2010 Nasionale Bees- en Skaapboer van die Jaar Finaliste


2010 Nasionale Bees- en Skaapboer van die Jaar
________________________________________________________

VEEBOERPRESTEERDERS KRY ERKENNING MET VOERMOL KOMPETISIE

Hendrik van Pletzen (Voermol Tegniesebestuurder), Profs. Johan Greyling (UVS) en Hennie Snyman (UVS)

Finansiële volhoubare diereproduksie (skaap- en vleisbeesboerdery) is o.a. noodsaaklik vir die vooruitgang en welvaart van ons land en sy mense - in terme van voedselsekuriteit. Reproduksiedoeltreffendheid bly een van die belangrikste maatstawwe om die produktiwiteit in die skaap- en vleisbeesbedryf te meet: of dit nou kilogram vleis en/of wol geproduseer per hektaar is of enige ander maatstaf. In die beoordeling van die Voermol Nasionale Bees- en Skaapboer van die jaar, is hoofsaaklik gefokus op produktiwiteit en is weereens baie op vrugbaarheid gelet – met inagneming van die volhoubare benutting van natuurlike hulpbronne en die doeltreffende bestuur daarvan.
Vrugbaarheid as sulks, kan gesien word as ’n uitvloeisel van ’n aangepaste dier, ongeag die ras of omgewing. In die kompetisie was speenpersentasie (aantal nageslag gespeen per vroulike diere gepaar) gebruik as ’n indikator om vrugbaarheid en reproduksiedoeltreffendheid te meet. Met hierdie norm word verskeie aspekte rondom die veeprodusent se bestuursvernuf geëvalueer.
Die doel met die Voermol Bees- en Skaapboer van die jaar kompetisie bly nog steeds om Suid-Afrika se top veeboere te identifiseer, erkenning te gee en te beloon. Waardevolle praktiese inligting uit hierdie boerderye word ook gebruik as norme om die produksiedoeltreffendheid van medeboere te verbeter.

Die volgende finaliste het deurgedring na die finale rondte waartydens die wenners tydens ’n gala geleentheid op 24 November 2010 in Bloemfontein aangewys sal word.
Beesboer-finaliste
Benson Farming bestuur deur Mnr Tony Matchett in die Howick distrik, boer kommersieel met Angus beeste. Op suurveld, aangevul deur kikoejoe en oesreste word ’n speenpersentasie van 93% behaal. Indirek word by verse geselekteer vir vrugbaarheid deur ’n teelseisoen van 45 dae te implementeer. Nadat verse op 24 maande goed uitgegroei is, word hul vir die eerste keer gedek, terwyl enige vroulike dier wat oorslaan, uitgeskot word. Hiermee word ‘n uitstekende konsepsiesyfer bereik. Ten spyte van vele intensiewe boerderyvertakkings in die omgewing, is sy beesboerdery uiters winsgewend. Alle bestuursaspekte is sterk gefokus om kwaliteit en produktiwiteit in die kudde te verbeter. Sy mikpunt is die vestiging van ’n handelsmerk vir die bemarking van kwaliteit vleis.
 
Mnr Gert Campher van die plaas Oakdale in die Van Reenen distrik, boer ekstensief met 1650 Beefmaster teelkoeie. Hy speen kalwers op 7 maande met ’n gemiddelde gewig van 240 kg. Hy boer in ’n harde suurveld omgewing met baie koue winters. Sy natuurlike hulpbron bestaan hoofsaaklik uit veld weiding. Sy teeldoelwit is om geharde, aanpasbare diere te teel wat net op natuurlike veld groei en reproduseer. Sy doelwit is om diere vanaf die veld te bemark sonder addisionele graanaanvulling. Waarde word toegevoeg tot speenkalwers deur hulle as A of AB- grade vanaf die veld te bemark. In die proses teel hy ook sy eie veld-aangepaste bulle wat hoog in aanvraag is. Hy neem deel aan ’n veldbulklub, waar sy diere baie goed presteer.

Mnr Mark en sy seun Brett Newborn  van die Matatiele distrik boer ekstensief met meer as 1700 Simbra en Simmentaler teelkoeie met ’n speenpersentasie van 90% die afgelope seisoen. Hulle gebruik die goeie melkeienskappe van die Simmentaler en gehardheid en groei eienskappe van die Brahman om ’n doeltreffende kommersiële Simbra, wat hoog in aanvraag is, te teel. As gevolg van ’n hoë aanvraag na Simbrabulle in die omgewing, het hy ook ’n Simbra stoet geregistreer. Met behulp van BLUP teelwaardes by die Simmentaler sowel as die Simbra stoet, word uitstaande teeldiere geproduseer en die interkalfperiodes vergelyk baie goed met die rasgemiddeldes. In hulle veldbestuurstelsel word ’n ekologiese en fisiologiese benadering gevolg.
Skaapboer-finaliste
Die broers Dolf en Thys Bam van die plaas Waterval in die Amersfoort distrik, boer semi-intensief met Dormer skape in ’n kombinasie van die Sterstelsel (5 x in 3 jaar) en 3 lamseisoene in 2 jaar. Hulle gebruik BLUP teelwaardes, met die klem op TWW waardes, om vrugbaarheid geneties te verbeter en vroegryp diere te teel. ’n Kenmerk van die produksiestelsel is die hoë speenpersentasie (ongeveer 200%) en die uiters lae lammortaliteite (minder as 1%) wat verkry word. Sodra die eerste ooie lam, word alle ooie in lamhokke geplaas vir ongeveer 4 dae (enkelinge) en 7 tot 10 dae (twee en drielinge). Die lamhokke huisves 252 ooie tegelykertyd onder dak en die fasiliteit word optimaal gebruik deur 10 groepe per jaar deur te sit. Alle lammers word gespeen op ’n ouderdom van 60 tot 70 dae. Die doelwit is om 2.5 lammers per ooi per jaar te speen en ’n 21 tot 24 kg A2/3 karkas op 100 tot 120 dae ouderdom aan die mark te lewer. Diere moet ook voldoen aan die hoogste rasstandaarde.

Mnr Andries Pienaar en sy seun Jacques van die plaas Klipplaatsfontein, Colesberg boer met Merino’s op 10900 hektaar. Hulle teeldoelwitte fokus op vrugbaarheid, speengewig (100 dae), karkas- en wolkwaliteit. Sterk bykomende faktore is die waardetoevoeging wat gedoen word t.o.v. die genetika (Mega Merino), vleis (Shepherd’s Selection) en wol (Charisma Fleece), deur onder die onderskeie handelsmerkte te bemark. Kursusse word aangebied vir kommersiële en opkomende boere en ’n SEB projek is geïnisieer met swart boere op ’n plaas in die Hanover distrik. Kenmerke van die skaapproduksiestelsel is ’n speenpersentasie van 132% (natuurlike veld) en 203% (besproeide weiding) en ’n speengewig van 33kg op 100 dae ouderdom. Hulle weiveld verkeer in ’n uiters goeie toestand wat getuig van die erns wat hulle maak met die bewaring en volhoubare benutting van die natuurlike hulpbronne. ’n Besigheidsmodel is ontwikkel wat die doeltreffende finansiële bestuur van die algehele besigheid verseker.

Mnre Johan en Dirkie van As van die plaas Kinko is broers wat al diep spore getrap het in die Merinobedryf in die Swellendam distrik. Met bykans 4200 teelooie word ’n speenpersentasie van 135% in ’n teelseisoen van 30 dae (3 lamseisoene in 2 jaar) behaal. Jong ooie word die eerste keer op 11 maande gepaar. BLUP teelwaardes, met die klem op REW en TWW waardes, word gebruik om meer winsgewende en doeltreffende diere te teel. Finansiële resultate van die skaapbedryfstak word vergelyk met dié van ’n studiegroep en die afgelope produksiejaar was die marge bo gespesifiseerde koste R1834 per ha aangeplante weiding teenoor die groepgemiddelde van R1551 per ha. Die inkomsteverhouding tussen wol en vleis is 20:80 en 1.58 eenhede per teelooi per jaar is geproduseer. Hulle skeer elke 8 maande met ’n skeerselgemiddeld van 19.6 mikron en ’n jaarlikse wolproduksie van 5.8kg per skaap. Met die 3 lamseisoene (Februarie/Julie/November) is daar deurlopend lammers om te bemark.

Die beoordelaars van die kompetisie is Professore Johan Greyling en Hennie Snyman van die Universiteit van die Vrystaat se Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde en Mnr Hendrik van Pletzen van Voermol. Voermol is die hoofborg en koördineerder van die kompetisie. Ander borge en medewerkers sluit in Agri SA, BKB, Eerste Nasionale Bank (ENB), Landbouweekblad, die Nasionale Wolkwekersvereniging van SA (NWKV), die Rooivleisprodusente organisasie (RPO), Transvaalse Landbou-Unie (TLU) die Universiteit van die Vrystaat en die Veegesondheid- en Produksiegroep van die SA Veterinêre Vereniging.

Navrae: VOERMOL FEEDS (PTY) LTD: HENDRIK VAN PLETZEN, TEGNIESEBESTUURDER, 083 456 3636