PRESISIEVOEDING VERHOOG WINSGEWENDHEID VAN SKAAPBOERDERY

PRESISIEVOEDING VERHOOG WINSGEWENDHEID VAN SKAAPBOERDERY

 

Volgens 'n bekende Australiese konsultant, Andrew Vizard (2002), is die resep om meer geld uit skape te maak, die verlaging van produksiekoste van die bemarkbare produk (bv. vleis en wol). Dit moet geskied deur nie noodwendig insetkoste (bv. voer-, doseer- en entkoste) te verlaag nie, maar deur meer bemarkbare produk (bv. meer en swaarder lammers, fyner en/of meer wol) per hektaar te produseer deur aanpassings in boerderypraktyke te maak en deur met 'n meer produktiewe genotipe (bloedlyn) te boer. Die boodskap is duidelik vir skaapprodusente: "Be efficient or get out!"

'n Hoë reproduksietempo (d.i. speenpersentasie) is 'n voorvereiste vir winsgewende skaapboerdery omdat dit een van die belangrikste faktore is wat die winsdrywer in skaapboerdery, naamlik massa vleis en wol geproduseer per hektaar, bevorder. Dit kan geskied deur meer en swaarder lammers te speen deur die lampersentasie te verhoog; lamvrektes te verlaag en die groeitempo van die lammers te verhoog.

 

Die ekstensiewe omgewing plaas 'n natuurlike perk op die produksie- en reproduksievermoë van skape weens 'n tekort aan kritieke voedingstowwe in die natuurlike weiding wat verhoed dat skapevolgens hulle geneties potensiaal presteer. Om die winsgewendheid van skaapboerdery te verhoog, moet die genetiese potensiaal van 'n skaapkudde gemaksimeer word (Hatcher, 2005; Ferguson et al., 2007). Die meeste skaapkuddes beskik oor 'n inherente hoë genetiese reproduksie- en produksiepotensiaal, maar in die meeste kuddes word dit nie ten volle ontsluit nie weens die gebruik van ondoeltreffende bestuur- en voedingspraktyke. Volgens die NRC (2007) het skape met 'n hoë genetiese potensiaal hoër voedingsbehoeftes en sulke skape ly die meeste as voedingstowwe beperk is. Hierdie verhoogde genetiese potensiaal vereis dat vandag se hoogs produktiewe ooi hoër vlakke van proteïen, veral deurvloeiproteïen, energie, minerale, spoorelemente en vitamines gevoer moet word om hulle potensiaal te bereik (Akey, 2003). Daar kan egter nie verwag word dat diere volgens hulle genetiese potensiaal moet produseer voordat hulle dieet (weiding plus lek) behoorlik gebalanseer is nie. Dit sal dwaas wees om diere se genetiese samestelling deur seleksie te probeer verander as hulle nie die korrekte dieet gevoer word om hulle in staat te stel om met hulle huidige genetiese vermoë te presteer nie (Scott, 2001). Optimale voeding is nodig vir diere om volgens hulle volle genetiese potensiaal te presteer (aangepas McDowell, 2003). Om maksimum wins te genereer, is dit noodsaaklik dat alle klasse skape optimum voeding regdeur hulle produksiesiklus ontvang (Milton, 1999). Optimum voeding gedurende die verskillende fisiologiese stadiums van die teelooi is noodsaaklik vir 'n hoë reproduksietempo, hoë lamoorlewing en hoë lamgroei om te verseker dat die genetiese potensiaal van skaapkuddes bereik word (Fogarty, 1984).

 

Meer as 70 % van 'n skaapkudde se reproduksie- en produksieprestasie word deur voeding bepaal (Rowe, 2005; Rowe & Atkins, 2005). Die verlies as gevolg van geen byvoeding word meestal nie in ag geneem nie (Jolly & Cottle, 2010). Byvoorbeeld, lampersentasie neem af en lamvrektes neem toe terwyl lamgroei afneem as gevolg van geen byvoeding nie. Hierdie verliese kan potensieel hoër wees as die koste van die aanvulling (Jolly & Cottle, 2010). Die winsgewendste skaapboere spandeer tot ± 21 % van hulle bruto inkomste uit 'n ooi aan voer vir die ooi.  Anderson (2005) is van mening dat indien die voeding reggestel word al die ander dinge in plek sal val. Dit is verder belangrik dat die regte dinge moet op die regte tyd reg gedoen moet word, dit sluit ook die gebruik van die regte produkte in. Die duurste produk is altyd dié een wat nie gewerk het nie!!! Geen inspuiting of medisyne kan dus goeie bestuur en voeding vervang nie (Midgley, 2010).

 

Gefokusde voeding ("targeted feeding") behels presisievoeding van spesiaal-geformuleerde aanvullings wat kritieke voedingstowwe op presiese tye gedurende spesifieke fisiologiese stadiums aan teelooie en -ramme voorsien om die ooie se reproduksietempo te verhoog. Die sukses van gefokusde voeding hang grootliks af van die gehalte en hoeveelheid van die voeding asook die presiese tyd of stadium wat dit aan die diere verskaf word (Blanche & Martin, 2009). Vervolgens gaan hierdie aspek in meer detail bespreek word.

Gefokusde voeding

Die doel met gefokusde voeding is om die getal lammers gebore te maksimeer deur die ovulasietempo te maksimeer asook om embrionale en fetale vrektes te minimaliseer deur te verseker dat embrionale en fetale ontwikkeling suksesvol is (Martin et al., 2004). Vir die suksesvolle toepassing van hierdie strategie is dit 'n absolute moet dat ooie geskandeer word vir die identifisering van droë ooie; ooie met enkelinge; dié met tweelinge; dié met drielinge, ensovoorts. Ouderdomverskille van ongebore lammers van so min as vyf dae kan tydens skandering uitgewys word (González de Bulnes et al., 1998; Greenwood et al., 2002).  Voorafgaande inligting is noodsaaklik, nie net om voedingsaanvulling op die regte tyd te verskaf nie, maar om differensiële voeding (d.i. voeding volgens behoefte) toe te pas om 'n beter respons te verseker en terselfdertyd op byvoedingskoste te spaar. Om die reproduksiedoeltreffendheid en die winsgewendheid van 'n ooikudde te verhoog, moet droë ooie en ooie wat lam, maar nie lammers speen nie, so gou moontlik nadat hulle geïdentifiseer is, uitgeskot en bemark word en nie vir verdere teling gebruik word nie. Die strategieë om op te fokus is: uitgroei van jongooie; prikkelvoeding van teelramme en -ooie; beperking van embrionale en fetale vrektes; maksimering van lamoorlewing en lamgroei.

(1)     Uitgroei van jongooie om ovulasietempo te verhoog

Optimale uitgroei van speenooilammers en jongooie verhoog hulle leeftydproduksie en
-reproduksietempo. Vir elke 1 kg wat die paarmassa van jongooie styg, verhoog hulle lampersentasie met ± 1.5 – 2.5 %. Indien ooilammers egter op enige stadium van geboorte totdat hulle die eerste keer self lam massa verloor, kan hulle leeftydproduksie en
-reproduksietempo permanent en onomkeerbaar verlaag word. Die teikenmassa wat jongooie moet bereik om maksimum ovulasietempo te verseker, is 80 % van volwasse liggaamsmassa met paring op 12 maande en jonger (Fogarty et al., 2007; AWI, 2009; Graaf, 2010) en 90 % indien ouer as 12 maande gepaar word. Produsente (bv. Vosloo, Elsenburg; Ben Brynard, Calvinia; Boontjieskraal Landgoed, Caledon; Piet Meyer, Vredefort) wie se jongooie hierdie teikenmassas bereik, produseer tot 50 % en meer van hierdie jongooie tweelinge met hulle eerste lamseisoen, waarvan sommiges reeds so vroeg as op 16 maande ouderdom lam. Daar moet verder gestreef word om vrektes van speen tot eerste paring minder as 3 % te hou (Cottle, 2003).

Dit nuutste aanbeveling is om nie lekke nie, maar 'n kragvoeraanvulling aan jongooie te verskaf omdat die voedingspeil daarvan baie presies beheer kan word en omdat dit verseker dat die meeste jongooie die aanvulling vreet. Op droë weiding word, afhangend van die gehalte en die hoeveelheid van die weiding, die volgende kragvoeraanvulling daagliks teen
± 500 tot 1 000 g/ooitjie gevoer: 200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel + 700 kg gemaalde mielies of heel garspitte. Op groenweiding word die kragvoermengsel (200 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 575 kg gemaalde mielies of heel garspitte) daagliks teen ± 100 tot 500 g/ooitjie gevoer.  Hierdie aanbevole voedingspeil van die kragvoeraanvulling moet egter so gereguleer word dat die berekende groeitempo gehandhaaf word om die teikenmassa met eerste paring te bereik. Voer hierdie kragvoeraanvulling daagliks met vreetspasie (± 35 – 44 cm/ooitjie) vir elke ooitjie om optimale uitgroei van jongooie te verseker. Speenooilammers wat op weimielies of mielie-oesreste met baie pitte uitgegroei word, moet Voermol Landelek
(150 – 200 g/ooitjie/dag) gevoer word. 'n Beter mengsel is 150 kg Voermol Landelek plus
50 kg Voermol Procon (250 – 350 g/ooitjie/dag). Op staande akkerboon- en sojahooi (ongeoeste lande) of op oesreste van hierdie weidings met baie pitte word Voermol Molovite (200 g/ooitjie/dag) aanbeveel.

(2)     Prikkelvoeding van teelramme om spermproduksie te verhoog

Die voorsiening van 'n spesiaal-geformuleerde ramprikkelaanvulling het ten doel om testisgrootte en spermproduksie te maksimeer (Martin & Walkden-Brown, 1995) wat noodsaaklik is vir 'n hoë lampersentasie. Die voer van hoë vlakke van grane (bv. mielies, kleingrane of sjokoladegrane; afrondkorrels, ensovoorts) moet vermy word omdat dit ramvrugbaarheid nadelig kan beïnvloed weens oormatige vetneerlegging in die skrotum, veral in die nek van die skrotum, wat hitte-uitruiling beperk.

Aangesien die proses van spermatogenese (spermproduksie) ongeveer 60 dae neem, moet teelramme vanaf twee maande voor die paarseisoen ekstra energie, maar veral 'n baie hoë vlak van deurvloeiproteïen gevoer word, want dit bevorder die groei van die testes en die spermproduksie (Henderson, 1990). Volgens Vipond & Greig (2007) moet hierdie aanvulling 16 % proteïen bevat. 'n Hoë deurvloeiproteïengebaseerde ramprikkelrantsoen soos Voermol Superlamkorrels of 'n Ramprikkelmengsel (200 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 575 kg gemaalde mielies of heel garspitte) moet teen 'n beperkte peil (500 – 1 500 g/ram/dag) gevoer word om testisgroei en spermproduksie te maksimeer.

Voldoende vreetspasie (± 60 cm/ram) sodat alle ramme gelyktydig kan vreet, moet beskikbaar wees (Vipond & Greig, 2007). Indien die weiding skaars is, moet goeie kwaliteit lusernhooi ad lib. eenkant bygevoer word. As alternatief kan 'n volledige ramprikkelrantsoen [200 kg gemaalde lusern (25 mm) + 425 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 200 kg Voermol
SS 200 + 100 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel]
gevoer word. Volgens dr. Jannie van der Merwe (2010) van Darling is van die beste gehalte ramsemen wat hy nog gesien het met hierdie volledige ramprikkelrantsoen gekry. 
Om 'n hoë reproduksietempo te verseker, moet teelramme topfiks wees. Sodra byvoeding 'n aanvang neem, moet met die oefening (30 minute vinnig stap twee maal daagliks) van die ramme begin word.

Teelramme moet drie maande voor die paarseisoen met Multimin asook Vitamien A en E gespuit word om spermproduksie en spermgehalte te bevorder. Besetting verhoog indien teelramme met selenium gespuit word (Vipond & Greig, 2007), want selenium is 'n kritieke komponent van die stert van die spermatosoa. Sink en Vitamien A word benodig vir spermproduksie. Ramme wat sink- en Vitamien A-tekorte het, het sagte testes (sagte teelbalsindroom) en produseer swak gehalte semen (Wilson, 2003). Saadkwaliteit van teelramme kan verbeter word deur hulle vanaf agt weke voor die paarseisoen met koringkiemolie (± 25 ml/ram) een tot twee keer per week te doseer. Teelramme moet ongeveer vier tot ses voor paarseisoen vir vrugbaarheid; geslagsiektes en dekbehendigheid getoets word.

(3)     Prikkelvoeding van teelooie om ovulasietempo te maksimeer

Die kondisie van die ooie met die aanvang van die paarseisoen is die belangrikste bepalende faktor van reproduksietempo van ooie (Hunt, 2010). Energie (oftewel vetheid) "dryf" reproduksie (Adams et al., 2005), m.a.w. hoe beter die kondisie (minstens 3.5 kondisiepunt) van die teelooie met paring, hoe hoër is die lampersentasie (Ferguson et al., 2007)Meerlinggeboortes is hoogs afhanklik van die kondisie van ooie met paring (Lifetime Wool, 2007) omdat dit een van die hooffaktore is wat ovulasietempo bepaal (Tempest, 1990). Die ovulasietempo (aantal eiselle per hittesiklus afgeskei) bepaal die boonste limiet van 'n ooi se fekunditeit en word geneties beheer (Downing & Scaramuzzi, 1991). Die mate waarin 'n ooi haar genetiese reproduksiepotensiaal bereik, is afhanklik van omgewingsfaktore, waarvan voeding (> 70 %: Rowe & Atkins, 2005) die belangrikste is (Downing & Scaramuzzi, 1991). Die doelwit met voeding is om te poog dat teelooie met die aanvang van die paarseisoen in 'n uitstekende kondisie (minstens 3.5 kondisiepunt) is en dat hulle massatoename op daardie stadium 'n stygende tendens toon (verhoog ovulasietempo) om te verseker dat minstens 50 % van die ooie tweelinge produseer.

Optimale voeding van die teelooi is die heel belangrikste faktor wat 'n hoë lampersentasie verseker (Hunt, 2010). Die nuutste navorsing toon dat dit ekonomies geregverdig en ononderhandelbaar is om prikkelvoeding (Maxiwollek) te voorsien aan ooie wat hulle vorige lamseisoen tweelinge gelam het, ongeag hulle kondisie, asook aan jongooie wat die eerste keer gepaar word. Die res van die ooie word slegs prikkelvoer gevoer indien hulle maer of skraal (< 3.0 KP) is, maar nie as hulle in 'n uitstekende kondisie (3.5 KP) is nie omdat dit dan nie ekonomies geregverdig is nie. Die Voermol Maxiwolreeks bevat "rumen-aktivators" wat die ovulasietempo van ooie, wat "responsive" is, verhoog. Verskeie navorsers is van mening dat daar in die meeste kuddes ooie is wat die genetiese potensiaal het om 'n groot respons (hoë ovulasietempo), die sogenaamde "responsive ooie," met prikkelvoer te gee terwyl ander ooie glad nie reageer nie. 

Die sogenaamde "supravoedingsbeginsel" (supranutritional) is gebruik om hierdie prikkellekke te ontwikkel. Die "supravoedingsbeginsel" berus op die voer van baie hoë vlakke van spesifieke rumenaktivators sodat die volle genetiese reproduksiepotensiaal van die ooie ontsluit kan word. In die ontwikkelingsproewe van hierdie prikkellek, Voermol Maxiwol Produksiekorrels, het dit die besetting van ooie, wat die vorige lamseisoen tweelinge gelam het, met 2 tot 5 persentasie-eenhede tot gemiddeld 97 tot 100 % verhoog. Die lampersentasie van hierdie ooie was gemiddeld 149 tot 160 % wat 'n verhoging van 20 tot 25 persentasie-eenhede verteenwoordig. Dit is dus 'n uiters koste-doeltreffende aanvulling omdat slegs ongeveer 6 ekstra lammers per 100 ooie gepaar nodig is om vir die prikkellekkoste te betaal. As prikkellek word 'n Maxiwollek teen 300 tot 400 g/ooi/dag vanaf drie weke voor die paarseisoen vir 'n periode van minstens ses weke op alle tipes weiding voorsien. Teelooie moet ook ongeveer vier weke voor die paarseisoen met Multimin asook Vitamien A en E gespuit word om ovulasietempo en besetting te verhoog en embrio-oorlewing te bevorder. Die gebruik van 'n Maxiwollek as 'n prikkelvoer, in plaas van sjokolademielies, het die lampersentasie van Middelpost Boerdery van Koringberg se ooie van 121 % tot 163 % en dié van Coena le Roux van Delareyville van 98 % tot 156 % verhoog.

Coop (1966) is van mening dat daar met prikkelvoeding volgehou moet word totdat ongeveer 70 % van die ooie beset is. Om prikkelvoeding dus meer koste-doeltreffend te maak, is dit hoogs aan te beveel om dit saam met koggelramme te gebruik omdat koggelramme verseker dat meer as 90 % van die ooie binne die eerste siklus (± 17 dae) op hitte sal kom. As gevolg van koggel, kom die ooie dus oor 'n korter periode op hitte en is 'n ses weke prikkelperiode (drie weke voor paring en die eerste drie weke van paring) voldoende en kan gevolglik op prikkelvoeding bespaar word. Daarbenewens is daar ook aanduidinge dat prikkelvoeding 'n oordrageffek het deurdat dit ovulasietempo vir nog ongeveer drie weke verhoog nadat dit gestaak is. As gevolg van koggel, sal die meeste ooie die prikkelvoer dus in die regte stadium ontvang wat maksimum ovulasietempo sal verseker en terselfdertyd word prikkelvoer gespaar. Om prikkelvoeding te spaar, moet ooie reeds op die stadium wat hulle lammers gespeen word, in minstens twee groepe volgens kondisie (skraal vs. goeie kondisie) verdeel word. Die skraal ooie moet dan op beter weiding geplaas word om hulle kondisie te herwin sodat hulle met die aanvang van die prikkelvoedingperiode in 'n uitstekende kondisie (3.5 kondisiepunt) is. Dit is belangrik om daarop te let dat vet ooie nie noodwendig onvrugbaar is nie, maar dat onvrugbare ooie altyd vet is.

Die gebruik van koggelramme sinchroniseer die lamseisoen waardeur die paartyd tot 28 dae en selfs tot 21 dae beperk kan word; verhoog lampersentasie weens verhoogde ovulasietempo; beperk stertkantlammers en verlaag die voerkoste. Koggelramme moet dus as 'n bestuurshulpmiddel saam met prikkelvoeding gebruik word om maksimum ovulasietempo te verseker. Waar ooie gekoggel is, word voerkoste ook gedurende laatdragtigheid en laktasie gespaar omdat ooie oor 'n korter periode gevoer word. Die gebruik van Ronderib-Afrikanerkoggelramme gedurende 'n lentepaarseisoen het die meerlinggeboortes in 'n Merinokudde met lenteparing met gemiddeld 19 tot 21 % verhoog (King, et al., 1989) weens 'n bykans 2.3 keer hoër ovulasietempo wat dit bewerkstellig het. Met herfspaarseisoen het dit die lampersentasie met 14.4 % verhoog (King, 1994). 'n Voorvereiste vir hierdie hoër ovulasietempo is die gebruik van hoë libido-koggelramme soos byvoorbeeld die Afrino. Koggelramme moet voor gebruik vir geslagssiektes getoets word.

(4)     Beperking van embrionale en fetale vrektes

Daar moet gepoog word om resorpsie en fetale afsterwing tot minder as 0.5 % te beperk. Indien dit meer as 2 % is, moet ondersoek onverwyld ingestel word. Embrio-resorbsie in vroeë dragtigheid en die afsterwing van fetusse in middragtigheid veroorsaak dat skaapprodusente jaarliks duisende rande verloor, maar hulle is meestal onbewus daarvan indien ooie nie geskandeer word nie. Hierdie verliese is die verskil tussen die potensiële getal lammers geskandeer en die getal lammers gebore. Volgens oorsese navorsing varieer embrioverliese tussen 7 en 46 % (Restall et al.,1976). Plaaslik rapporteer skandeerders fetale verliese van so hoog as tot 23 %. Elke fetus wat afsterf, is 'n potensiële verlies van 'n verkoopbare lam wat tans (11/11/10) ongeveer R700 tot R800 en selfs meer werd is. Skandering is dus 'n moet omdat dit 'n uiters belangrike bydrae tot winsgewende skaapboerdery lewer. Dit beperk oor voerkoste omdat droë ooie nie gevoer word nie, want hulle word bemark terwyl ooie met enkelingfetusse vir 'n korter periode en teen 'n laer peil gevoer word as dié met tweelingfetusse.

Enige vorm van stres (klimaat, voeding, hantering, ensovoorts) moet veral die eerste 60 dae van dragtigheid voorkom of beperk word, want dit kan tot embrio-resorbsie en fetale verliese by hoë risikodiere (bv. dié met meerlingfetusse, jong- en skraal ooie) lei. Strestoestande wat gedurende hierdie tyd kan voorkom, is skielike verandering in die weiding, voedingspeil of omgewing; oormatige hantering; skeer; mikskeer; dip; dosering; enting; kloue knip; ensovoorts asook ongure weerstoestande en vervoer of aanjaag van ooie oor 'n lang afstand. Al hierdie aktiwiteite moet gestaak word tot minstens een maand nadat die ramme uitgehaal is. Ooie behoort ook nie kondisie of massa tydens paring en die eerste maand daarna te verloor nie aangesien dit ook tot embrio- en fetale verliese aanleiding kan gee. Waar die omgewingstemperatuur meer as 28 oC is, sal die voorsiening van skaduwee in die vorm van bome of skadunet embrionale en fetale verliese beperk. Resorbsie kan ook wees weens verskeie siektetoestande (bv. Ensoötiese aborsie; Slenkdalkoors; ensovoorts) daarom moet ooie wat dragtig geskandeer is en nie lam nie of ooie wat sigbaar geaborteer het se bloed getrek word en na 'n Diagnostiese Sentrum vir 'n diagnose gestuur word. Waar ooie geaborteer het, moet die fetusse sowel as die nageboorte na 'n Diagnostiese Sentrum geneem word. Sodra die oorsaak gediagnoseer is, moet ooie voorkomend geïmmuniseer word.

Ooie moet ook gedurende die eerste vier maande van dragtigheid ongeveer 50 tot 100 g/ooi/dag in massa toeneem om embrionale en fetale verliese te beperk asook om te verseker dat hulle lammers 'n hoë toekomstige produksie en reproduksie sal hê. Indien hierdie teikengroei nie bereik word nie, moet dr. Jasper Coetzee vir 'n geskikte lekaanbeveling geskakel word.

(5)     Maksimering van postnatale lamoorlewing en lamgroei

Lamoorlewing hou verband met die voeding van die ooi gedurende laatdragtigheid (Binns et al., 2002). Moederlike gedrag en lamgrootmaakvermoë van ooie kan deur strategiese byvoeding gedurende laatdragtigheid verbeter word (Murphy, 1999). Dit is nou reeds algemene kennis dat ooie gedurende laatdragtigheid en laktasie hoë vlakke van deurvloeiproteïen en energie moet ontvang om hoë postnatale (nageboortelike) lamoorlewing en lamgroei te verseker. Meer as 80 % van alle lamvrektes is voedingsverwant (Seymour, 1998). Lamvrektes kan dus grootliks voorkom word indien ooie 'n perfekte gebalanseerde dieet, wat in al hulle voedingsbehoeftes voorsien, gedurende laatdragtigheid en laktasie inneem. Daarbenewens moet laatdragtige ooie vier weke voor die lamseisoen 'n Multimin- asook Vitamien A en E-inspuiting ontvang om lamoorlewing te bevorder. 'n Kompromis oor die gehalte en hoeveelheid deurvloeiproteïen in lekke moet nooit aangegaan word nie. Dit is uiters belangrik dat die regte deurvloeiproteïenbronne (bv. vismeel, droë brouersgraan, katoenoliekoekmeel en gluten 60) in die regte verhouding gebruik word om te verseker dat al die essensiële aminosure in die regte verhouding voorsien word om die gewenste geboortemassa (4.5 tot 5.5 kg) asook optimale uierontwikkeling te verseker vir maksimum bies- en melkproduksie. 'n Lae geboorte massa (< 3.5 kg); lae biesproduksie en vertraagde aanvang van laktasie is van dié grootste oorsake van lamvrektes. Die verskaffing van deurvloeiproteïen aan laatdragtige ooie het lamoorlewing met tot 15 – 50 % verhoog (McMeniman et al., 1982; Hinch et al., 1996).

Laatdragtige ooie wat geen of te min deurvloeiproteïen inneem, toon nie net swak uierontwikkeling nie, maar produseer min asook abnormale taai en dik bies wat hoë lamvrektes tot gevolg het. Abnormale taai en dik bies hou verband met lae biesproduksie (Banchero, 2004); is moeilik om uit te suig (Holst, 1997); vertraagde aanvang van laktasie (Holst et al., 1996) en die lammers drink nie binne drie uur na geboorte nie (McCance & Alexander, 1959). Hoe taaier en dikker die bies, hoe groter die kans dat een van 'n tweeling kan vrek (Holst et al., 1996). Uierontwikkeling en totale melkproduksie is hoogs gekorreleerd (Bencini & Purvis, 1990). Volgens Robinson (1990) is uierontwikkeling direk afhanklik van hoeveelheid deurvloeiproteïen ingeneem. Die uier begin al vyf weke voor lam groei waarvan ± 70 % van die uiergroei gedurende die laaste vier weke voor lam is met die meeste groei die laaste drie weke (Robinson et al., 1978). Ooie moet dus vanaf minstens ses weke voor lam, voldoende deurvloeiproteïen; energie; minerale en sekere kritieke spoorelemente en vitamines inneem om uierontwikkeling te maksimeer vir maksimum biesproduksie en om optimum geboortemassa (4.5 – 5.5 kg) te verseker om hoë lamoorlewing (> 95 %) te verseker. Aangesien tot 85 % van die proteïen in groenweiding in die grootpens van die skaap afgebreek word (Corbett, 1987), is dit noodsaaklik dat deurvloeiproteïen ook op groenweidings aangevul word.

Deur te verseker dat lammers voldoende bies inneem en deur inmenging, veral die eerste ses uur na geboorte, te verhoed, kan lamvrektes tot < 5 % beperk word. Die ooi en haar lam(mers) moet ten minste vir ses ure op die geboorteplek bly om binding te bevorder (Ferguson et al., 2007). In hierdie verband word die gebruik van lamhokke hoogs aanbeveel omdat dit sal meehelp om lamvrektes tot minder as 5 % te beperk. Lamhokke skep vir lammers die geleentheid om die eerste dag na geboorte onbeperk (Goursaud & Nowak, 1999) en ongestoord te kan suip. Voldoende voorsiening van bies gedurende die eerste paar uur na geboorte voorsien die lammers van die energie, vog en teenliggaampies (immunoglobuliene) wat lewensbelangrik is vir oorlewing (Milton, 2005). Lammers moet voldoende bies inneem, dit is ± 5 % van liggaamsmassa binne eerste drie uur; ± 10 % (Mellor, 1990) binne 12 uur en ± 20 % van liggaamsmassa binne die eerste dag na geboorte (Shubber & Doxey, 1979), want 'n volpens stimuleer binding (Val-Lailett, 2004). Hierdie aanbevole biesinname kan onder baie koue, nat en winderige asook baie warm weerstoestande met tot 30 % toeneem (Mellor & Murray, 1985; 1986). Skakel dr. Jasper Coetzee vir meer inligting oor lamhokke.

Nog 'n metode om lamoorlewing te maksimeer, is deur 'n kombinasie van bestuur, voeding en genetiese seleksie (Martin et al., 2004). Om die inteling van swak moedereienskappe te voorkom, moet alle ooie asook hulle lammers uitgeskot word wat in die lamhokke geen of nie voldoende melk produseer nie; ooie wat een of beide lammers nie wil aanvaar nie; ooie wat aggressief is teenoor hulle lammers; wat met geboorte gehelp moes word en ooie met speenprobleme (bv. taai melkers). Nuutste Australiese navorsing (Murphy et al., 1994) toon dat daar twee tipe ooie (kalm & senuweeagtige) is. Laasgenoemde openbaar swak moedereienskappe veral in onnatuurlike en stresvolle situasies soos lamhokke wat dit gevolglik maklik maak om daarteen te selekteer.

Dit blyk dae goeie voeding gedurende laktasie 'n oordrageffek het wat die daaropvolgende lampersentasie verhoog (Jefferies, 1984). Nie eens volop goeie gehalte gras-lusernweiding is voldoende vir lakterende ooie om volgens hulle volle genetiese potensiaal te produseer en te reproduseer nie. Hulle moet dus altyd byvoeding ontvang. Die voedingspeil gedurende die eerste twee maande na lam moet sodanig wees dat ooie nie meer as 10 % van hulle massa verloor nie. Proewe toon dat waar die ooie meer massa verloor het, hulle daaropvolgende lampersentasie tot 25 en in een geval tot 51 persentasie-eenhede laer was. Die doelwit moet wees dat jongooie wat vir die eerste keer lam, nie meer as 3 % en volwasse ooie nie meer as
7 % in massa gedurende die eerste twee maande van laktasie verloor nie.

Die doelwit gedurende laktasie is hoë voorspeense lamgroeitempo. Ooie moet dus 'n hoë melkproduksie hê om hoë lamgroei (> 350 g/dag) te verseker sodat lammers op 100 dae ouderdom of vroeër gespeen kan word. Ooie in goeie kondisie gedurende laktasie produseer meer melk wat groter lammers met hoër lamoorlewing en -groeitempo tot gevolg het. Ooie in 'n swak kondisie sal swak melkproduksie hê en sal geneig wees om lammers vroeër te speen met gevolglike laer lamgroeitempo (Ferguson et al., 2007). Voedingsbeperking vir 1 tot 1½ weke, beïnvloed groei van tweelinge nadelig. Melkproduksie word nadelig beïnvloed deur 'n voedingsbeperking van vier weke en geen styging in melkproduksie vind plaas indien ad lib.-voeding na hierdie periode geskied nie.

Ooie moet melk soos melkkoeie produseer om te verseker dat lammers volgens hulle genetiese groeipotensiaal groei sodat hulle vroeër bemark kan word. Geen weiding (natuurlik of aangeplant), selfs nie eens groenweiding nie, voorsien voldoende voedingstowwe om hierdie hoë vlakke van melkproduksie te handhaaf nie. Daarom moet 'n Maxiwollek (250 kg Maxiwolkonsentraat + 200 kg gemaalde mielies of garspitte + 50 kg sout) altyd aan laatdragtige (300 – 400 g/ooi/dag) en lakterende ooie (400 – 500 g/ooi/dag) op enige tipe of gehalte weiding voorsien word. Indien die weiding onvoldoende is, moet 'n volledige lammerooirantsoen (375 kg gemaalde lusern + 350 kg gemaalde mielies + 100 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 100 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel) teen maksimum 3.5 kg/ooi/dag voorsien word. Ooie met 1-lingfetusse moet na aanpassing ± 2.5 % en dié met 2-lingfetusse ± 3 % van liggaamsmassa gevoer word. Ooie met 1-linglammers word ± 3 % en dié met 2-linglammers ± 4 % van liggaamsmassa gevoer. Die oorskakeling van sjokolademielies na 'n Maxiwollek as 'n prikkelvoer en 'n lammerooilek het die speenpersentasie van Coena le Roux van Delareyville se ooie se speenpersentasie van 78 % tot 152 % verhoog. Met die gebruik van 'n volledige Maxiwolgebaseerde lammerooirantsoen en lamhokke het Gawie Carstens van Porterville sy ooie se speenpersentasie van 80 % tot 144 % verhoog en Middelpost Boerdery van Koringberg van 79 % tot 154 %. Ben Brynard pas hierdie riglyne al jare toe en het die afgelope lamseisoen (April 2010) 176 % lammers gespeen.

Weens die uiters doeltreffende voeromsetting van die jong lam, moet alles moontlik gedoen word om te verseker dat die lam volgens sy maksimum genetiese groeipotensiaal groei. Die twee hooffaktore wat die groei van sogende lammers op weiding beperk, is die onvermoë van die lam se rumen om weiding doeltreffend te benut en die lam se relatief klein rumengrootte wanneer 'n weiding met 'n hoë voginhoud bewei word (Joyce & Rattray, 1970). Die voorsiening van kruipvoer aan sogende lammers is ononderhandelbaar vir winsgewende skaapproduksie omdat dit uiters koste-doeltreffend is weens die uitstekende voeromsetting met kruipvoer van 2.1 tot 3.1:1 (Alcock, 2006; Brand et al., 1999). Kruipvoeding verhoed speenskok en maak dit moontlik om lammers alreeds op 72 dae ouderdom op 'n minimum massa van 25 kg vroeg te speen. Kruipvoeding kan lamgroei met tot 100 g/lam/dag verhoog en gevolglik kan lammers vroeër asook swaarder gespeen word en kan hulle tot 50 dae en selfs meer, vroeër bemark word (Brand et al., 1999) wat dit moontlik maak om meer ooie aan te hou. As gevolg van kruipvoeding weeg DB Lubbe van Prieska se Merinolammers met speen op 60 tot 70 dae ouderdom 25 tot 35 kg. Met kruipvoeding is dit ook moontlik om 'n groot persentasie lammers direk van die ooie op drie tot vier maande ouderdom te bemark. Sogende lammers wat direk van die ooie bemark word, het 'n baie hoë uitslagpersentasie
(> 50 %).

'n Gemaalde kruipvoermengsel (150 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel + 550 kg gemaalde mielies of heel garspitte) of kruippille (150 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 625 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 75 kg lusern) of Voermol Superlamkorrels kan ad lib. vanaf 10 dae ouderdom tot ongeveer twee weke na speen gevoer word. Afrondkorrels; Ooi- en Lamkorrels; Ramkorrels of Droogtekorrels is nie geskik as 'n kruipvoer nie. Daar moet vir voldoende vreetspasie (± 2.5 tot 5 cm/lam) voorsiening gemaak word. Lammers wat kruipvoeding ontvang en vir die slagmark bestem is, kan op ses weke ouderdom met 'n geskikte oorinplantaat (bv. Ralgro®) geïnplanteer word omdat dit groei en voeromsetting verbeter.

Samevatting

Rykdom lê nie in die aantal ooie nie, maar in die aanwending van tegnologie. Australiese konsultante is dit eens dat die gewilligheid van 'n produsent om nuwe tegnologie en bestuurspraktyke in sy kudde te gebruik, grootliks sy winsgewendheid bepaal. Navorsing oor presisievoeding in Australië is al ver gevorder en die verwagting is dat van die bevindings en tegnieke (bv. outomatiese skaapbestuur soos elektroniese oorplaatjies; toerusting wat skape se oorplaatjies outomaties lees en skape outomaties in groepe uitkeer en weeg; individuele voeding volgens behoefte, ensovoorts) binne die volgende vyf jaar in die praktyk geïmplementeer gaan word (Rowe, 2010). Presisievoeding en elektroniese skaapbestuur fokus daarop om die doeltreffend en winsgewendheid van skaapboerdery te verbeter. Optimum produksie en maksimum winsgewendheid word bereik deur 'n kombinasie van verbeterde genetiese potensiaal, toepassing van sleutelbestuurspraktyke en inname van gebalanseerde voedingstowwe (Larsen, 2007). Produsente wat altyd byvoeding aan laatdragtige en lakterende ooie gee, wat kruipvoer aan lammers voorsien en jongooie van speen tot 30 dae na eerste paring byvoeding gee, genereer die hoogste netto wins. Die vraag is of jy langer kan bekostig om sonder voorafgaande riglyne te boer, want jy verloor te veel geld as jy dit nie doen nie!!! Om maksimum doeltreffendheid van skaapboerdery te verseker, moet die regte voedingstowwe gedurende elke stadium van die reproduksieproses voorsien word (Blache & Martin, 2009), dus presisievoeding. Die voorsiening van gefokusde byvoeding, met spesifieke samestellings, gedurende kritieke fisiologiese stadiums is 'n uiters noodsaaklike bestuurshulpmiddel om reproduksietempo te maksimeer. Navorsers hoop om mettertyd tegnieke te ontwikkeling waar presisievoeding op die korrekte tydstip en vir kortste moontlike tyd toegepas kan word om maksimum respons in terme van reproduksie te behaal.

SOEK ARTIKELS

Sleutelwoord, Produk of Skrywer

TEGNIESE SPAN

DR. FRANCOIS VAN DE VYVER - Tegniese Direkteur:
Voeding, Bestuur & Kleinveeteling

Hendrik van Pletzen - Tegniese Bestuurder:
Vleisbeesbestuur, voeding, weidings, produksiestelsels en ekonomie.

Technical Manager - Tegniese Bestuurder:
Suiwel- en Pluimveevoeding, Gehaltebeheer & Produkontwikkeling

Ulrich Müller - Tegniese Bestuurder:
Voerkraal-, Wild- & Volstruisvoeding