DRAMATIESE VERHOGING VAN LAMPERSENTASIE MOONTLIK

  DRAMATIESE VERHOGING VAN LAMPERSENTASIE MOONTLIK

Voermol Voere

Hoe kan lampersentasie betekenisvol verhoog word?

·      Deur die gelyktydige toepassing van die korrekte en doeltreffende bestuur-, voeding-, seleksie- en telingspraktyke kan lampersentasie reeds met die volgende lamseisoen dramaties verhoog word. Met seleksie vir vrugbaarheid kan maksimum 2 % vordering per jaar gemaak word (Land, 1979), maar die gelyktydige toepassing van voorgenoemde praktyke kan die lampersentasie, afhangend van hulle huidige lampersentasie en die reproduksiepotensiaal van die ooie, met tot 20 – 36 % of meer verhoog word (Hunt, 2010).

Vervangingsooie

·      Met speen moet die klein en boepenslammers asook dié met definitiewe prulfoute geprul word. Maak soveel as moontlik ooilammers groot; paar almal; skot alle droë jongooie na skandering uit; klas die dragtige jongooie eers na skandering op grond van bouvorm- en woleienskappe en skot dié wat nie aanvaarbaar is nie uit totdat op getal is.

·      Om vrugbaarheid en tweelinggeboortes by jongooie te maksimeer, moet toegesien word dat jongooie hulle kritieke paringsmassa [80 % van volwasse massa (Graaf, 2010) met paring op 12 maande en jonger en 90 % as hulle ouer as 12 maande is] bereik. Ooilammers moet vanaf speen tot eerste paring 'n kragvoeraanvulling (700 kg gemaalde mielies of garspitte + 200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel) teen so 'n peil ontvang dat hulle hul teikenparingsmassa met eerste paring bereik.

·      Paar jongooie in 'n aparte trop met 4 % ervare ramme.

Teelramme

·      Gee voorkeur aan ramme wie se moeders die meeste lammers per lamkans gespeen het; hulle moeders se OPI moet positief wees, hoe groter hoe beter terwyl die geselekteerde ram se TWW-waarde ook positief moet wees, hoe groter hoe beter (Brynard, 2010).

·      Spuit ramme drie maande voor die paarseisoen met Multimin asook Vitamien A en E.

·      Voer teelramme vanaf twee maande voor die paarseisoen hoë vlakke deurvloeiproteïen om testisgroei en spermproduksie te maksimeer en ramme in 'n uitstekende kondisie te kry. Voer teelramme Voermol Superlamkorrels of 'n SS 200-gebaseerde aanvulling (575 kg gemaalde mielies of garspitte + 200 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel) teen 500 tot 1 500 g/ram/dag op voldoende weiding of saam met ad lib. lusernhooi. Doseer ramme twee tot drie keer per week 25 ml koringkiemolie.

·      Vermy die gebruik van oorvet en onfikse ramme deur hulle vanaf twee maande voor die paarseisoen te oefen om hulle topfiks te kry.

·      Toets teelramme vier tot ses weke voor die paarseisoen vir vrugbaarheid, geslagsiektes en dekbehendigheid. Doseer hulle terselfdertyd met 'n doeltreffende doseermiddel en ent hulle met 'n multiklostridiale entstof.

·      Toekenning van te veel ooie aan 'n ram kan tot 'n verlaging van die getal tweelinge aanleiding gee. Waar drie ramme per 100 ooie gebruik is, was die speenpersentasie 8 % hoër as waar slegs twee ramme/100 ooie gebruik is.

·      Die ideale wollengte met die aanvang van die paarseisoen is drie tot vier maande wolgroei (Graaf, 2010).

Teelooie

·      Prul alle droë ooie asook dié wat lam maar nie 'n lam speen nie. Dié met lae OPI-syfers moet ook uitgeskot word (Brynard, 2010).

·      Om die hoogste lampersentasie te verseker, moet teelooie in 'n uitstekende kondisie (minstens 3.5 kondisiepunt) wees asook in massa toeneem met die aanvang van die paarseisoen.

·      Die kondisie van die ooie met die aanvang van die paarseisoen is die belangrikste bepalende faktor van reproduksietempo van ooie (Hunt, 2010). Energie (oftewel vetheid) "dryf" reproduksie (Adams et al., 2005), m.a.w. hoe beter die kondisie van die teelooie met paring, hoe hoër is die lampersentasie (Ferguson et al., 2007)Soos die kondisiepunt van teelooie van 2.7 na 3.3 verbeter het, het die skandeerpersentasie van 103 % na 130 % toegeneem (AWI, 2009). Ooie wat 55 kg met paring geweeg het, het 'n 45 % hoër ovulasietempo gehad as dié wat 40 kg geweeg het terwyl dit met nog 11 % kan toeneem indien hierdie ooie in massa toeneem met die aanvang van die paarseisoen (Rowe, 2003). Vir elke 1 kg wat 'n ooi swaarder met paring is, neem die lampersentasie met ± 1.5 tot
2.5 % toe (Downing & Scaramuzzi, 1991).

·      Optimale voeding van die teelooi is die heel belangrikste faktor wat 'n hoë lampersentasie verseker (Hunt, 2010). Meer as 70 % van 'n skaapkudde se reproduksieprestasie word deur voeding bepaal (Rowe, 2005). Nuutste navorsing toon dat dit ekonomiese geregverdig is om alle ooie wat die vorige lamseisoen tweelinge gelam het, ongeag hulle kondisie, asook jongooie vanaf drie weke voor die paarseisoen vir minstens ses weke prikkelvoeding te gee. Die res van die teelooie word slegs prikkelvoeding gegee indien hulle skraal (kondisiepunt van minder as 3) is. Die beste prikkellek (300 tot 400 g/ooi/dag) is Voermol Maxiwol Produksiekorrels, maar die ander Maxiwolprodukte gee ook goeie resultate.

·      Spuit ooie ongeveer vier weke voor die paarseisoen met Multimin asook Vitamien A en E; doseer met 'n doeltreffende doseermiddel en ent met 'n multiklostridiale entstof (indien enting slegs eenmaal per jaar geskied, moet dit in laatdragtigheid gedoen word).

·      Om embrionale resorpsie en fetale afsterwing te voorkom, moet teelooie nie gehanteer word vir die eerste maand nadat die ramme uitgehaal is nie.

Koggelramme

·      Deur die teelooie vir nege dae voor die paarseisoen met hoë libido-koggelramme (bv. Afrikaners, Afrino's, ensovoorts) te koggel, kan die meerlinggeboortes betekenisvol verhoog word omdat hulle die ooie tot hoër ovulasietempo stimuleer. Waar Merino-ooie in die lente voor die paarseisoen met Afrikanerkoggelramme gekoggel is, is die meerlinggeboortes met gemiddeld 19 tot 21 % (King et al., 1989) verhoog en wanneer hulle in die herfs gekoggel is, was die verhoging 14.4 % (King, 1994).

Het voeding van lakterende ooie 'n invloed op lampersentasie?

·      Dit blyk dae goeie voeding gedurende laktasie 'n oordrageffek het wat die daaropvolgende lampersentasie verhoog (Jefferies, 1984). Onvoldoende voeding van lakterende ooie gedurende die eerste twee maande na lam wat meer as 10 % liggaamsmassaverlies tot gevolg het, is waarskynlik een van die belangrikste redes vir 'n lae lampersentasie in Suid-Afrikaanse skaapkuddes. Volgens Curnow (1987) begin 'n ooi se hittesiklus die volgende teelseisoen al hoe later hoe meer massa sy na lam, veral die eerste ses weke van laktasie, verloor.

Kunsmatige verhoging van lampersentasie

·      Lampersentasie van ooie kan dramaties verhoog word deur die ooie met vaginale sponse te sinchroniseer en dan DMS met sponsonttrekking te spuit. Aangesien te hoë dosisse DMS tot ongewenste getalle drie-, vier- en selfs vyflinge aanleiding kan gee, moet dit met omsigtigheid gedoen word en moet die dienste van 'n kundige veearts gebruik word.

·      Waar sponse en DMS gebruik word, gaan die ooie oor 'n baie kort tyd op hitte kom. Die beste is om hierdie ooie kunsmatig te insemineer of indien genoeg ramme beskikbaar is, kan handdekking gedoen word.

·      Die verhoging in lampersentasie wat met sponse en DMS bewerkstellig word, is nie permanent nie, met ander woorde dit moet elke paarseisoen gedoen word anders keer dit weer terug na die vlak waar dit was.

Algemeen

·      Indien die lampersentasie drasties verhoog word, moet 'n hoë bestuur- en voedingspeil te alle tye gehandhaaf word en is dit hoogs aan te beveel om lamhokke te gebruik.

·      Skakel die plaaslike veearts oor die immunisering van ooie teen Ensoötiese Aborsie en Slenkdalkoors.

·      Indien die ooie die eerste maand nadat die ramme uitgehaal is nie hulle massa handhaaf nie, moet 'n produksielek verskaf word.

·      Die hoogste besetting en meerlinggeboortes word verkry indien die ooie gedurende die aktiewe geslagseisoen (Maart – April) gepaar word (Hunt, 2010). Waar buite die aktiewe geslagseisoen gepaar word, is die gebruik van koggelramme en prikkelvoeding ononderhandelbaar om 'n hoë lampersentasie te verseker.

·      Indien die besetting van die ooie minder as 90 % is, moet ondersoek onverwyld na moontlike vrugbaarheidsprobleme ingestel word (Hunt, 2010).

·      Met speen van die lammers moet ooie op grond van hulle kondisie in twee groepe (skraal en goed) verdeel word. Die skraler ooie (kondisiepunt van minder as 3) moet in 'n aparte trop op beter gehalte weiding geplaas word om te verseker dat hulle in 'n goeie kondisie (minstens 3) met paring is (Hunt, 2010).

·      Ooie moenie korter as vier weke voor die paarseisoen geskeer word nie omdat dit tot 'n laer lampersentasie aanleiding kan gee.

 

Daar is verskeie strategiese en praktiese riglyne wat skaapprodusente kan volg om
'n hoë lampersentasie volgende lamseisoen te verseker (Hunt, 2010).

 

 

 

SOEK ARTIKELS

Sleutelwoord, Produk of Skrywer

TEGNIESE SPAN

Hendrik van Pletzen - Tegniese Bestuurder:
Vleisbeesbestuur, voeding, weidings, produksiestelsels en ekonomie.

Technical Manager - Tegniese Bestuurder:
Suiwel- en Pluimveevoeding, Gehaltebeheer & Produkontwikkeling

Ulrich Müller - Tegniese Bestuurder:
Voerkraal-, Wild- & Volstruisvoeding

Voermol - Tegniese Direkteur:
Voeding, Bestuur & Kleinveeteling