Prikkelvoeding het ten doel om die meerlinggeboortes (fekunditeit) eerder as die besetting van 'n ooikudde te verhoog. Die aantal eiselle wat 'n ooi per hittesiklus afskei (ovulasie-tempo), bepaal die boonste limiet van die ooi se fekunditeit en dit word geneties beheer (Downing & Scaramuzzi, 1991). Die mate waarin 'n ooi haar genetiese reproduksiepotensiaal bereik, is afhanklik van omgewingsfaktore, waarvan voeding die belangrikste is (Downing & Scaramuzzi, 1991). Meer as 70 % van 'n ooikudde se reproduksietempo word deur voeding bepaal (Rowe, 2005).
Agtergrond
Volgens die tipiese vrugbaarheidsprofiel van enige ooikudde is ongeveer 5 tot 10 % van die ooie potensiaal "onvrugbaar" en sal nie lam nie. Hierdie sogenaamde "vrugbaarheids-drempel" kan slegs gedeeltelik oorkom word omdat slegs ongeveer die helfte van hierdie ooie sal lam indien hulle prikkelvoeding ontvang wat opsigself nie 'n noemenswaardige invloed op die lampersentasie sal hê nie. Afhangend van die reproduksiepotensiaal van 'n ooikudde sal ongeveer 5 tot 10 % van die ooie elke lamseisoen, ondanks die voedingstoestande, selfs in 'n droogte 'n tweeling lam. Daarenteen kan tot 50 % of selfs meer van die ooie slegs tweelinge lam indien hulle prikkelvoeding ontvang. Reproduksietempo word grootliks deur voeding en bestuur beïnvloed (Fogarty & Donnelly, 1988), waarvan voeding die grootste (> 70 %) invloed het (Rowe & Atkins, 2005).
Volgens Van Niekerk (aangehaal Vosloo, 1975) verhoog prikkelvoeding die besetting met ongeveer twee persentasie-eenhede terwyl die aantal stelle tweelinge van ongeveer 2 % tot
18 % verhoog het met 'n gevolglik 20 % verhoging in lampersentasie. Wanneer die navorsingsresultate van 50 prikkelvoedingsproewe in Australië, wat 22800 ooie insluit, saamgevoeg word, was die gemiddelde respons met lupiene as prikkelvoer -14 % tot +21 %, 'n verskil van 35 % tussen die hoogste en laagste respons. In Suid-Afrika rapporteer navorsers dieselfde variërende respons met prikkelvoeding. Van Pletzen (1990) het verskeie prikkelvoere geëvalueer. Die respons het gevarieer van -17 % tot +15 %, 'n variasie van 32 % (Tabel 1). Volgens Tabel 1 was slegs sojabone en lupiene betalend, maar dit was ook net-net. Daarenteen rapporteer Cloete (1990) slegs een persentasie-eenheid hoër lampersentasie
(102 % vs. 101 %) met lupiene as prikkelvoer wat nie koste-doeltreffend is nie.
Tabel 1 Respons met verskillende prikkelvoere (Van Pletzen, 1990)
| Prikkelvoere | Lampersentasie | Respons in vergelyking met kontrole | Gelykbreek lampersentasie |
| Kontrole (geen) | 92.8 % | 100 | 92.8 % |
| Mielies | 76.9 % | 83 | 101.0 % |
| Mielies + proteïenlek | 90.9 % | 98 | 106.0 % |
| Sjokolademielies | 100.0 % | 108 | 102.0 % |
| Sojabone | 107.1 % | 115 | 106.0 % |
| Lupiene | 107.1 % | 115 | 106.0 % |
'n Nuwe innoverende benadering tot prikkelvoeding
Tussen 2001 en 2004 het dr. Jasper Coetzee 3500 Merino-ooie van Johannes van Zyl en Cecile van der Berg van Mooiplaas in die Barkly-Oosdistrik gebruik om 10 verskillende prikkelvoere te evalueer. Geen respons (111 % vs. 111 %) in vergelyking met die kontrolegroepe (geen prikkelvoeding) is met ooie, in 'n goeie kondisie en met goeie bestuurspraktyke, verkry nie. Die prikkelvoere het onder andere sjokolademielies, deurvloeiproteïenbronne, vette, minerale, ensovoorts ingesluit. Tot op hede kon navorsers wêreldwyd nog nie hierdie "verskynsel" verklaar waarom soms 'n negatiewe, geen of 'n positiewe respons met prikkelvoeding verkry word nie. Gedurende 2005 is besluit om hierdie misterieuse "verskynsel" in dieselfde Merinokudde verder na te vors. Die ooie wat in al hierdie ondersoeke gebruik is, was in 'n goeie kondisie en goeie bestuurspraktyke is toegepas.
Na een van die mees omvattende literatuurstudies nog oor prikkelvoeding, in die soeke na 'n "prikkelfaktor," ontdek dr. Coetzee in 2005 van die waarskynlike vermiste skakels (rumenaktivators & genetiese faktor). In plaas van nog 'n lek, prikkellek, op die mark te bring, is besluit om Voermol Maxiwol Produksiekorrels, wat op daardie stadium die grootste potensiaal getoon het, op te gradeer na 'n "veeldoelige lek" deur die insluiting van hierdie spesifieke rumenaktivators. Ondersoeke sedert 2005 met die nuwe "Prototipe Prikkelkorrels" waarin 3250 ooie betrokke was, het vir die eerste keer 'n betekenisvolle en konstante respons (124 % vs. 108 %) teenoor die kontroles (geen prikkelvoeding) gegee. Die ooie wat hierdie "Prototipe Prikkelkorrels" as 'n prikkelvoer (300 g/ooi/dag), vir drie weke voor paring vir 'n periode van ses weke ontvang het, het gemiddeld 16 ekstra lammers per 100 ooie gepaar, geproduseer. Die proewe toon dat dit wel moontlik is om die lampersentasie van ooie, wat reeds in 'n goeie kondisie is en waar goeie bestuurspraktyke toegepas word, te verhoog, mits die ooie hoogs vrugbaar is en die genetiese vermoë vir meerlingovulasies het, die sogenaamde responsiewe ooie.
Verskeie navorsers is van mening dat daar in die meeste kuddes ooie is wat die potensiaal het om 'n groot respons (hoë ovulasietempo) met prikkelvoer te gee terwyl ander ooie glad nie reageer nie. Volgens Coop (1966) sal ooikuddes met verskillende inherente vrugbaarheid verskillend op prikkelvoeding reageer terwyl Lightfoot (1989) van mening is dat hoogs vrugbare rasse 'n baie groter respons met prikkelvoeding toon as minder vrugbare rasse. Daar is besluit om die sogenaamde "genetiese faktor" verder na te vors om te bepaal wat die respons is met prikkelvoeding van enkelinggebore ooie, tweelinggebore ooie en ooie wat die vorige lamseisoen tweelinglammers gelam het (Tabel 2). Merino-ooie van Johannes van Zyl en Cecile van der Berg van Mooiplaas, in die Barkly-Oosdistrik, is aanvanklik in drie hoofgroepe (enkelinggebore ooie; tweelinggebore ooie en ooie wat die vorige lamseisoen tweelinglammers gelam het) verdeel. Die onderskeie drie hoofgroepe is daarna onderling in twee subgroepe elk verdeel. Die een groep het as 'n kontrole gedien en het geen (─) prikkelvoeding ontvang nie terwyl die ander subgroep prikkelvoeding ontvang het (+). Die prikkelvoedingsgroepe het vanaf drie weke voor die paarseisoen 300 g/ooi/dag van die "Prototipe Prikkelkorrels" vir 'n ses weke periode ontvang.
Enkelinggebore ooie wat prikkelvoeding ontvang het, het 7 ekstra lammers per 100 ooie gepaar, geproduseer (109 % vs. 102 %); ooie wat as 'n tweelinggebore is, het 10 ekstra lammers per 100 ooie gepaar, geproduseer (111 % vs. 101 %) en dié wat die vorige lamseisoen aan 'n tweeling geboorte geskenk het, het 26 ekstra lammers per 100 ooie gepaar, geproduseer (149 % vs. 123 %). Dit blyk dus dat hoogs vrugbare ooie (ooie wat geboorte geskenk het aan twee- en meerlinge) meer responsief is omdat hulle beter reageer op prikkelvoeding (26 vs. 7 tot 10 ekstra lammers/100 ooie gepaar). Hierdie ooie het ook deurgaans in die ondersoeke 'n hoër gemiddelde besetting van 98 % (varieer vanaf 97 % tot 100 %) met prikkelvoeding gehad teenoor die 95 % van die ander groepe ooie. Ooie wat geen prikkelvoeding ontvang het nie se gemiddelde besetting was 93 %.
Tabel 2 Bepaling van responsiwiteit in terme van verhoging in lampersentasie van 2250 Merino-ooie vir die nuwe "Prototipe Prikkelkorrels" (Coetzee, 2008)
| Genetiese groepe | Enkelinggebore ooie | Tweelinggebore ooie | Ooie vorige lamseisoen tweeling gelam |
| Behandeling | ─ | + | ─ | + | ─ | + |
| Lampersentasie | 102 % | 109 % | 101 % | 111 % | 123 % | 149 % |
| Respons | 7 ekstra lammers/100 ooie gepaar | 10 ekstra lammers/100 ooie gepaar | 26 ekstra lammers/100 ooie gepaar |
| ─ Geen prikkelvoer + 300 g "Prototipe Prikkelkorrels" vanaf 3 weke voor lam vir ses weke |
Nuwe prikkellekke
Op grond van die resultate wat met die "Prototipe Prikkelkorrels" sedert 2005 in verskeie prikkelvoedingsproewe behaal is, is besluit om Voermol Maxiwol Produksiekorrels (V15415) en Voermol Maxiwolkonsentraat (V4985) op te gradeer deur die insluiting van verskeie spesifieke rumenaktivators. Die sogenaamde "supravoedingsbeginsel" (supranutritional) is gebruik om hierdie prikkellekke te ontwikkel. Die "supravoedingsbeginsel" berus op die voer van baie hoë vlakke van spesifieke rumenaktivators sodat die volle genetiese reproduksiepotensiaal van die ooie ontsluit kan word. Die rumenaktivators wat in Voermol Maxiwol Produksie-korrels en Maxiwolkonsentraat ingesluit is, is nie net vir die prikkeleffek nie, maar is ook tot voordeel van beide laatdragtige en lakterende ooie omdat dit beide lamoorlewing en lamgroei verhoog. Hierdie twee Maxiwolprodukte is reeds sedert 1 Maart 2009 opgradeer en is dus geskik en gereed om as prikkelvoere aangewend te word
Prikkelvoedingprosedures
Vroeë navorsing het reeds aangetoon dat ooie wat met paring in massa toeneem meer geneig is om tweelinge te produseer as dié wat massa handhaaf of massa verloor. Daarenteen neem die besetting en ovulasietempo af indien ooie kort voor die prikkelperiode massa verloor. Verder moet die ooie in 'n uitstekende kondisie (3.5 tot 4.0 kondisiepunt op 'n skaal van 5) met die aanvang van die paarseisoen wees. Navorsing deur Coop (1966) toon dat die hoogste lampersentasie verkry word deur ooie twee maande voor die paarseisoen in spaarkampe te plaas en dan vanaf drie weke voor paring vir ses weke prikkelvoeding te voer.
Op droë weiding moet teelooie vanaf drie weke voor paring vir ses weke 300 tot 400 g Voermol Maxiwol Produksiekorrels/ooi/dag as 'n prikkelvoer gevoer word. Volgens die nuutste Australiese navorsing word beter resultate behaal indien dit daagliks in plaas van een tot twee keer per week gevoer word. Geen soutlek of -klip moet gevoer word wanneer Maxiwol Produksiekorrels gebruik word nie, want dit sal onvoldoende inname van Maxiwol Produksiekorrels tot gevolg hê. Maxiwol Produksiekorrels moet nie as 'n prikkelvoer op groenweiding of brakbossies gebruik word nie en/of waar die drinkwater brak is nie omdat dit onvoldoende inname tot gevolg sal hê. In sulke omstandighede moet 'n Maxiwol-lekmengsel (250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 200 kg gemaalde mielies of garspitte + 50 kg sout) teen 300 tot 400 g/ooi/dag as 'n prikkelvoer gevoer word. Die Maxiwol-lekmengsel kan op beide droë of groenweiding as 'n prikkelvoer gebruik word.
Die gebruik van koggelramme is hoogs aan te beveel omdat dit prikkelvoeding nog meer betalend maak. Waar koggelramme gebruik word, kan die voedingspeil van die prikkelvoer op Week 7 na 250 g/ooi/dag en op Week 8 na 200 g/ooi/dag verlaag word. Laasgenoemde is onderhoudvoedingspeil en behoort voldoende vir vroeë dragtige ooie te wees indien daar voldoende weiding beskikbaar is. Die doelwit is om gedurende die eerste maand van dragtigheid die ooie se liggaamsmassa en kondisie te handhaaf. Enige massa verlies moet voorkom word, want dit kan embrio-resorpsie tot gevolg hê. Die volgende twee maande van dragtigheid (Maand 2 en 3) moet dragtige ooie ongeveer 50 tot 100 g/ooi/dag in massa toeneem. Die rede hoekom die prikkelvoedingspeil verlaag word, is omdat navorsing toon dat die hoogste lamoorlewing geskied waar ooie kort na besetting op 'n onderhoudvoedingspeil gevoer word. Indien koggelramme nie gebruik word nie, moet die prikkelvoedingspeil eers op Week 9 en 10 verlaag word.
Coop (1966) is van mening dat daar met prikkelvoeding volgehou moet word totdat ongeveer 70 % van die ooie beset is. Om prikkelvoeding dus meer koste-doeltreffend te maak, is dit hoogs aan te beveel om dit saam met koggelramme te gebruik omdat koggelramme verseker dat meer as 90 % van die ooie binne die eerste siklus (± 17 dae) op hitte sal kom. As gevolg van koggel, kom die ooie dus oor 'n korter periode op hitte en is 'n ses weke prikkelperiode (drie weke voor paring en die eerste drie weke van paring) voldoende en kan gevolglik op prikkelvoeding bespaar word. Daarbenewens is daar ook aanduidinge dat prikkelvoeding 'n oordrageffek het deurdat dit ovulasietempo vir nog ongeveer drie weke verhoog nadat dit gestaak is. As gevolg van koggel sal die meeste ooie die prikkelvoer dus in die regte stadium ontvang wat maksimum ovulasietempo sal verseker. Terselfdertyd word prikkelvoer gespaar.
Betalendheid van prikkellekke
Proewe wat sedert 2005 gedoen is, toon dat die nuwe Maxiwolgebaseerde prikkellekke betalend is. 'n Teelooi benodig ongeveer 12.6 kg prikkellek (d.i. 300 g vir 42 dae) vir 'n ses weke prikkelvoedingsperiode. Om vir die prikkelvoeding te betaal (pryse wat op 1 Maart 2009 gegeld het), moet 5 ekstra lammers vir die Maxiwollekmengsel en 6 ekstra lammers per 100 ooie gepaar vir die Maxiwol Produksiekorrels gespeen word. Die gemiddelde verhoging as gevolg van prikkelvoeding was 16 ekstra lammers per 100 ooie gepaar. Dit is 'n terugbetaling van minstens 10 lammers per 100 ooie gepaar. Dit is dus 'n wins van R67.50/ooi gepaar as gevolg van die voorsiening van hierdie nuwe prikkellek. Die terug-betaling vir die voorsiening van die nuwe prikkellek aan ooie wat die vorige lamseisoen tweelinglammers gelam het, is R135/ooi gepaar.
Om prikkelvoeding ekonomies te regverdig, is die aanbeveling dat prikkelvoeding aan die volgende ooie gevoer moet word:
Alle ooie met kondisiepunt van minder as 3.0 (op 'n skaal van 5), m.a.w. alle maer en skraal ooie asook ooie in 'n redelike kondisie.
Alle ooie indien daar onvoldoende weiding vanaf twee maande, maar veral van drie weke voor paring beskikbaar is en daar 'n groot kans is dat hulle nie in 'n uitstekende kondisie (3.5 tot 4 kondisiepunt) met die aanvang van die paarseisoen is nie.
Waar ooie in 'n uitstekende kondisie (3.5 kondisiepunt) is en daar voldoende weiding beskikbaar is om hierdie kondisie vir die paarseisoen te handhaaf, moet slegs ooie wat die vorige jaar tweeling gelam het en jongooie wat die eerste keer gepaar word, prikkelvoeding gevoer word.
Om prikkelvoeding te spaar, moet ooie reeds op die stadium wat hulle lammers gespeen word, in minstens twee groepe volgens kondisie (skraal vs. goeie kondisie) verdeel word. Die skraal ooie moet dan op beter weiding geplaas word om hulle kondisie te herwin sodat hulle met die aanvang van die prikkelvoedingperiode in 'n uitstekende kondisie (3.5 kondisiepunt) is.
Totale benadering om maksimum genetiese reproduksiepotensiaal te ontsluit
Om maksimum lampersentasie te verseker, moet teelooie se volle reproduksiepotensiaal ontsluit word. Reproduksietempo is 'n multifaktoriale eienskap. Prikkelvoeding is maar slegs een van die sleutelfaktore, hoewel 'n baie belangrike een, wat 'n rol speel om lampersentasie te verhoog. Om maksimum lampersentasie te verseker, moet 'n totale benadering gevolg word. Die resep vir 'n hoë lampersentasie behels dat die volgende aksies doelgerig uitgevoer word:
Prikkelvoeding met Voermol Maxiwol Produksiekorrels of Maxiwollekmengsel.
Om maksimum ovulasietempo te verseker, moet gesorg word dat ooie in 'n uitstekende kondisie (kondisiepunt van 3.5 op 'n vyfpuntskaal) met paring is.
Kry teelooie so swaar as moontlik met paring, want vir elke 1 kg toename in paringsmassa neem die ovulasietempo met 2 tot 2.5 % en die lampersentasie met ongeveer 1.5 tot
2 % toe totdat hulle genetiese reproduksiepotensiaal bereik is.
Jongooie moet geen massa vanaf geboorte totdat hulle die eerste keer lam, verloor nie. Verder moet jongooie met eerste paring op 12 maande ouderdom minstens 80 % en indien na 15 maande ouderdom gepaar word, meer as 90 % van volwasse massa weeg.
Inspuiting van beide teelooie en -ramme met Multimin asook Vitamien A & E.
Korrekte voorbereiding van teelramme (bv. prikkelvoeding, oefening, vrugbaarheids- en dekbehendigheidstoetsing). Gee voorkeur aan meerlinggebore ramme met 'n hoë libido.
Teelooie moet geen kontak (d.i. aanraak, sien, hoor of reuk) met enige manlike diere (d.i. ramme, ramlammers, koggelramme en bokramme) vanaf vyf weke, maar verkieslik agt weke voor paring hê nie, want dit verlaag besetting.
Gebruik van koggelramme met 'n hoë libido (bv. Afrikaner- of Afrinokoggelramme).
Geen stresvolle aktiwiteite (bv. skeer, dip, mikskeer, dosering, ensovoorts) moet korter as vier weke voor paring gedoen word nie, want dit verlaag lampersentasie met tot
7 persentasie-eenhede.
Vermy die paring van ooie op peulplantweidings (bv. lusern, klawer, medic’s, ensovoorts) waar blaarsiektes (a.g.v. swam-, bakterie- en virusinfeksies), plantluise en insekte-beskadiging of vogtekorte (bv. droogte) voorkom. In sulke omstandighede produseer die plante fito-estrogene (bv. koumestrol) wat die ovulasietempo van ooie verlaag asook 'n vertraging in die estrussiklus (m.a.w. ooie kom stadiger op hitte) tot gevolg het. Waar 'n swam (Fusarium fungi) op grasse groei, kan 'n estrogeniese mikotoksien, zearalenone, geproduseer word wat soortgelyke simptome as koumestrol het.
Waar ooie gekoggel is, beperk die paarperiode tot maksimum 28 dae, maar verkieslik net 21 dae en prul alle volwasse en jongooie wat nie in hierdie verkorte paarperiode beset raak nie.
Voorsien skaduwee gedurende paring en die eerste maand na paring indien die dagtemperature meer as 28 º C, maar veral as dit 32 º C en hoër is om embrio-resorpsie te voorkom.
Vermy alle stresfaktore (bv. oormatige hantering, massa- en kondisieverlies, siekte-toestande, ensovoorts) gedurende paring en die eerste maand na paring om embrio-resorpsie te voorkom.
Selekteer vir hoë vrugbaarheid omdat hoogs vrugbare ooie die beste en die mees koste-doeltreffende respons met prikkelvoeding gee. Indien die doelwit is om 'n hoogs vrugbare ooikudde te ontwikkel, moet die top 10 % ooie (* = uitstaande ooie) met die hoogste BLUP-teelwaarde vir TWW (total weight of lamb weaned) in 'n elite ooikudde saamgevoeg word. Indien hierdie BLUP-teelwaarde nie bekend is nie, moet alle ooie wat bogemiddelde tweelinge speen (nie dié wat klein en boepenslammers het nie) in hierdie elite ooikudde saamgevoeg word. Hierdie ooie moet dan gepaar word met tweelinggebore ramme met 'n hoë libido en wat in die top 10 % val wat BLUP-teelwaarde vir TWW aanbetref. Indien hierdie teelwaarde nie bekend is nie, gebruik ramme wie se ma al hulle tweelinglammers tot speen suksesvol grootgemaak het. Die beste ramme wat in hierdie elite kudde gebore word, moet dan op die res van die ooie gebruik word om hulle nageslag se vrugbaarheid te verhoog.
Skandering van teelooie en uitskot van ooie wat nie lam nie of nie 'n lam speen nie.
Volg 'n doeltreffende ent- (bv. immuniseer vir ensoötiese aborsie en gebruik multi-klostridiale entstowwe) en doseerprogram.
Ooie moet die eerste twee maande van laktasie, d.i. ses maand voor paring nie meer as
10 % van hulle liggaamsmassa verloor nie omdat dit tot 'n lae lampersentasie in die daaropvolgende lamseisoen aanleiding sal gee. Volgens Fletcher (1974) is daar 'n betekenisvolle verskil tussen die ovulasietempo (aantal eiselle afgeskei) van ooie wat ses maande vantevore 'n periode van voedingsbeperking ondergaan het en dié wat voldoende voeding ontvang het. Hierdie verskynsel kom voor ten spyte daarvan dat die ondervoede ooie die massaverskil een maand voor paring uitgewis en hulle dieselfde geweeg het as die ooie wat voldoende voeding ontvang het. Fisiologiese bewyse hiervoor bestaan deurdat Cahill en Mauleon (1980) aangetoon het dat dit ongeveer ses maande neem vanaf 'n follikel (eisel) in die eierstokke (ovaria) begin groei en ontwikkel totdat dit gereed is vir ovulasie en bevrugting deur die ram se spermsel.
Samevatting
Met sy nuwe innoverende benadering het dr. Coetzee daarin geslaag om 'n unieke prikkellek te ontwikkel om lampersentasie op 'n koste-doeltreffende wyse te verhoog. Na hulle opgradering is Voermol Maxiwol Produksiekorrels en Maxiwolkonsentraat nou 'n veeldoelige lek omdat dit nou met groot welslae as 'n prikkellek sowel as vir laatdragtige en lakterende ooie gebruik kan word. Om maksimum lampersentasie te verseker, moet 'n "totale benadering" gevolg word deur die uitvoering van al die aksies wat nodig is om teelooie se maksimum genetiese reproduksiepotensiaal ten volle te ontsluit.
Erkenning
Erkenning word met dank verleen aan Johannes van Zyl en Cecile van der Berg van Mooiplaas in die Barkly-Oosdistrik vir die beskikbaarstelling van hulle Merino-ooikudde sedert 2001 asook die uitvoering van die daaglikse proefprosedures en die insameling van die proefresultate.
Vir verdere inligting oor prikkelvoeding skryf aan dr. Jasper Coetzee, Voermol Voere, Posbus 13, Maidstone 4380 of stuur 'n e-pos aan info@voermol.co.za