NUWE VERBETERDE VOERMOL MELASSEMEEL 'N WENNER IN ALLE OPSIGTE
Hoe het Voermol Melassemeel verander?
- Voermol Voere het daarin geslaag om 'n "nuwe" melassemeel te ontwikkel wat hoogs mengbaar is, baie minder klonte het en nog steeds hoog in energie is. Hierdie melassemeel se fisiese voorkoms is ligter van kleur en het 'n "losser" struktuur.
- Om die hantering van Voermol Melassemeel te vergemaklik, is dit nou in 'n gerieflike 25 kg sak beskikbaar.
Voordele van Voermol Melassemeel
- Voermol Melassemeel is daarvoor bekend dat dit die smaaklikheid, geur, fisiese voorkoms en tekstuur van enige voer of lekke drasties verbeter indien dit teen die voorgeskrewe peile ingesluit word.
- Dit verlaag stowwerigheid, voorkom windverliese en verminder skeiding van voere en lekke.
- Weens die hoë B-vitamien- en spoorelementinhoud maak dit 'n waardevolle bydrae tot rumengesondheid wat weer tot verhoogde eetlus asook beter vertering en benutting van voere en weidings aanleiding gee.
- Volgens Morrison (1967) is die voedingswaarde van melasse-energie so hoog as 75 tot 95 % van dié van grane, mits nie meer as 10 % daarvan in 'n rantsoen ingesluit word nie. Die energie van melassemeel is in die vorm van hoogs oplosbare suikers wat die styselenergie van grane in lekke en volledige rantsoene komplementeer (aanvul). Dit is dus 'n uitstekende energiebron om saam met oplosbare proteïenbronne soos ureum in lekke en voere asook plantproteïen in groenweiding te voer.
Gebruike van Voermol Melassemeel
- Lofgreen en Otagaki (1960) het gevind dat die insluiting van 10 % melasse in 'n voerkraalrantsoen vir vleisbeeste, as gedeeltelike vervanging van graanmeel, tot 'n 10 % beter daaglikse massatoename gelei het in vergelyking met die kontrolerantsoen wat slegs graan en geen melasse bevat het nie. Voermol Melassemeel kan dus tot 15 % (op 'n 90 % droë materiaalbasis) in voerkraalrantsoene vir vleisbeeste ingesluit word om hominy chop, mieliemeel of ander grane te verplaas.
- Voermol Melassemeel kan tot 50 % van die grane in produksielekke en tot 100 % in onderhoudslekke van skape en beeste vervang.
- In melkbeesrantsoene word op grond van die navorsing van Lofgreen en andere aanvaar dat melasse teen 'n insluiting van 7.5 % in die totale rantsoen (100 % DM-basis) in die plek van mieliemeel en ander grane dieselfde produksieresultate tot gevolg sal hê. Voermol Melassemeel kan dus tot 7.5 % (op 'n 100 % droë materiaalbasis) in volvoere en 12.5 tot 15 % in suiwelmele ingesluit word om mieliemeel of ander grane te verplaas. Melkkoeie behoort teen hierdie insluitingspeile net so goed of beter as op 'n totaal graangebaseerde rantsoen te presteer. As 'n duimreël kan aanvaar word dat Voermol Melassemeel tot 2 kg per koei per dag gevoer kan word.
- In die geval van Voermol SS 200-gebaseerde skaapafrondingsrantsoene kan 5 tot 10 % Voermol Melassemeel ingesluit word om grane te vervang. Teen hierdie insluitingspeile behoort dieselfde of beter resultate as met slegs grane verkry te word.
- Teen 5 tot 10 % insluitingspeil dien dit ook as 'n uitstekende bindmiddel in voerkorrels.