RIGLYNE VIR LEKAANVULLING OP GROEN WEIDINGS

Op groen somerweiding is fosfor oor die algemeen die belangrikste tekort, maar volgens nuutste navorsingsresultate en algemene probleme wat boere ondervind, kom spoorelementtekorte toenemend voor. Sinktekorte kom algemeen voor in die somersaaigebiede en ’n sinktekort lei tot embrionale vrektes (dus swak besetting), abnormale spermvorming, vertraagde testisontwikkeling, swak immuniteit en ’n hoër voorkoms van vrotpootjie, veral in nat omstandighede. Kopertekorte kom ook redelike algemeen voor en simptome is bloedarmoede, swak groei, lae vrugbaarheid, verlies aan wolkarteling en swart beeste toon ’n roesbruin haarkleed, veral op die kruis. Mangaan- en seleniumtekorte kom ook voor, maar minder algemeen as sink en koper. Seleniumtekorte kom meer algemeen op die swaarder rooigronde voor. Hierdie vier spoorelemente, nl. sink, koper, mangaan en selenium, speel ’n belangrike rol by vrugbaarheid van plaasdiere. Hoogproduserende diere, d.w.s. ’n vleisbeeskoei wat elke jaar kalf en ’n ooi wat ten minste een lam per jaar speen, se aanvraag vir minerale en spoorminerale is hoog. Die mees algemene metode om hierdie tekorte aan te vul is d.m.v. Voermol Rumevite 6P (V11995) of ’n mengsel van 50 kg sout met 50 kg Voermol Rumevite 12P (V11994). Waar inname van bg. lekke nie voldoende is nie, kan die melasse gebaseerde klaargemengde Voermol Superfos (V17422) oorweeg word of ‘n mengsel van 50 kg Voermol Rumevite 12P, 50kg Voermol Super 18 (V355) en 50 kg sout. Hoër innames word met hierdie lekke verkry omdat melasse smaaklikheid bevorder. In die reëntyd is ’n loslek in ’n oop lekbak gewoonlik ’n probleem en lekverliese kom voor. Die Voermol Fosfaatblok (V10264) is by uitnemendheid geskik as aanvulling in sulke omstandighede omdat dit maklik hanteerbaar is, lekinname word beheer en baie min verliese kom voor. ’n Koei met kalf het bv. 200 g van die Fosfaatblok per dag nodig en plaas genoeg blokke uit vir ’n periode van bv. 14 dae om lekinname te beheer. Indien die fosfaatblokke gouer opgevreet raak, is dit nie ‘n probleem nie aangesien minerale in die liggaam opgeberg word en ’n dier kan maar vir ’n paar dae sonder die lek klaarkom, mits voldoende hoeveelhede aanvanklik uitgesit is. In gebiede waar akute spoorelementtekorte voorkom, gee ’n bykomende aanvulling in die vorm van Multimin.

Op groen aangeplante weidings is die basiese aanvulling ook minerale en spoorminerale. Hoë stikstofbemesting op aangeplante weidings kan bydra tot metaboliese steurnisse in diere soos bv. ammoniak- en nitraatvergiftiging. Mineraal- en vitamien metabolisme word versteur en dit lei tot swakker melkproduksie, groei en reproduksie. Alhoewel die ruproteïen- inhoud van bemeste weidings hoog is, is dit hoog oplosbaar en degradeerbaar en relatief min proteïen bereik die melkpens en dunderm. Die energiewaarde van hierdie weidings is relatief laag en diere rond nie maklik af nie. Voermol Molovite (V7266) is spesiaal ontwikkel om voedingstekorte op bemeste aangeplante weidings aan te vul en dit word aanbeveel vir die afronding van speenkalwers of diere met ’n hoë voedingsbehoefte soos bv. eerstekalfverse of fase D bulle in ’n semi-ekstensiewe weidingstoets. Molovite is ’n energie-minerale aanvulling met 10% ruproteïen wat geen NPN bevat nie, is klaargemeng en kan net so gebruik word. Dit bevat min sout, is melasse gebaseer wat goeie inname verseker en bevat medikamente wat die energiebenutting op weidings verbeter. In ontwikkelingsproewe het Molovite die groei van speenkalwers met 62% verbeter bo ’n standaard fosfaat- aanvulling. Die aanbevole inname van Molovite is ongeveer 1 kg per bees per dag en 200 g per skaap per dag. Om diere vinniger af te rond (vet aansit), kan Molovite in gelyke dele met graanmeel vermeng word en gee dan 2 kg van die mengsel per bees per dag en 400 g per skaap per dag.

’n Kenmerk van somerveld is dat die produksie en kwaliteit nou saamhang met reënval. Die somerreënvalgebiede word gekenmerk deur afwisselende korter droogteperiodes waartydens veldkwaliteit vinnig daal en groei van bv. speenkalwers afneem. Om hierdie variasie en afname in somerveldkwaliteit te stut, word Voermol Supermol (V7267) as produksielek aanbeveel. Supermol is ’n proteïen-energie-minerale aanvulling met 20% ruproteïen. Dit word aanbeveel vir die afronding van speenkalwers op somerveld of vir diere met ’n hoër voedingsbehoefte soos bv. koeie in die teelseisoen. Supermol word met groot sukses as prikkellek gebruik 21 dae voor die teelseisoen en ’n verdere 21 of 42 dae in die teelseisoen. Die aanbevole inname van Supermol is 1,2 kg per bees per dag en dit kan ook in gelyke dele met graanmeel gemeng word om kalwers vinniger af te rond. Voorsien ’n maksimum van 2,5 kg van die mengsel per bees per dag en maak seker dat genoeg vreetspasie beskikbaar is vir almal om gelyk te vreet.

Om saam te vat : die basiese aanvulling op groen somerweidings is fosfaat en spoorminerale. Vir diere met ’n hoër voedingsbehoefte soos bv. speenkalwers of eerstekalfverse voor en tydens die teelseisoen, gebruik Molovite op bemeste aangeplante weidings en Supermol op veld.

SOEK ARTIKELS

Sleutelwoord, Produk of Skrywer

TEGNIESE SPAN

DR. FRANCOIS VAN DE VYVER - Tegniese Direkteur:
Voeding, Bestuur & Kleinveeteling

Hendrik van Pletzen - Tegniese Bestuurder:
Vleisbeesbestuur, voeding, weidings, produksiestelsels en ekonomie.

Technical Manager - Tegniese Bestuurder:
Suiwel- en Pluimveevoeding, Gehaltebeheer & Produkontwikkeling

Ulrich Müller - Tegniese Bestuurder:
Voerkraal-, Wild- & Volstruisvoeding