Die droë koei word dikwels afgeskeep in ’n poging om voerkoste te beperk. Koeie wat ondervoed is, piek nie soos verwag nie ( gemeet aan hulle genetiese potensiaal), handhaaf nie maksimum melkproduksie nie en toon ’n verhoogde voorkoms van melkkoors en ander metaboliese steurnisse.
Gedurende die droë tydperk moet die uier herstel en die rumen vir ’n hoë-energie melkrantsoen voorberei word. Aangesien dit meer koste-doeltreffend is om ’n lakterende koei eerder as ’n droë koei vet te kry, moet koeie verkieslik teen ’n liggaamskondisietelling van 3 tot 3.5 afgedroog word. Massa moet gedurende die droë tydperk gehandhaaf word, sodat koeie nie oormatige gewig (meer as 50 kg) net na kalwing verloor nie. Wetenskaplike navorsing het getoon dat die voer van ’n anioniese droëkoeimeel doeltreffend in die voorkoming van melkkoors en ander metaboliese steurnisse is. Koeie kan dus 21 dae voor kalwing na ’n anioniese droëkoeirantsoen oorgeskakel word.
Gedurende die eerste 30 dae van die droë tydperk word koeie Voermol Super 18 (V355) teen 1.5 kg/koei/dag gevoer. Hierdie molasse-gebaseerde aanvulling is smaaklik en verhoog inname van lae-gehalte ruvoer. Indien kondisie nie na wense is nie, kan Super 18 met mielies in ’n 1:1-verhouding gemeng word en teen 3 tot 5 kg /koei/dag gevoer word. Verseker egter dat genoeg ruvoer in die rantsoen ingesluit word om ten minste 13 kg op DM-basis per koei te voorsien.
Vermy swaarbemeste weidings soos kikoejoe, lusern en klawer wat siektes soos grastetanus, melkkoors en dies meer kan veroorsaak. Voermol stel nou ’n anioon soutgebaseerde droëkoei-aanvulling beskikbaar vir die voer van droë koeie vanaf 21 dae voor kalwing.
Die nuwe Voermol Droëkoei-aanvulling (V14603) word gevoer teen 2.5 tot 3 kg/dier/dag. Dit is ’n smaaklike aanvulling wat die nodige anioonsoute in die regte hoeveelhede bevat, om onder andere melkkoors en uier- edeem doeltreffend te help voorkom. ’n Groot probleem met anioonsoutbevattende voere is inname, aangesien die soute baie onsmaaklik is. Voermol het die produk egter goed nagevors en geformuleer om voldoende inname te verseker.
Anioonsoute moet in genoegsame hoeveelhede voorsien word (-100 tot -150 meg/kg DM) om die urine-pH van Holsteins tot 6.5 en Jerseys/kruise tot 5.5 te verlaag. Die doeltreffendheid van die rantsoen kan ook maklik bepaal word deur urine-pH te meet (lakmoesstrokies beskikbaar by alle apteke) vier dae na insluiting van die Droëkoei-aanvulling in die rantsoen. Meet die pH om te weet of die produk werk!
Graan (mieliemeel) word in die opstoomrantsoen ingesluit en in ’n 1:1-verhouding met Droëkoei-aanvulling gemeng en saam met ad lib. ruvoer gevoer. Nabykalfkoeie verloor hulle eetlus voor kalwing en Droëkoei-aanvulling se nutriëntdigtheid is van so ’n aard, dat die koei al die nodige vitamines, proteïene, energie en spoorminerale inneem. Spoorminerale word grotendeels in organiese vorm voorsien en elemente soos selenium, sink, biotien, mangaan en koper verseker dat ’n gesonde, goed-voorbereide koei die melkkudde binnekom en dat die kalf ook gesond is.
Met Voermol Droëkoei-aanvulling word die opstoomkoei en gepaardgaande metaboliese uitdagings wetenskaplik benader met ’n aanvulling van hoogstaande gehalte.
Van kalf tot koei met Voermol Volledige Kalfkorrels
Voermol Voere stel ook ’n volledig gebalanseerde , klaargemengde kalfmeel/pil, wat aan kalwers vanaf
Dag 1 tot na dekouderdom gevoer kan word, bekend. Voermol Volledige Kalfkorrels (V14607) is ’n luserngebaseerde , smaaklike kalfmeel wat ad lib. aan kalwers vanaf geboorte gevoer kan word.
Volledige Kalfkorrels bevat ’n verskeidenheid hoogs verteerbare proteïenbronne met ’n uitstekende aminosuursamestelling en -profiel wat groeitempo bevorder en help verseker dat kalwers vroeër en teen die aangewese massa gespeen kan word.
Kalwers moet gespeen word wanneer hulle ten minste 1 kg Volledige Kalfkorrels vir drie agtereenvolgende dae inneem. Weens die insluiting van medikamente, help Kalfkorrels om koksidiose en opblaas doeltreffend te beheer.
Kalfkorrels kan sonder bykomende ruvoer/lusern aan kalwers gevoer word, maar dit is goeie bestuurspraktyk om ook ad lib. ruvoer van lae gehalte (eragrostishooi/koringstrooi) aan ouer verse beskikbaar te stel.
Voermol Volledige Kalfkorrels is ’n goed gebalanseerde, gerieflike, klaargemengde produk wat met gemoedsrus aan kalwers van alle ouderdom gevoer kan word.
Kontak u Voermol-agent vir meer inligting rakende die bovermelde produkte.