Jaarliks word daar groot getalle wild in aanhouding gehou. Die wild is gewoonlik erg gestres en voeding is een van die sake wat aandag moet geniet.
Om verliese tot ʼn minimum te beperk is dit belangrik dat aanhoudingskrale en bomas reg ontwerp en gebou is. Die konstruksie moet van so ʼn aard wees dat wild nie kan ontsnap nie en nie eers poog om te ontsnap nie. Wild wat onlangs gevang en vervoer is, is gestres en sal poog om te ontsnap. Om stres tot ʼn minimum te beperk is dit belangrik dat vars voer en water in die aanhoudingskraal of boma geplaas word voordat die wild arriveer.
Meeste wild vreet vanaf die grond, die voorsiening van hooirakke en voerbakke is dus onnodig en is onnodige obstruksies en kan tot onnodige beserings aanleiding gee. Indien voerbakke voorsien moet word, gebruik bakke wat uit hout of sement/beton vervaardig is. Die waterbak moet so geplaas word dat ʼn gedeelte tot buite die boma of hok gaan. Plaas voer in die middel van die hok, weg van die kante. Wild beweeg baie teen die kante en sal die voer vertrap. Met reiniging kan die water dan na buite gedreineer word en kan die bak van buite of skoongemaak word. Diere sal ʼn paar dae neem om te bedaar en dan eers in water of voer belangstel. Diere sal dus eers begin vreet nadat hulle begin om water te suip. Vars en koel dringwater en smaaklike voer is uiters belangrik. Hoe vinniger die wild begin vreet hoe beter word die stres gehanteer en hoe vinniger pas die wild aan en bedaar. Voorsien slegs smaaklike hooi soos lusern, tef , smutsvinger of goed bemeste eragrostis. Begin altyd eers met hooi, dit is natuurlik en wild sal dit vinniger begin vreet. Sodra wild bedaar en goed hooi vreet, kan met die voer van korrels of ander voer begin word. Goeie kwaliteit hooi het ʼn groen tot bruin kleur, is bros, nie stowwerig nie, ewekleurig en is nie gemuf nie. Sodra diere begin vreet, herkou, mis en urineer is dit ʼn goeie aanduiding dat die wild begin aanpas. ʼn Rustige atmosfeer is baie belangrik. Persone wat voer moet rustig te werk gaan sodat die wild aan so ʼn persoon gewoond kan raak.
Die opbouing van mis en urine is ongewens, veral tydens reën. Dit besoedel die voer en veroorsaak dat wild nie vreet nie. Hokke moet dus gereeld skoongemaak word. Die ideaal is om van aangrensende hokke gebruik te maak sodat wild verskuif kan word.
Inspekteer wild gereeld. Wild wat nie vreet nie, wys “honger holtes” moet verkieslik in aparte hokke geplaas word. Dikwels verlaag dit die stres faktore en begin die wild vreet.
Herkouers word geklassifiseer in blaar-, grasvreters en beide blaar- en grasvreters. Blaarvreters soos kudu’s en kameelperde moet aanvanklik blaarryke takke gevoer word. Eers as hulle dié goed vreet sal hulle begin om lusern of ander smaaklike hooi te vreet. Ou takke en voer moet gereeld verwyder word.
Grasvreters sal gewoonlik vinniger aan die hooi begin vreet. Sodra die hooi inname goed is en die diere herkou. Kan met die voer van wildkorrels begin word.
Voer van wild
Voer klein hoeveelhede twee- of driekeer per dag. Sodoende is voer vars en vind daar nie onnodige ophoping van voer plaas nie. Waak teen die voer van groot hoeveelhede voer. Ou voer is onsmaaklik, kan begin muf en kan laksering veroorsaak. Laksering word veroorsaak deur te hoë voerinname van korrels of gemufde voer. Indien diere lakseer, verlaag hoeveelhede korrels en voer meer hooi.
Hardlywigheid is dikwels ʼn probleem en word veroorsaak deur die voorsiening van swak
kwaliteit hooi, ʼn proteïen tekort of siekte toestand. Diere wat hardlywig is, vreet nie. Voorsien melassestroop of melassemeel teen sowat 100g/50kg liggaamsmassa. Melasse is hoog in Kalium en lakserend van aard. Teveel melasse sal diere laat lakseer.
-
Voorsien altyd vars, koel en skoon drinkwater. Wateroplosbare vitamines en elektroliete kan oorweeg word om eetlus te stimuleer.
Voorsien goeie kwaliteit hooi. Dit is smaaklik en sal voerinname bevorder.
Antilope wild is herkouers, gevolglik sal die uitsit van proteïenblokke eetlus verder stimuleer en die benutting van ruvoer bevorder. Gebruik proteïenblokke met ʼn lae (minder as 10%) tot geen ureum.
Monitor voerinname. Diere wat nie vreet nie, moet verkieslik in aparte en kleiner groepe aangehou word. Sodoende is daar minder kompetisie en sal diere vinniger begin vreet.
Voere om te oorweeg
Onderstaande tabel gee die basiese samestelling van voere wat oorweeg kan word vir die voer van wild. Dit is belangrik dat die dieet (al die voer wat die dier in ʼn dag vreet) wat die wild inneem gebalanseerd is t.o.v. proteïen, energie, minerale, spoorminerale en vitamines. Kragvoer en lekke moet altyd saam met ruvoer (hooi of weiding) gevoer word. Kragvoer moet volgens voorskrif in beperkende hoeveelhede gevoer word.
Tabel 1: Tipiese samestelling van voere, op ʼn “soos gevoer” basis.
| Voer | Proteïen | Vesel | Energie | Kalsium | Fosfor |
| | % | % | % TVV | % | % |
| Lusern | 15 | 29 | 55 | 1.2 | 0.26 |
| Tef | 8 | 32 | 55 | 0.33 | 0.13 |
| Smutsvinger | 9 | 32 | 52 | 0.25 | 0.22 |
| Veldgras (winter hoëveld) | 4 | 40 | 45 | 0.35 | 0.06 |
| Mieliemeel | 8 | 3 | 82 | 0.03 | 0.25 |
| Melassemeel * | 4 | 10 | 65 | 0.8 | 0.1 |
| Droogtevoer * | 10 | 20 | 55 | 0.8 | 0.2 |
| Wildvoer * | 14 | 20 | 65 | 0.8 | 0.3 |
| Voermol Super 18 * | 18 | 10 | 56 | 0.8 | 0.6 |
*Kommersiële produkte bevat spoorminerale en Vit. A.
Die droogtevoer se samestelling is min of meer die voedings behoefte vir onderhoud.
Verwysing: J.du P. Bothma. Game Ranch Management, 4th Edition, 2002.
Rig navrae aan: Ulrich Müller, sel: 083 – 414 5928, e-pos: utm@mweb.co.za