voedings-, personeel- en ekonomiese bestuur is ook geëvalueer – alles aspekte wat bydra om ’n bees- of skaapboer doeltreffend, volhoubaar en winsgewend te maak.  Die doel van die kompetisie is o.a. om erkenning te gee aan Suid-Afrika se doeltreffendste veeboere, met inagneming van hul natuurlike hulpbronne en wys wat haalbaar is.

 

DIE BEESBOER FINALISTE

Mnr Carl Durow van FC Durow Trust van Clocolan, boer uiters doeltreffend kommersieel met Sussex beeste.  Hy behaal ’n speenpersentasie van 93.2 % in ‘n kudde van 973 teelkoeie en ’n gemiddelde speengewig van 241 kg op sewe maande ouderdom.  Alhoewel dit ‘n kommersiële kudde is, word rekord van elke dier gehou en die doelwit is dat ‘n koei 50 % van haar liggaamsmassa moet speen.  Vervangingsverse word op 18 maande met ‘n teikengewig van 340 kg gepaar.  Kalwers van eerstekalfkoeie kry strategies kruipvoer en dit bring mee dat hierdie groep verse a.g.v. die kruipvoer op 13-15 maande in die hoof teelseisoen gedek word.  Sy voervloeibeplanning bestaan uit veld en oulandsgrasweiding in die somer en spaarveld, oesreste en ‘n beperkte hoeveelheid Eragrostisbale in die winter.  Baie goeie produksie en kondisie van die diere getuig van ‘n goed saamgestelde lekprogram en goeie weidingvoorsiening.  

 

Mnr Jaco Maritz van die plaas Nuwejaarshoek in die Memel distrik boer met Bovelders.  Hy is aktief betrokke by die plaaslike Boerevereniging en lid van die Hoëveld Beesstudiegroep.  Hy selekteer vir ’n aangepaste dier by die suurveld omgewing met klem op reproduksie, melkproduksie en temperament.  Reeds vir drie dekades word alle droë en onproduktiewe koeie uitgeskot met die gevolg dat kalfpersentasie vir die afgelope 25 jaar nooit laer as 90 % was nie – die afgelope vier jaar bo 95 %.  Die speenpersentasie van sy eerstekalfkoeie was 94.7 % in die afgelope produksiejaar.  Die veldbestuur sluit in o.a. brand elke tweede jaar en die gebruik van ruskampe en oesreste in die winter.  Die liggaamskondisie van die diere dui op doeltreffende weidingsbestuur.  Gesondheidsrisiko in die kudde word bestuur deur o.a. bulle elke jaar vir geslagsiektes en vrugbaarheid te toets.  

 

Mnre Thero en Vian Wink van die plaas Groenland in die distrik Barkly-Oos is kommersiële vleisbeesboere wat reeds vir 15 jaar ’n unieke driehoek-kruisteelstelsel implementeer en basterkrag maksimaal benut.  Hul weidingshulpbron bestaan net uit bergveld waar die winters uiters koud is met swaar sneeuvalle.  ’n Ses maande veldrus stelsel word gevolg met ’n goed saamgestelde winter- en somerlekprogram.  ’n Speenpersentasie van 95.8% word behaal met ‘n teelseisoen van 65 dae en kalwers word op 165 dae gespeen met ’n speengewig van 239 kg.  Slegs top prestasie getoetsde suiwer geteelde Angus-, Brahman- en Simmentaler bulle uit vrugbare moeders word in die stelsel gebruik.  Die Wink broers behoort aan ‘n finansiële studiegroep en hul bruto marge was die afgelope produksiejaar R323/ha teenoor die groepgemiddelde van R213/ha.



SKAAPBOER FINALISTE

Mnre Theo en Piet Delport van Bismarck Boerdery boer met Merino’s in die Wesselsbron distrik en met Afrino’s naby Smithfield.  Hulpbronne word optimaal benut en marginale lande is in ‘n tradisionele saaigebied na aangeplante weidings omgeskakel.  Veldbestuur sluit lang rusperiodes vir die volle groeiseisoen in soos voorgestel deur Dr Arno Moore.  Waarde word toegevoeg tot mielies deur jaarliks ongeveer 18 000 Merino en Merino-tipe lammers aan te koop en op weimielies af te rond met ‘n finale mielieprys van ongeveer R3 200 per ton.  Die reproduksieprogram van die ooi-boerdery word gekenmerk deur ’n kort teelseisoen en lae lammortaliteite deur o.a. gebruik te maak van lamhokke.  Die speenpersentasie van die Merino’s is onderskeidelik 132% en 143% met ‘n Maart en September lamseisoen.    BLUP teelwaardes word by ram-aankope en ramseleksie gebruik om vrugbaarheid, groei en wolproduksie te verbeter.

 

Mnr Willem van Aardt van die historiese plaas Fairworld in die Cookhouse distrik boer met nagenoeg 2000 stoet en kommersiële Merinos onder wisselende klimaatsomstandighede.  ’n Kenmerk van hierdie boerdery is die produksie van genetiese fynwol (gemiddeld 18.2 mikron) met ‘n skoonopbrengs van 70 % en ‘n speenpersentasie van 117 % in die afgelope droogtejaar.  Verskeie seleksie hulpmiddele word gebruik om fynwol volhoubaar te produseer.  ’n Aangepaste Acocks weidingstelsel word geïmplementeer met kampe wat ’n jaar lank rus.  KI en ’n 35 dae teelseisoen word gebruik met teeldoelwitte om ’n groot, aanpasbare Merino met die fynste wol te teel wat ’n tweelinglam kan grootmaak.  Willem en sy seun Acton gebruik hul hulpbronne om die weidingskapasiteit uit te bou en risiko te beperk deur 180 hektaar aangeplante weiding (kikoejoe, lusern, raaigras en hawer) effektief te benut tydens lamtyd.  Verskeie toekennings is al verower met die fynwol geproduseer.

 

Mnre Boeta en Kosie Wessels van Karsrivier in die Bredasdorp distrik boer met stoet en kommersiële Dohne Merino’s.  Met ’n kudde van bykans 4500 teelooie word ’n speenpersentasie van 123.4% behaal met drie lamtye per jaar (Februarie, Mei, en Julie).  Hulle gebruik ’n rotasie weidingbestuurstelsel van graan met lusern (± 6 jaar) en ‘n veelading van 4.65 KVE/ha word toegepas.  Slegs die beste ramme word m.b.v. BLUP teelwaardes geselekteer en ‘n wolproduksiepotensiaal van 5-6 % word nagestreef.  Seleksie vir vrugbaarheid, groeivermoë, nie-selektiewe vreetgewoontes en aanpasbaarheid by ’n hoë veelading op weiding geniet voorkeur.  ’n Kort teelseisoen (34 dae), koggelramme en KI word gebruik om die hoë speenpersentasie te behaal.  Ooie ontvang prikkelvoeding twee weke voor die teelseisoen met strategiese byvoeding tydens laat dragtigheid en laktasie.  Die skaapbedryfstak het ‘n wins van R2785/ha in die afgelope produksiejaar gerealiseer. Die hoof-beoordelaar van die kompetisie is prof Johan Greyling van die Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, bygestaan deur Mnr Hendrik van Pletzen van Voermol, die amptelike borg van die kompetisie.  Ander borge en medewerkers sluit in Agri SA, BKB, Eerste Nasionale Bank (ENB), Landbouweekblad, Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), Rooivleisprodusente Organisasie (RPO), Transvaalse Landbou-Unie (TLU) die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Veegesondheid en Produksiegroep van die S.A. Veterinêre Vereniging.  Die wenners word DV 25 November 2009 in Bloemfontein aangewys.

 


 


Voermol Boeredae

Woensdag,30 Mei 2012
Beesproduksiekursus BEKYK ALLE GEBEURTENISSE


VOERMOL DUNDEE LEKKONSENTRAAT