BEMARK GRANE DEUR LAMMERS

BEMARK GRANE DEUR LAMMERS

Dr. Jasper Coetzee, Voermol Voere
(Tel no.: 021 – 887 9559; 0833 86 83 82; jasperco@iafrica.com)


Wat is die belangrikste voordele van voerkraalafronding?
· Deur lammers vroeg te speen en in 'n voerkraal af te rond, kan meer ooie aangehou word.
· Verhoog die uitslagpersentasie — vir elke 1 % wat die uitslagpersentasie styg, word ± R16 (vir pryse geldig op 16/03/10) meer wins gegenereer.
· Deur van die grane deur die lammers te "bemark" word 'n hoër graanprys (tot R3 000/ton of selfs hoër) gerealiseer.

Wat is die belangrikste winsdrywer in 'n voerkraal?
· Die voeromsetverhouding (kg voer ingeneem per kg massatoename) word as die "benchmark" van winsgewendheid in 'n voerkraal beskou (Lundeen, 2004) — 'n verhouding van kleiner as 4.0:1 word as uitstekend beskou.
· Die mees winsgewendste lam, is die een wat vinnig groei en vinnig bemark kan word, want vinniggroeiende lammers is die doeltreffendste omsetters van voer na vleis (Anderson, 2005).
· Voeromsetdoeltreffendheid verbeter hoe jonger die lam is; hoe meer energie en deurvloeiproteïen en hou minder ruvoer die voerkraalrantsoen bevat; hoe hoër die vrywillige voerinname is; met die gebruik van medikamente en 'n oorinplantaat; soos die vlak van voerkraalbestuur verbeter; ensovoorts.

Watter tipe voerkraallam gaan die meeste wins genereer?
· 'n Jong lam (jonger as 3 maande) goed uitgegroeide lam wat minstens 25 tot 28 kg
weeg — voeromsetverhouding van 'n drie maande lam is ± 4.2:1 teenoor die 7.6 tot 8:1 van 'n agt maande oue lam (Vosloo, 1982).
· 'n Vleiswoltipe ramlam.
· 'n Kruislam.
· 'n Lam wat kruipvoer ontvang het.
· 'n Gesonde lam.
· Verkoop met speen die swakste derde lammers en rond die res in 'n voerkraal af — 'n swak lam kan nie reg gevoer word nie!

Watter voerkraalrantsoen gee die beste biologiese en ekonomiese respons gee?
· 'n Goeie gehalte, deeglik gebalanseerde voerkraalrantsoen met 'n hoë deurvloeiproteïen- en energie-inhoud; lae ruvoerinhoud; wat die nodige buffers, groeistimulante, ammoniumsoute, minerale, spoorelemente en vitamines bevat met geen laegraadse neweprodukte — 'n rantsoen wat aan hierdie vereistes voldoen, is: 125 kg gemaalde lusernhooi (25 mm-sif) + 550 kg gemaalde mielies + 200 kg Voermol SS 200 + 100 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel.
· 'n Hoë insluiting van 'n deurvloeiproteïenbron (bv. 5 tot 10 % Voermol Procon) verbeter die voeromsetverhouding en bevorder spiergroei wat op sy beurt die uitslagpersentasie verhoog (Beerman et al., 1986)


Watter aanpassingsprosedure is die beste?
· Begin op Dag 1 met 100 g/lam van die voerkraalrantsoen en verhoog dit daagliks met 100 g/lam totdat ad lib.-voedingspeil (± 4 – 4.5 % van liggaamsmassa) bereik word.
· Voer elke dag se toegelate hoeveelheid rantsoen in twee gelyke porsies — helfte in die oggend en ander helfte laatnamiddag. Na die aanpassingsperiode (eerste 10 dae) moet die daaglikse hoeveelheid voer drie tot vyf of selfs meer kere per dag gevoer word om hoë vrywillige voerinname te verseker.
· Voer addisionele ruvoer (verkieslik ongemaalde lusernhooi) eenkant ad lib. vir die eerste 10 dae.
· Daar moet voldoende vreetspasie (± 25 – 30 cm/lam) wees sodat al die lammers gelyk kan vreet.

Wenke vir welslae in 'n voerkraal
· Verdeel lammers volgens massa, grootte, kondisie, ras en geslag met inname — ideale tropgrootte is 25 tot 50 lammers, met 'n maksimum van 100 lammers per kraal en laat 5 tot 8 m2 vloeroppervlakte/lam toe.
· Lammers moet met inname met doeltreffende breëspektrumdoseermiddel gedoseer of gespuit word; 'n multiklostridiale entstof, wat ook Pasteurella bevat, gespuit word; oorinplantaat geïnplanteer word; Multimin (sonder koper) asook Vitamien A & E gespuit word.
· Voorsien voldoende skaduwee (0.5 – 1.0 m2/lam) teen die son asook beskutting teen ongure weer.
· Gebruik lynkrippe, nie selfvoerders nie.
· Voldoende koel en skoon drinkwater moet te alle tye beskikbaar wees — maak waterkrippe met elke voeding skoon.
· Bemark lammers weekliks soos hulle markklaarheid bereik — moenie wag totdat almal markklaar is om hulle gelyk te bemark nie.

SOEK ARTIKELS

Sleutelwoord, Produk of Skrywer

TEGNIESE SPAN

Hendrik van Pletzen - Tegniese Bestuurder:
Vleisbeesbestuur, voeding, weidings, produksiestelsels en ekonomie.

Technical Manager - Tegniese Bestuurder:
Suiwel- en Pluimveevoeding, Gehaltebeheer & Produkontwikkeling

Ulrich Müller - Tegniese Bestuurder:
Voerkraal-, Wild- & Volstruisvoeding

Voermol - Tegniese Direkteur:
Voeding, Bestuur & Kleinveeteling