BESPROEIDE WEIDINGS VIR UITBREIDING VAN SKAAPBOERDERY

Grondpryse in goeie veegebiede het die afgelope tyd skerp gestyg en huurgrond is feitlik onbekombaar. ‘n Jong boer van die Jamestown-distrik in die Oos-Kaap, Mnr. Casper Nel (Jnr.),  is met dieselfde probleem gekonfronteer en in sy distrik kom grond selde in die mark.  Huurgrond is baie skaars en wanneer beskikbaar, is die huurprys tot R200/ha  (en selfs meer) met ‘n weikapasiteit van 6 tot 7 ha per grootvee-eenheid.  ‘n Ander opsie om uit te brei, is vertikale ontwikkeling, m.a.w. kyk krities na jou eie hulpbronne en verhoog doeltreffendheid binne jou eie grense.  Die ontwikkeling van besproeide weidings was ‘n opsie vir Mnr. Nel, maar baie vrae het ontstaan rondom aspekte soos bv. die drakrag van weiding, diereprestasie, kruisteling en winsgewendheid.  Om hierdie vrae te beantwoord, het Mnr. Nel ‘n praktykstudie op sy plaas gedoen en die resultate is deels aangewend vir die verwerwing van ‘n Magister graad in Volhoubare Landbou in 2010 aan die Universiteit van die Vrystaat.  Die studieleier was Mnr. Hendrik van Pletzen van Voermol Voere en Prof. Izak Groenewald van die Universiteit van die Vrystaat het gehelp met die beplanning van die studie.

Die keuse van die regte tipe weiding is krities belangrik.  In besproeiingsgebiede is eenjarige weidings gewoonlik die beste keuse om vinnig aan te pas by veranderende produkpryse en markomstandighede.  In Mnr. Nel se geval, is dit ekstensiewe veeboerdery en ‘n meerjarige grasklawermengsel was die beste opsie vir die spesifieke grond, klimaat en voerbehoefte.  Die beskikbaarheid van saad van verskillende kultivars is wisselend, maar die weiding bestaan basies uit langswenkgras (vroeg en laat kultivar), kropaargras, meerjarige raaigras en klawers.  Die volgende weidingmengsel is in die herfs gevestig.

Tabel 1:  Samestelling van die meerjarige besproeide weiding

Weiding

kg saad/ha

Langswenkgras: Dovey kultivar

15

Langswenkgras: Fuego kultivar

10

Kropaargras: Hera kultivar

5

Meerjarige Raaigras: Vedette kultivar

5

Rooi Klawer: Red Gold kultivar

2

Wit Klawer: Waverley kultivar

2

Soygro klawer entstof

 

TOTAAL

39

 

Grondontledings is vooraf geneem om die voedingstatus te bepaal en tydige regstellings te maak.  Voldoende hoeveelhede besproeiingswater is noodsaaklik vir goeie produksie en drakrag en hierdie tipe weidings benodig 800 – 1000 mm water per jaar (reën ingesluit) om 15 - 20 ton droë materiaal per ha te produseer.  Bemesting moet volgens grondontledings geskied, maar die riglyn stikstof toediening is 200 – 250 kg N per ha, verspreid in vier of vyf toedienings.  Ongeveer 30 – 35 % van die ingeneemde voedingstowwe hersirkuleer in mis en urine.  Geen weiding produseer elke maand van die jaar ewe veel nie en hierdie grasklawermengsel het ‘n herfs- en lentepiek.  Minimum temperature in die Jamestown distrik daal so laag as -14° C en geen produksie vind in die midwinter plaas nie.  In die warmste maande van die jaar naamlik Desember tot end Februarie neem produksie ook af.  Meerjarige weidings neem langer as eenjarige weidings om goed te vestig en daarom is die weiding eers in Augustus begin bewei.  Mnr. Nel het die weiding in vier kampe verdeel om wisselweiding toe te pas met weiperiodes van vyf tot sewe dae per kamp.

Jong tweetand Letelle ooie is in die proef gebruik en die ooie is ewekansig in drie verdeel en met ‘n Wit Dorper en Dormer gekruis.   Die kontrole was ‘n suiwer geteelde Letelle ram en die ooie is in Maart gedek om in Augustus te lam.  Die dragtige ooie het op veld oorwinter met ‘n Voermol Proteïenblok (reg. nr. V10448) en in die laaste ses weke van dragtigheid, is die aanvulling na Voermol Maxiwol Produksiekorrels (reg. nr. V15415) verander.  Die ooie het op die veld gelam en is so gou moontlik ná lam, na die besproeide weiding verskuif.  Die aanvulling is verander na Voermol Superlamkorrels (reg. nr. V 17425) en die ooie is gebruik om die lammers byvoeding te leer vreet.  Drie weke nadat die laaste ooie gelam het, is byvoeding aan die ooie gestaak en die Superlamkorrels is as kruipvoer vir die lammers gevoer.  Die vrywillige inname van die kruipvoer was aanvanklik 150 g per lam per dag en dit het geleidelik vermeerder tot 750 g teen slagouderdom.  Die praktyk het verseker dat die lammers maklik geleer het om deur die hek te kruip en die kruipvoer te vreet aangesien hulle vertroud was met die voedingsarea.  Die byvoeding is daagliks voorsien om goeie innames te verseker en verliese weens reën en vermorsing te beperk.

Siektevoorkoming en parasietbestryding is ‘n groot uitdaging op intensiewe weidings.  Die voorgestelde gesondheidsprogram vir die gebied is gevolg soos voorkoming van Karoo verlammingsbosluis, bloutong en klostridium siektes.  Om weerstand teen doseermiddels te voorkom, word hulpmiddels soos die neem van mismonsters en bepaling van oogslymvlieskleur ingespan om die minimum hoeveelheid kere te doseer en die regte middel te gebruik.

Die lammers is op ‘n gemiddelde ouderdom van 128 dae direk van die ooie geslag.  Die verskil in groei tussen die kruislammers en die suiwer geteelde Letelle lammers was minimaal (Tabel 2).

 

Tabel 2:  Gewigte van lammers by verskillende ouderdomme en slagdata

Maatstaf

Wit Dorper kruis (kg)

Dormer kruis (kg)

Suiwer Letelle (kg)

Geboortegewig

4.9

4.3

4.7

42 dae gewig

19.1

18.8

19.0

100 dae gewig

37.7

39.3

38.2

End gewig (128 dae)

45.2

45.3

43.2

GDT

0.315

0.320

0.301

Karkasmassa

23.8

22.6

21.7

Uitslagpersentasie

52.7

49.9

50.2

 

Die groei van al drie groepe lammers was baie goed, veral as in ag geneem word dat dit lammers van jong ooie is.  Groei tot op 100 dae was in die orde van 340g/lam/dag en dit vergelyk baie goed met groei onder gekontroleerde voerkraaltoestande.  Groei het oor die laaste 28 dae afgeneem en dit word toegeskryf aan die daling in kwaliteit van die weiding in Desember.  Hoë uitslagpersentasies van 50 % en meer is behaal en dit word toegeskryf aan die hoë natuurlike proteïeninhoud van die Superlamkorrels wat as kruipvoer gebruik is.  Die Wit Dorper kruislammers het vinniger vet aangesit as die ander twee groepe en was by ‘n ligter gewig reeds slaggereed.  A.g.v. die hoër vetheidsgraad (heelwat karkasse het graad 4 gegradeer), was die uitslagpersentasie van die Wit Dorper kruislammers die hoogste.  In kruisteling by wolskape, moet gewaak word teen wolbesoedeling van kempdraende rasse.

Die weiding het met gemak 30 ooie met lammers per ha vanaf Augustus tot Desember gedra, trouens daar was korter tydperke wat die weiding meer kon dra.  Die weikapasiteit van Mnr. Nel se veld vir hierdie tyd van die jaar is 1.5 ha per ooi met lam terwyl hy op 1.5 ha besproeide weiding 45 ooie met lammers kan dra met ‘n groei van meer as 300g/lam/dag.  Dit is nie moontlik om dieselfde groei op veld te kry nie en die risiko op veld is hoër a.g.v. wisselende klimaatsomstandighede.  In Mnr. Nel se geval is  skaapproduksie vanaf besproeide weidings dus ten minste 45-voudig méér as dié op veldweiding – dus ‘n groot potensiaal vir vertikale uitbreiding.  Wat kostes betref, is daar geweldig baie faktore wat die ontwikkelingskostes van ‘n besproeiingstelsel beïnvloed.  ‘n Riglynkoste van R28 000/ha is aanvaar en die vestigingskoste van die weiding het R4 380/ha beloop – dus ‘n totale ontwikkelingskoste van         R32 380/ha.  Aanvaar ‘n gemiddelde drakrag van 25 ooie/ha, dan beloop die ontwikkelingskoste (kapitaal) R1 295/ooi terwyl dit in die orde van R3 000/ooi is wanneer grond in Mnr. Nel se omgewing aangekoop moet word.  Vertikale uitbreiding van skaapboerdery d.m.v. besproeide weidings is dus ‘n aantreklike opsie, mits die hulpbronne dit toelaat.

Bemarkingspersentasie het ‘n geweldige groot invloed op winsgewendheid van skaapboerdery.  Data uit die praktykproef is geneem om ‘n beraming van inkomstes en kostes by verskillende bemarkingspersentasie te maak (Tabel 3).  Aangesien die groeiverskille tussen die kruisings en suiwer ras baie min is, is gemiddelde groeisyfers gebruik.

Tabel 3:  Beraming van bruto marge by verskillende bemarkingspersentasies

 

100 % Bemark                                 (R/ha)

140 % Bemark                              (R/ha)

INKOMSTE

 

 

Vleis (lammers)

30510

42714

Wol (ooie)

2417

2417

TOTAAL

32927

45131

UITGAWES

 

 

Ontwikkelingskoste

6476

6476

Kunsmis en besproeiing

2820

2820

Byvoeding

8700

11340

Veeartseny

1050

1194

TOTAAL

19046

21830

Bruto marge R/ha

13881

23301

 

By die uitgawes is ontwikkelingskoste oor vyf jaar afgeskryf en rente moet verreken word na gelang van die omstandighede van elke indiwidu.  Die beraamde bruto marge per teelooi (ná afskrywing van ontwikkelingskostes), is onderskeidelik R463 en R777 by bemarkingspersentasies van 100 en 140.  Ná afskrywing van die ontwikkelingskoste oor vyf jaar, sal die wins aansienlik styg.  Groot geleenthede bestaan dus om doeltreffendheid binne die plaasgrense te verhoog. In hierdie studie is slegs die lenteproduksie van die weiding benut wat in die orde van 50 % van die totale jaarlikse produksie is. Die werklike potensiaal van skaapproduksie op besproeide weidings is dus heelwat hoër as bogenoemde syfers.  Indien die weiding slegs met speenlammers benut word, sal die opbrengs en bruto marge waarskynlik hoër wees. 

Pryse soos van toepassing in April 2011

Navrae: Hendrik van Pletzen by 083 456 3636 of hendrikvp@mweb.co.za

 
 
 Proefooie net voor lam.  Die lammers is nog binne in die ooie.
 
 
Die foto is 4 maande later geneem.  Lammers weeg 86 % van ooimassa met speen! 

SOEK ARTIKELS

Sleutelwoord, Produk of Skrywer

TEGNIESE SPAN

DR. FRANCOIS VAN DE VYVER - Tegniese Direkteur:
Voeding, Bestuur & Kleinveeteling

Hendrik van Pletzen - Tegniese Bestuurder:
Vleisbeesbestuur, voeding, weidings, produksiestelsels en ekonomie.

Technical Manager - Tegniese Bestuurder:
Suiwel- en Pluimveevoeding, Gehaltebeheer & Produkontwikkeling

Ulrich Müller - Tegniese Bestuurder:
Voerkraal-, Wild- & Volstruisvoeding