Oesreste van kontantgewasse soos mielies, graansorghum, sonneblom, sojabone en kleingrane maak ‘n belangrike deel van die voervloeiprogram van veeboerdery in die saaigebiede uit. Oesreste kan as ‘n relatief goedkoop weidingsbron beskou word en indien die produksiekoste van die graanverkope verhaal word, is dit feitlik “gratis” beskikbaar.
Oesreste-weiding het oor die algemeen ’n hoë drakrag en drakrag word bepaal deur die tipe gewas, graanopbrengs en die hoeveelheid ru-materiaal (reste) geproduseer. Oesreste van hoë potensiaal lande met ’n hoë produksie sal noodwendig ’n hoër drakrag as laer potensiaal lande hê.
Tabel 1. Drakrag van oesresteweiding van verskillende kontantgewasse
| Gewas | Vee- eenhede / ha | Weityd (dae) |
| Mielies | 0.8 – 1.4 GVE | 90 – 120 |
| Graansorghum | 0.8 – 1.2 GVE | 90 – 120 |
| Sonneblomme | 0.6 – 1.0 GVE | 80 – 100 |
| Sojabone | 5 – 7 KVE | 80 – 100 |
| *Kleingrane | 4 – 6 KVE | 80 – 100 |
* Koring, gars en hawer
Die energiewaarde van vars gestroopte lande is hoog, veral waar ’n redelike hoeveelheid graan vermors is. Die hoeveelheid mielies op ’n vars gestroopte land wissel van 100 tot 300 kg/ha en navorsing met slukdermgefisteleerde skape toon dat ’n skaap tot 800g mielies binne ’n halfuur kan vreet. Skape wat nie op mielievoeding aangepas is nie, ontwikkel suurpens (asidose) en groot verliese kan voorkom. ’n Verdere probleem met oesreste is dat die proteïenwaarde laag is, veral vir diere met ’n hoë voedingsbehoefte soos vleisbeeskoeie met kalwers, lammerooie en jong groeiende diere. Tekorte aan Ca, Mg, Zn en Cu kom ook redelik algemeen op oesreste voor.
Voermol Landelek (V15414) is ontwikkel om voedingstekorte en voedingsprobleme op oesreste te beperk. Landelek is ’n klaargemengde proteïen- spoormineraal aanvulling vir skape, beeste en bokke en kan net so gebruik word. Dit bevat verskillende buffers om suurpens te voorkom en bevat ook ‘n anioonsout om blaassteenvorming by hamellammers te voorkom. Landelek het ’n medium-inhoud verbyvloeiproteïen en bevat voldoende hoeveelhede van al sewe noodsaaklike spoorelemente, is melasse gebaseer wat ’n goeie inname verseker en sal nie wegwaai nie. Dit word aanbeveel vir diere met ’n hoë voedingsbehoefte soos bv. eerstekalfkoeie, lammerooie, speenlammers en speenkalwers. Navorsing toon dat goeie gehalte speenkalwers met ’n aanvulling van 1 kg Landelek per dag, tot 1.2kg per dag gegroei het oor ‘n weityd van 60 dae op mieliereste. In hierdie studie was die veelading 2.3 kalwers/ha op ‘n land waar die graanopbrengs 3.5 ton/ha was. Die aanbevole inname van Voermol Landelek vir beeste is 800-1200g/bees/dag.
Voermol Landelek kan ook met groot sukses vir skape op weimielies gebruik word. In proewe op Athole Proefplaas met lammerooie op weimielies plus Landelek, het ooie teen 232g/dag en lammers teen 265g/dag gegroei. Die ooie word vet tydens laktasie en dit het tot gevolg dat 40-50% van die ooie tweelinge in die volgende lamseisoen lam. In praktyk groei goeie gehalte speenlammers tot 240g/dag. Drakrag van weimielies word deur graanopbrengs bepaal en vir elke 1t graan is daar ongeveer 1000 skaapweidae/ha.
Tabel 2. Drakrag van weimielies by verskillende graanopbrengste
| Graanopbrengs (t/ha) | Drakrag (*KVE/ha vir 60 dae) |
| 1 | 15 - 18 |
| 2 | 33 - 35 |
| 3 | 48 - 52 |
| 4 | 64 - 70 |
*KVE is ‘n kleinvee-eenheid wat ongeveer 45-50kg weeg.
Om suurpens te beperk, moet skape ten minste 14 dae voordat hulle op die oesreste of weimielies gaan, vrye toegang tot Landelek hê. Voer ook mielies of mieliekoppe daagliks op die veld en vermeerder die hoeveelheid geleidelik oor 14 dae.
Tabel 3. Aanpassingsvoorskrifte vir skape op mieliereste en weimielies
| Dag | Mielies (g/skaap/dag) |
| 1 – 2 | 200 |
| 3 – 4 | 300 |
| 5 – 6 | 400 |
| 7 – 8 | 500 |
| 9 – 10 | 600 |
| 11 – 12 | 700 |
| 13 – 14 | 800 |
| 15 | Jaag skape in lande |
Die aanbevole inname van Landelek by skape is 150-200g/KVE/dag en groter (swaarder) skape moet tot 300g/dag inneem. Hierdie inname is krities belangrik om suurpens te voorkom en bestuursmaatreëls moet gefokus wees om goeie lekinnames te verseker. Gee elke dag vars Landelek en plaas lekbakke naby waterkrippe wat ten minste eenmaal per dag skoongemaak word. Diere met die hoogste voedingsbehoefte soos lammerooie en speenlammers moet altyd voorkeur op pasgestroopte lande kry. Dit is baie belangrik om hierdie diere betyds, eerder te vroeg as te laat, van lande te verwissel. Graan moet nog op die land sigbaar wees wanneer die voorkeurtrop na die volgende land skuif. Op hierdie wyse het die voorkeurtrop dus altyd toegang tot graan en die rumen bly aangepas. Wanneer skape egter eers ‘n paar dae nadat al die graan opgevreet is, geskuif word, moet die aanpassing weer van vooraf begin. Daar is gevind dat slegs twee dae sonder graan genoeg is om weer suurpens in ‘n nuwe kamp te veroorsaak. Die tweede en derde voorkeurtroppe loop dus op lande waarvan die meeste graan reeds benut is. Die risiko vir suurpens by hierdie troppe is minder.
Voermol Landelek en bogenoemde bestuursmaatreëls sal die risiko van suurpens drasties verlaag. Aangesien enkele diere in ’n trop baie min of geen lek vreet nie, is dit onmoontlik om te waarborg dat geen suurpens sal voorkom nie.
Op bone en bonereste soos bv. soja-, suiker- en akkerbone, word Voermol Molovite (V7266) aanbeveel om die benutting van die reste te verbeter. Molovite bevat 10% natuurlike proteïene en geen ureum nie. Die aanbevole inname van Molovite is 200g/skaap/dag en 1kg/bees/dag.
Landelek en Molovite bevat medikamente en moet dus nie aan perde gevoer word nie.