Dolf Bam Boeredaglesings: 29 Junie 2011: Lamhokke

 

DRASTIESE VERHOGING IN SPEENPERSENTASIE MOONTLIK MET LAMHOKKE

Hoë lamvrektes word allerweë as 'n knelpunt in die kleinveebedryf beskou en is een van die belangrikste oorsake van die lae winsgewendheid van skaapboerdery. Volgens Wassmuth et al. (2001) is die omvang van lamverliese 'n maatstaf vir die gehalte van die produsent se bestuursvermoë. Lamhokke kan as 'n strategiese bestuurshulpmiddel gebruik word om lamvrektes tot minder as
5 % te beperk. 

 Lamvrektes is een van die grootste oorsake van ondoeltreffende skaapboerdery en het groot ekonomiese implikasies. Die meeste lamvrektes vind gedurende die eerste drie dae na geboorte plaas en kan so hoog as 20 % of selfs meer wees. Opnames toon dat vrektes onder meerlinge tot 1.5 – 3.0 keer meer is as by enkelinge wat beklemtoon dat meerlinge spesiale toesig en bestuur vereis. Meerlinglammers speel 'n uiters belangrike rol in die winsgewendheid van skaapboerdery omdat hulle die reproduksietempo van die ooikudde verhoog.

Vroeë lamoorlewing is 'n komplekse eienskap wat beïnvloed word deur die ooi se moedereienskappe, die lam se lewenskragtigheid en vermoë om te oorleef asook die bestuurspraktyke en die omgewingstoestande (bv. koue, hitte, reën, wind, ensovoorts) tydens die lam se geboorte (Morris et al., 2000: Southey et al., 2001). Die feit dat bestuurspraktyke en omgewingstoestande 'n groot invloed op lamvrektes het, dui op die potensiaal dat aansienlike verbetering in lamoorlewing moontlik is indien bestuurspraktyke rondom lamtyd verbeter word (Sawalha et al., 2007).

Lamhokke word al van die vroegste tye gebruik, maar dit is vroeër jare slegs vir "probleem-gevalle" (bv. ooie wat lammers weggooi) en vir beskerming teen elemente (bv. uiterste koue, sneeu, ensovoorts) gebruik. Die belangrikste rede egter hoekom om ooie lammers weggooi, is omdat hulle nie voldoende biesmelk met die geboorte van die lam het nie weens 'n deurvloeiproteïentekort. Dit was eers gedurende die tagtigerjare toe lamhokke werklik op groot skaal (weens hoë wolpryse) in die bedryf gebruik is. Met die lae wolpryse gedurende die negentigerjare het lamhokke weer in onguns verval. Weens die hoë vleispryse is daar tans (2010) weer groot belangstelling in lamhokke en 'n moontlike bydraende faktor is die hoë voorkoms van ongediertes.

Voordele van die gebruik van lamhokke

Die gebruik van lamhokke hou die volgende voordele in:

 
(1)  Die feit dat lamhokke die binding tussen die ooi en haar lam(mers) bevorder, dra grootliks daartoe by dat lamvrektes tot minder as 5 % beperk kan word, mits die korrekte en 'n goed gebalanseerde rantsoen gevoer word. Waar ooie met hulle lam(mers) kort na geboorte in lamhokke gesit is, was die lamvrektes slegs 3 % teenoor die 12 tot 23 % waar ooie in kampe gelam het (Putu et al., 1988a, b).

(2)   Lamhokke vergemaklik bestuur en toesig gedurende lamtyd en probleemgevalle kan spesiale aandag kry wat lamoorlewing bevorder.

(3)   Lamhokke bevorder lamoorlewing tydens ongure weersomstandighede asook vir ooie met meerlinge en jongooie wat vir die eerste keer lam. Met die lamhoklamstelsel moet ooie dus vir dragtigheid en die aantal fetusse geskandeer word.

(4)   Lamhokke bevorder akkurate rekordhouding wat op sy beurt weer teelvordering versnel. Volgens dr. George Anderson van Australië is ongeveer 9 % van enkelinge, 15 % van tweelinge en 24 % van drielinge se stamboominligting onder Australiese toestande onakkuraat. Die grootste rede hiervoor is weens die hoë voorkoms van lamdiefstal veral waar hoë konsentrasie ooie in lamkampe aangehou word. Lamhokke verhoed die inmenging met en lamdiefstal van lammers van ooie wat besig is om te lam of wat pas gelam het deur ooie wat op die punt is om te lam.

(5)   Lamhokke verhoed dat een van 'n tweeling van die geboorteplek wegdwaal of nie saam met sy ma stap nie en so van sy ma geskei word. Voorspeense lamvrektes is baie hoog by lammers wat op dié manier van hulle moeders geskei word. Slegs ongeveer 32 % van sulke lammers oorleef in die praktyk (Anderson, 1984). Volgens Nowak (1996) kan tot 40 – 50 % van tweelinge van hulle moeders, in die geval van Merino's, binne die eerste 48 uur na geboorte, geskei word omdat hulle haar nie volg as sy wegstap nie.

(6)   Lamhokke maak dit makliker om ooie te identifiseer wat geboorte skenk aan dooie lammers; met geboorte gehelp moet word; lam(mers) weggooi; min of geen melk het nie; speenprobleme het, ensovoorts. Beide hierdie ooie en hulle lammers moet gemerk en uitgeskot word en nie vir verdere teling gebruik word nie.

(7)   Lamhokke verhoed dat ongediertes pasgebore lammers vang.

Algemene riglyne vir lamhoklamstelsel

Met hierdie stelsel word die ooie, nadat hulle gelam het, individueel in lamhokke met hulle lammers geplaas om hulle teen ongure weer (koue, wind, reën en hitte); ongediertes en lamdiefstal deur nabylamooie te beskerm. Waar ooie met sponse gesinchroniseer is, word hulle reeds ongeveer sewe dae voor lam individueel in die lamhokke geplaas om in die lamhokke te lam. Die lamhoklamstelsel word meestal gebruik op relatief klein plase met 'n hoë konsentrasie ooie (bv. besproeide aangeplante weiding); tydens droogtes wanneer daar in elk geval gevoer moet word; waar baie ooie gelyktydig lam (bv. sinchronisasie met sponse); rasse met hoë fekunditeit (meerlinggeboortes); gedurende seisoene met ongure weersomstandighede; hoë lamvrektes voorkom; baie waardevolle ooie en waar lammers individueel genommer moet word.

Die grootte van die lamhokke hang van die grootte van die ooie en die aantal lammers af. Die lamhokke is ongeveer 1.4 m wyd en die lengte varieer van 1.4 tot 1.8 m met 'n hoogte van 1.0 tot 1.2 m. Lamhokke moet sodanig wees dat lammers nie na aangrensende ooie kan deurkruip nie. Dragtige ooie word in kampe naby die lamhokke gehou. Die ooie moet verkieslik vir ten minste vier tot ses uur met hulle lammers alleen gelaat word om die vorming van 'n sterk band te bevorder voordat hulle in die lamhokke geplaas word. Wanneer die ooie in die lamhokke gesit word, moet seker gemaak word dat die ooie se spene "oop" is. Die lamhoklamstelsel vergemaklik die toesighouding en identifisering van ooie en hulle lammers. Hoewel die stelsel arbeidintensief is, beperk dit lamvrektes (behoort minder as 5 % te wees). Vier-en-twintig uur voltydse toesig, veral in die geval van waardevolle stoetdiere, moet sterk oorweeg word met 'n stelsel waar aansporingbonusse aan arbeiders betaal word vir elke lam wat gespeen word. Indien 24 uur toesig nie moontlik is nie, kan ooie alreeds kort voor lam (7 dae of korter voor lam) in die lamhokke gesit word. Indien hierdie praktyk gevolg word, moet die lamhokke groot genoeg wees sodat die ooie met gemak daarin kan lam. Indien die ruimte te beknop is, bestaan die gevaar dat ooie die lammers kan beseer of selfs doodlê. Daar moet ook toegesien word dat die nageboortes uit die lamhokke verwyder en begrawe word. Waar ooie in lamhokke lam, word hokke soms baie nat as gevolg van die ooie se vrugwater wat tydens die lamproses vrygestel word en daarom moet droë beddegoed (bv. strooi) gereeld in die lamhokke gegooi word.

Afhangende van watter variasie van die lamhoklamstelsel gevolg word (alle ooie word in lamhokke geplaas, slegs ooie met tweelinge of slegs probleemgevalle), en/of die ooie gesinchroniseer is met koggelramme of sponse, is die aantal lamhokke wat benodig word minstens 20 tot 40 % van die aantal ooie gepaar (Henderson, 1990). Lamhokke moet skoon en droog gehou word deur gereeld skoon strooi in te gooi en na gebruik moet dit ontsmet word. Henderson (1990) beveel die strooi van gebluste kalk (CLC boukalk oftewel kalsiumhidroksied) op die vloer van die kraaltjies voordat die strooi ingegooi word om die opbou van kieme te beperk. Die lammers se naelstringe moet ook deeglik ontsmet word (verkieslik 'n jodiumbevattende middel) voordat hulle in die lamhokke geplaas word of onmiddellik na geboorte as hulle in die lamhokke lam. Om infeksies (bv. rugmurgontsteking) te voorkom, moet sterte nie afgesit word en kastrering nie gedoen word terwyl die lammers nog in die lamhokke is nie. Hoewel die lamhokke goed geventileer moet wees om longprobleme te voorkom, moet dit die lammers teen koue, wind en reën beskerm. Indien sinkplate as 'n dak oor die lamhokke gebruik word en dit so laag is dat dit die ventilasie op sonnige dae belemmer, kan lamvrektes as gevolg van hitte-uitputting voorkom. Die beheer van vlieë in die lamhokke is belangrik om die verspreiding van sekere siektes te voorkom.

Voedingsprogram vir lamhoklamstelsel

Waar die lamhoklamstelsel gebruik word, moet ooie met tweelingfetusse vanaf ses weke en dié met enkelingfetusse vanaf vier weke voor lam op die volledige Lammerooirantsoen, wat hulle in die lamhokke gaan ontvang, aangepas word. Daar moet met 500 g/ooi/dag van die Lammerooirantsoen begin word en dit moet dan weekliks met 250 g/ooi/dag verhoog word sodat, op die tydstip wat die laatdragtige ooie na die lamhokke gaan, dié met enkelingfetusse ongeveer 1.0 tot 1.5 kg en dié met meerlingfetusse ongeveer 1.5 tot 2.0 kg/ooi/dag daarvan vreet. Afhangend van die ooie se kondisie, massa en die aantal fetusse is die maksimum voerinname in die lamhokke van laatdragtige ooie kort voor lam ongeveer 2.5 tot 3.0 % van liggaamsmassa en dié van ooie wat reeds gelam het ongeveer 3 tot 4 %. Sodra met die Lammerooirantsoen begin word, moet alle lekbyvoeding gestaak word. Wanneer die Lammerooirantsoen gevoer word, moet daar altyd voldoende vreetspasie (langwol ooie:  ± 450 – 500 mm/ooi; kortwol ooie: ± 400 – 450 mm) wees sodat al die ooie gelyktydig kan vreet. Voorbeelde van 'n volledige Lammerooirantsoen, wat in 'n gemaalde formaat verskaf word, word in die onderstaande tabel verskaf. Aangesien hierdie rantsoene ureum bevat, moet die maksimum inname van elke rantsoen nie oorskry word nie anders kan dit tot ureumvergiftiging aanleiding gee. Resepte vir rantsoene met ander grondstowwe of vir rantsoene in korrelvorm is op aanvraag beskikbaar. Skoon drinkwater moet te alle tye vrylik beskikbaar wees.
 

Grondstowwe

Gemaalde volledige Lammerooirantsoene*

Maks. inname 1.5 kg/ooi/dag

Maks. inname 2.5 kg/ooi/dag

Maks. inname 3.5 kg/ooi/dag

Gemaalde lusern (25 mm)

375 kg

375 kg

375 kg

Gemaalde mielies

350 kg

350 kg

350 kg

Voermol Maxiwol

200 kg

150 kg

100 kg

Voermol Procon

50 kg

100 kg

Voermol Melassemeel

40 kg

40 kg

40 kg

TOTAAL

965 kg

965 kg

965 kg

 
* Voer ooie met 1-lingfetusse ± 2.5 % en dié met 2-lingfetusse ± 3 % van liggaamsmassa
* Voer ooie met 1-linglammers ± 3 % en dié met 2-linglammers ± 4 % van liggaamsmassa



Uitplasing van ooie en lammers

Ooie met hulle lammers behoort vir ten minste twee dae, maar verkieslik drie tot vyf dae in die lamhokke gehou te word. Dit duur tussen 48 en 60 uur vir die lam en die ooi om volledig te bind. Indien ooie nie hulle lammers aanvaar nie, lammers nog swak is of enige ander probleme wat aanleiding kan gee tot lamvrektes as hulle uitgeplaas word, moet hulle langer in die lamhokke gehou word. Die aanbevole prosedure is om die ooie met hulle lammers uit te plaas sodra die ooie hulle lammers aanvaar en die lammers dik gesuip is. Dit is normaalweg ongeveer twee tot drie dae in die geval van enkelinge en ongeveer drie tot vyf dae in die geval van twee- en meerlinge. Die ooie word na uitplasing 'n paar dae lank in klein troppies gehou en dan geleidelik na groter troppe geskuif. Dit word gedoen om die ooie en lammers geleidelik gewoond te maak aan 'n hoë konsentrasie diere per kamp en om te verhoed dat daar verwydering tussen ooie en lammers ontstaan wat tot lamvrektes aanleiding kan gee. In die geval van enkelinge word gedurende die eerste 5 tot 7 dae ongeveer 10 ooie in kamp gesit; 20 ooie die volgende 5 tot 7 dae; 40 ooie die volgende 5 tot 7 dae en daarna verkieslik nie meer as 100 ooie per kamp nie. In die geval van tweelinge is die onderskeie getal ooie per kamp 5; 10; 20 en 35 tot 50. In enige lamstelsel behoort daar nooit meer as 200 tot 250 lammers en hulle moeders in 'n kamp te wees nie.

In die lamhoklamstelsel is dit maklik om ooie met enkelinge en meerlinge te skei en word dit ook so aanbeveel. Na uitplasing moet die lammerooie daagliks besoek word sodat aandag onverwyld aan probleemgevalle geskenk kan word. Indien voldoende groenvoer beskikbaar is, kan na uitplasing oorgeskakel word na ‘n hoë deurvloeiproteïenlek (250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 200 kg gemaalde mielies of heel gars + 50 kg sout) of Voermol Maxiblok. Indien lae gehalte en/of onvoldoende weiding na uitplasing beskikbaar is, moet met die byvoeding van die volledige Lammerooirantsoen voortgegaan word. Byvoeding moet nooit onmiddellik gestaak word nie, maar moet geleidelik uitfaseer word.

Seleksie in lamhokke

Produsente is dikwels bekommerd dat die gebruik van lamhokke tot gevolg sal hê dat ooie mettertyd swak moedereienskappe sal ontwikkel. Dit kan egter voorkom word deur reeds te begin selekteer teen ooie wat swak moedereienskappe toon vandat die ooie en die lammers in die lamhokke geplaas word. Minder lewenskragtige lammers moet ook met 'n knippie in die oor vir bemarking geïdentifiseer word om sodoende te verseker dat die kudde lewensvatbaar bly. In alle lamstelsels moet gediskrimineer word teen ooie wat moeilik lam (geboorteprobleme); met geboorte gehelp moet word; geboorte skenk aan dooie lammers; lam(mers) weggooi (al gooi hulle net een van 'n tweeling weg); min of geen melk het nie; speenprobleme het, ensovoorts. Merk beide hierdie ooie en hulle lammers met 'n knippie in die oor sodat hulle nie later vir teling gebruik kan word nie. Ooie en veral ramme wat lammers met aangebore genetiese defekte (bv. gebreklikheid, kriptorkidisme, tweeslagtigheid, ensovoorts) gee, moet geïdentifiseer en nie vir verdere teling gebruik word nie.

Algemeen
 
Wanneer die lamhoklamstelsel gebruik word, moet die lamtyd so kort moontlik wees om op voer- en arbeidskoste te bespaar. Die lamtyd kan drasties verkort word deur ooie voor paring vir 9 tot 12 dae te koggel en die ooie dan vir maksimum 28 dae te paar. Dit sal verseker dat tot 90 % van die ooie die eerste siklus (d.i. eerste 17 dae) van die lamseisoen lam. Dit is verder belangrik dat voeraankope en vermenging van die rantsoen asook alle voorbereidings vir lamtyd betyds reg is voordat die ooie begin lam. Sodra die lamtyd 'n aanvang neem, is daar selde tyd vir hierdie aktiwiteite.

In alle lamstelsels moet altyd rustig en kalm asook stadig met lammerooie gewerk word en die lammertrop moet so min moontlik gesteur word. Indien moontlik moet jongooie, wat vir die eerste keer lam, apart van volwasse ooie laat lam word. Jongooie is meer senuagtig en gevolglik is daar dikwels probleme tydens lamtyd.

Voorsien voldoende, skoon en koel drinkwater in die lamkampe, wat binne maklike stapafstand is asook beskutting teen wind en reën soos heinings, bome en skadunetskuilings. Wanneer in warm maande gelam word, moet voldoende skaduwee (± 2 m2/ooi) voorsien word. Waar lamkampe aangrensend is, veral waar waterbakke tussen kampe gedeel word, moet toegesien word dat lammers, veral pasgebore lammers, nie deur die drade kan kruip nie. Grensdrade moet dus verkieslik van veldspan of ogiesdraad wees. Voerbakke moet ook verkieslik weg van die waterbakke geplaas word.

Maak seker dat alle lammers voldoende biesmelk (210 ml biesmelk per kg liggaamsmassa die eerste 18 uur) inkry. Swak lammers moet biesmelk met behulp van 'n maagbuis (± 100 ml per keer; 3 tot 4 keer per dag) gedoseer word indien hulle nie binne drie tot vier uur na geboorte self suip nie. Biesmelk van ooie wat reeds gelam het, kan gevries word. Bevrore bies moet liefs teen kamertemperatuur of 'n lae temperatuur (minder as 35 °C) ontdooi word wanneer dit benodig word, want sodra die temperatuur meer as 37 °C styg, kan dit die teëliggaampies in die biesmelk vernietig. Ontdooide biesmelk moet verkieslik verhit word, maar nie hoër as 37 °C nie, voor dit toegedien word. Indien biesmelk nie beskikbaar is nie, kan 'n kunsbiesmengsel opgemaak word deur 500 ml volroom koeimelk met 125 ml room (of 3 eetlepels visolie of kookolie), 1 hele eier en 1 eetlepel laktose (of suiker) te meng en deeglik te klits. Verhit dit verkieslik ook tot ± 37 °C voordat dit aan die lammers gevoer word. Daar moet egter onthou word dat kunsbies geen teëliggaampies teen die heersende skaapsiektes bevat nie.

Samevatting

Die lamhoklamstelsel is ook van groot waarde wanneer ooie gesinchroniseer (bv. in die geval van KI en laparoskopie) word om oor 'n kort tydperk (3 tot 5 dae) te lam. Dit is ook maklik om toe te pas as ooie in elk geval tydens lamtyd hoofsaaklik gevoer moet word. Die grootste nadeel van die lamhoklamstelsel is die voer- en arbeidskoste. Hoewel die koste van die lamhokke self 'n wesenlike koste is, kan hierdie koste egter oor jare afgeskryf word. Hoewel sommige navorsers (Brand, Cloete & De Villiers, 1985; Haughey, 1989) nog nie seker is of die lamhoklamstelsel in alle gevalle ekonomies geregverdig is nie, moet die koste van hierdie stelsel egter opgeweeg word teen die ekstra inkomste as gevolg van 'n hoër speenpersentasie. 'n Verhoging van ongeveer 5 tot 10 % in speenpersentasie behoort te vergoed vir die koste van die lamhokke asook die ekstra arbeid.

Deur die voorgestelde riglyne sover moontlik toe te pas, kan skaapprodusente daadwerklik die voorkoms van lamvrektes in hulle kuddes beperk. Die hou van volledige en akkurate rekords van die simptome en oorsake van lamvrektes kan nuttige inligting verskaf om aanpassings in die lamstelsel asook bestuur- en voedingspraktyke te maak om lamvrektes in die toekoms te beperk. 'n Hoër winsgewendheid uit die skaapvertakking is sodoende moontlik.

Erkenning

Erkenning word met dank verleen aan André Fourie van Anker Agri van Bredasdorp vir inligting verskaf asook die bydrae van die Koördinerende komitee vir Kleinveevoorligting van die Winterreënstreek.

SOEK ARTIKELS

Sleutelwoord, Produk of Skrywer

TEGNIESE SPAN

Hendrik van Pletzen - Tegniese Bestuurder:
Vleisbeesbestuur, voeding, weidings, produksiestelsels en ekonomie.

Technical Manager - Tegniese Bestuurder:
Suiwel- en Pluimveevoeding, Gehaltebeheer & Produkontwikkeling

Ulrich Müller - Tegniese Bestuurder:
Voerkraal-, Wild- & Volstruisvoeding

Voermol - Tegniese Direkteur:
Voeding, Bestuur & Kleinveeteling