KOPERVERGIFTIGING (GEELSIEKTE) KAN BEHEER WORD

Na aanleiding van 'n onlangse brief in die Wolboer dat kopervergiftiging (geelsiekte of ensoötiese ikterus) elke jaar, veral gedurende die somermaande, 'n wesenlike probleem in dele van Sutherland is en dat daar 'n paar honderd skape elke jaar vrek, is dit belangrik dat hierdie probleem aangespreek word. Dit gebeur soms dat 'n groot persentasie karkasse, wat uit die koperrisikogebiede bemark word, by die slagpale weens vergeling van die vet (geelsug of ikterus) afgekeur word. Van die skape kan ook op pad na die mark of kort na hulle aankoms by die slagpale vrek.


Verspreiding

Kopervergiftiging kom op natuurlike veldweidings en veral op bergagtige ysterklipplase in groot dele van die Karoo voor (De Wet & Bath, 1994), weens die hoë koperinhoud en/of lae molibdeeninhoud van die grond en plante in hierdie gebied. Dit is veral plase in die sentrale Karoo wat as risikogebiede vir kopervergiftiging beskou kan word. Die gebiede wat tot 'n meerdere en mindere mate 'n risiko kan inhou is: Prieska, Hopetown, Koffiefontein, Fauresmith, Edenburg, Reddersburg, Williston, Carnarvon, Britstown, De Aar, Philipstown, Philippolis, Trompsburg, Sutherland, Fraserburg, Victoria-Wes, Richmond, Hanover, Noupoort, Colesberg, Venterstad, Steynsburg, Middelburg, Hofmeyr, Cradock, Murraysburg, Aberdeen en Beaufort-Wes. Aangeplante weidings wat met hoender- of varkmis bemes word, is veral riskant weens die hoë koperinhoud van hierdie mis. Die voer van hoendermis aan skape hou daarom ook die gevaar van kopervergiftiging in.


Voorkoms

By skape kom daar twee vorme, naamlik 'n vinnige (akute) en 'n stadige (chroniese) vorm, van kopervergiftiging voor (De Wet & Bath, 1994). Die vinnige vorm kom selde voor en gebeur wanneer skape, veral as hulle reeds 'n normale tot hoë lewerkoperinhoud het (Brightling, 1988), 'n oormaat koper in kry deur die dosering van byvoorbeeld te hoë vlakke van kopersulfaat of die inname van voere of lekke waar daar per abuis baie hoë vlakke van koper ingesluit is. Hierdie skape vrek binne ure of 'n paar dae en het erge dermkanaalontsteking met die derminhoud wat donkergroen gekleur is (De Wet & Bath, 1994).

Die stadige vorm word meer dikwels aangetref. Dit is alleenlik stadig omdat die ophoping van die koper in die liggaam, veral die lewer, geleidelik geskied, selfs oor 'n paar maande (Brightling, 1988), bekend as die passiewe aansamelingsfase (Wang et al., 1992). In die geval weidende skape is dit veral ouer skape wat eerste vrek terwyl as skape op 'n rantsoen met 'n te hoë koperinhoud gevoer word, veral in voerkrale, dit by enige ouderdom skape kan voorkom (De Wet & Bath, 1994). Kopervergiftiging kan ook voorkom waar skape deur 'n voetbad met 'n kopersulfaatoplossing gejaag word om vrotpootjie te beheer en hulle dan direk uit die voetbad in die weidingskamp gaan. Die koper beland sodoende op die gras en as die skape dan hierdie weiding inneem, kan chroniese vergiftiging oor tyd ontwikkel. Weens tot nog toe 'n onbekende rede is intensief-gevoerde skape in krale geneig om meer koper in die lewer op te gaar as weidende diere en daarom moet voerkraalrantsoene maksimum 15 mg koper/kg DM voer bevat (Gill, 1986). Ander bronne gee 10 mg koper/kg DM as die maksimuminsluitingspeil aan terwyl die algemene aanbevole vlak 5 tot 7 mg koper/kg DM is. Vleisskape, veral nie-woldraende skape, is baie meer gevoelig vir 'n oormaat koper as wolskape. Die feit dat wolskape 'n hoër koperbehoefte het omdat die wolvesels hoë vlakke van koper bevat, maak dit dat wolskape, veral Merino’s, hoër kopervlakke kan hanteer voordat dit toksies begin raak.


Oorsaak

Koper in die weiding of voer kom in die maag van die dier beskikbaar vir absorpsie. Koper wat nie deur die dier benut word nie, word in die lewer gestoor. Wanneer skape 'n oormaat koper inneem, kan die koper tot baie hoë vlakke in die lewer ophoop. In hierdie omstandighede kan selfs net die geringste stremmingstoestand veroorsaak dat koper skielik in die bloedstroom vrygestel word. Dit kan dan lei tot die grootskaalse opbreek (haemolise) van die rooibloedselle, wat ernstige beskadiging van die lewer en die niere tot gevolg kan hê (De Wet & Bath, 1994). Hierdie toestand is bekend as haemolitiese krisis (d.i. die toksiese fase: Wang et al., 1992) en gebeur gewoonlik wanneer die lewerkoperinhoud hoog (350 – 1 000 mg/kg DM: Underwood & Suttle, 1999) is en die dier aan fisiese spanning blootgestel word (Martin & Aitken, 2000; Brightling, 1988). Die diere vrek as gevolg van bloedarmoede en die beskadiging van die belangrike uitskeidingsorgane (niere en lewer) (De Wet & Bath, 1994).

Waar kopervergiftiging op natuurlike weiding in die Karoogebiede voorkom, bevorder of “trigger” verskeie faktore die voorkoms van kopervergiftiging. Oorbeweiding van die veld wat tot gevolg het dat al die gras opgevreet is en dat daar net Karoobossies, wat meer koper bevat, oor is, lei tot 'n verhoogde voorkoms van geelsiekte. Geelsiekte word veral op bergagtige ysterklipplase aangetref, waarskynlik as gevolg van hoë koper- en/of lae molibdeenvlakke in die weiding. Die uitbrake van geelsiekte word byna altyd voorafgegaan deur stremmingsfaktore (bv. oormatige hantering van diere, doseer, ent, dip, skeer, wisseling van kampe, uithongering, trek van diere oor 'n lang afstand, skielike klimaatsveranderinge, ensovoorts) (De Wet & Bath, 1994; Martin & Aitken, 2000).


Simptome

Diere wat kopervergiftiging onder lede het, kan sonder enige uiterlike tekens skielik vrek. Aangetaste skape bly gewoonlik agter as die trop aangejaag word of so nie, staan hulle een-een doelloos rond. Die slymvliese van die oë en bek vertoon soms vuilgeel, maar die urine is altyd rooi tot bruin of swart (De Wet & Bath, 1994). Diere kan kliniese simptome van abdominale pyn en diarree (maagwerk) toon (Martin & Aitken, 2000) asook versnelde asemhaling en uitermatige dors (Puls, 1988). Aangetaste diere wat die eerste ure oorleef, verloor eetlus en kondisie. Net enkele van die aangetaste diere oorleef die siekte en herstel geleidelik (De Wet & Bath, 1994).


Nadoodse tekens

By nadoodse ondersoek is die borriegeel tot vuilgeel voorkoms van die karkas opvallend. Die lewer is bros en geel terwyl die derminhoud hard, droog en soms bloederig is. Die niere is geswolle en donkerbruin tot swart verkleur (De Wet & Bath, 1994). Die onderhuidse vet, maar veral die netvet, is helder geel. Normaalweg word die afbouprodukte van die gebreekte rooibloedselle deur die lewer in die gal afgeskei en dit word dan in die dunderm afgeskei. Wanneer daar egter meer rooibloedselle tydens die haemolitiese krisis breek, as wat die lewer na die gal kan verwerk, bly die afbouprodukte in die bloedstroom. Dit is die kleurstowwe van die bloed (bilirubien) wat die vet geel verkleur.


Diagnose

Lewer- en niermonsters kan vir koper en mikroskopiese voorkoms ontleed word om die diagnose te bevestig (De Wet & Bath, 1994). Volgens Puls (1988) is 'n koperinhoud van die lewer van 100 tot 500 mg hoog en 250 tot 1 000 mg koper/kg natmassa toksies terwyl die onderskeie waardes vir die niere 4 tot 10 en 18 tot 260 mg koper/kg natmassa is. 'n Koperinhoud van die lewer en niere van onderskeidelik 1 000 en 50 mg/kg DM bevestig kopervergiftiging (Martin & Aitken, 2000).


Behandeling

As gevolg van die erge beskadiging van die niere en die lewer asook die snelle verloop van die siekte, is die behandeling gewoonlik onsuksesvol. Intensiewe behandeling soos bloedoortappings en nierversakingsterapie is in die meeste gevalle nie ekonomies geregverdig nie (De Wet & Bath, 1994).


Voorkoming

Die insluiting van 'n mengsel (sogenaamde “cocktail”) van koperantagoniste in lekke en voere om die koper te bind en te verhoed dat 'n oormaat in die bloedstroom beland, kan gebruik word om te verhoed dat kopervergiftiging in weidende skape ontwikkel (Suttle, 1993b). Skakel dr. Jasper Coetzee vir spesiale lek- en voerresepte om kopervergiftiging te voorkom. Die gereelde neem van lewermonsters en die ontleding daarvan vir al die spoorelemente, insluitend molibdeen en yster, by 'n Veeartseny Diagnostiese Sentrum kan die welslae van die program bepaal word (De Wet & Bath, 1994; Howell, 1996) en ook verseker dat die lewerkopervlak nie te laag daal nie, want dan kan produksie en reproduksie benadeel word.

Martin Hesselink van Hartebees Boerdery naby Murraysburg is een van die skaapprodusente wat groot welslae behaal om kopervergiftiging te voorkom deur die onderhuidse inspuiting van 1 ml Molibdeen-EDTA (40 mg Mo/ml). Hy kan gekontak word by 049 – 854 9113 of 072 128 3875 vir verdere inligting. Hy spuit byvoorbeeld sy skape elke keer voordat hy met hulle werk. Skape kan gespuit word sodra die eerste skape se oë begin geel word of voordat hulle aan spanning onderwerp word. Hierdie inspuiting is beskikbaar van die maatskappy Animalia (kontakpersoon: Gavin Mitchell by 021 – 685 3833). Skape kan ongeveer twee tot drie weke voor bemarking met hierdie inspuiting gespuit word om te verhoed dat hulle op pad of by die slagpale van kopervergiftiging vrek of weens geelsug afgekeur word. Daar moet egter teen oormatige molibdeeninspuitings of -aanvullings gewaak word omdat dit ovulasie (eiselafskeiding) kan vertraag, anestrus (ooie kom nie op hitte nie) veroorsaak (Puls, 1988) en libido van ramme kan verlaag (Pope, 1975).

Dit is belangrik dat skaapprodusente wat in hierdie hoë risikogebied boer, voortdurend lewermonsters neem vir spoorelementontledings om nie net die gevaar van kopervergiftiging te monitor nie, maar ook om die status van die ander spoorelemente te bepaal. Koperantagoniste onderdruk ook die opname van ander spoorelemente soos byvoorbeeld sink, mangaan en selenium wat op hulle beurt baie belangrik is vir optimale produksie, reproduksie en groei. In hierdie omstandighede kan sink, mangaan en selenium slegs suksesvol geabsorbeer word indien hulle onderhuids d.m.v. 'n Multimininspuiting (G1853) toegedien word.

Terwyl die koper in die lewer (gestoor as 'n metalloproteïen bekend as hepatokuproteïen) is, sal die dier niks daarvan oorkom nie. Die groot hoeveelhede koper in die lewer (gewoonlik meer as 350 mg/kg DM: Underwood & Suttle, 1999; 750 mg/kg: Martin & Aitken, 2000) veroorsaak geringe lewerbeskadiging wat tot gevolg het dat sekere bestanddele van die lewerselle (ensieme bekend as transaminases) in die bloedstroom beland. Een van hulle wat redelik maklik met 'n baie sensitiewe metode bepaal kan word, is bekend as SGOT (Serum-Glutamien-Oksaalasynsuur-Transaminase) (Puls, 1988). In die geval van waardevolle stoetdiere wat vir lang periodes op betreklike hoë peile gevoer word, is dit raadsaam om bloedmonsters elke drie tot vier maande by die naaste Diagnostiese Sentrum vir SGOT te laat ontleed.

Vir voermaatskappye is dit selde ekonomies geregverdig om spesiale lekke en rantsoene, sonder addisionele koperinsluiting, vir produsente te vervaardig. Daarbenewens verplig die Veevoerwet (Wet 36/1947) voermaatskappye om 'n sekere hoeveelheid koper in lekke, wat landwyd verkoop word, in te sluit. Indien geen koper ingesluit word nie, kan die grondstowwe wat in die vervaardiging van lekke en rantsoene gebruik word genoeg koper bevat om steeds kopervergiftiging in die hoë risikogebiede te veroorsaak.

Die gebruik van hoendermis in skaapvoeding word totaal ontmoedig weens die gevaar van koper- en ionofoorvergiftiging; lamsiekte; spoorelement- en mineraalwanbalans; skadelike mikotoksiene, salmonella en fungi’s, ensovoorts.


Samevatting

Chroniese kopervergiftiging is 'n gekompliseerde siekte wat sporadies kan voorkom en talle vrektes en dus groot finansiële verliese tot gevolg kan hê. Sorgvuldige bestuur (Gill, 1986) en voordurende monitering van die spoorelementstatus van al die spoorelemente van skape en nie net koper nie, is nodig om verliese as gevolg van kopervergiftiging te beperk en optimale produksie, reproduksie en groei te verseker. Underwood (1981) beklemtoon die belangrikheid van algehele voedingstofbalans vir die absorpsie en benutting van minerale, byvoorbeeld 'n tekort aan molibdeen kan kopervergiftiging veroorsaak. Daarenteen kom kopervergiftiging selde op ghannabosse voor weens hulle hoë molibdeeninhoud. Molibdeen bind die koper en verlaag dus koperabsorpsie.

SOEK ARTIKELS

Sleutelwoord, Produk of Skrywer

TEGNIESE SPAN

Hendrik van Pletzen - Tegniese Bestuurder:
Vleisbeesbestuur, voeding, weidings, produksiestelsels en ekonomie.

Technical Manager - Tegniese Bestuurder:
Suiwel- en Pluimveevoeding, Gehaltebeheer & Produkontwikkeling

Ulrich Müller - Tegniese Bestuurder:
Voerkraal-, Wild- & Volstruisvoeding

Voermol - Tegniese Direkteur:
Voeding, Bestuur & Kleinveeteling