SOUT VIR BEESTE

Sout is 'n noodsaaklike voedingstof waarsonder diere nie kan klaarkom nie. In die suurgrasveldgebiede van die land is drinkwater en veldgrasse gebrekkig aan sout. In hierdie gebiede is dit dus voordelig om hierdie souttekort aan te vul. In die praktyk word daar egter meer probleme met 'n oormaat soutinname ondervind as met 'n tekort daarvan. Die belangrikste redes vir 'n oormaat soutinname is:
 
  • die voer van soutlekke of soutklip;
  • te hoë vlakke van soutinsluiting in lekke en rantsoene en
  • waar drinkwater brak of sout is en veral as dan nog te hoë vlakke van sout addisioneel bygevoer word;

Soutinname vanuit lekke

Die normale soutinsluiting in fosfaatlekke is 30 tot 50 %; proteïenlekke 25 tot 35 % en produksielekke 10 tot 20 %.

In die geval van fosfaatlekke word Rumevite 12P Fosfaatlekkonsentraat om die helfte met sout gemeng om 'n P6-lek te gee. Die aanbevole inname van die lekmengsel is 100 tot 240 g/bees/dag, m.a.w. dit gee 'n soutinname van 50 tot 120 g/bees/dag.

In die geval van 'n proteïenlek wat op droë wintergras in die somerreënvalgebied gevoer word, word die volgende lekmengsel aanbeveel: 250 kg Voermol Dundeelekkonsentraat + 100 kg Voermol Melassemeel + 150 kg sout. Die aanbevole inname van hierdie lek is 355 tot 470 g/bees/dag, wat 'n soutinname van 107 tot 141 g/bees/dag gee.

In die geval van 'n produksielek word die volgende mengsel aanbeveel: 250 kg Voermol Dundeelekkonsentraat + 50 kg Rumevite 12P + 550 kg mieliemeel + 150 kg sout. Die aanbevole inname van hierdie lek is 1.5 kg/bees/dag, wat 'n soutinname van 225 g/bees/dag gee. Weens die hoë inname van energie vanuit die lek is die hoë soutinname nie skadelik vir die dier nie, want die energie word gebruik om die ekstra sout uit te skei.

Die aanbeveling is dat die soutinname nie 1.17 (Godwin en Williams, 1986) tot 1.47 g/kg liggaamsmassa/dag moet oorskry nie. Indien hierdie vlakke oorskry word, neem die verteerbaarheid van die ingenome voer of weiding af weens die skadelike invloed van die sout op die sellulitiese bakterieë. In die geval van 'n 450 koei is dit 527 tot 662 g sout/koei/dag. Die soutinname uit bogenoemde lekke is heelwat laer as hierdie norm. Verder gee die soutinnames vanuit bogenoemde Voermollekke geen probleme in terme van groei, produksie en reproduksie in die praktyk nie, trouens ons kliënte op hierdie lekke het speenpersentasies van meer as 95 % en speenmassa van kalwers van meer as 250 kg. Die diere sal deur laer kalfpersentasie, laer speenmassa en ander simptome (bv. artrose) wys wanneer hulle negatief beïnvloed word deur 'n voedingstekort en/of -wanbalans.

Soutbehoefte van vleisbeeste

Hoewel die soutbehoefte van vleisbeeste laag is, het herkouers altyd 'n "craving" na sout en sal hulle altyd te veel sout inneem indien hulle vrye toegang daartoe het. Hulle vreet dus vrywillig meer sout as wat hulle nodig het. Vleisbeeste se soutbehoefte word as 0.13 tot
0.20 % van die totale dieet aangegee, m.a.w. indien die diere 15 kg voer vreet, is die soutinname ongeveer 20 tot 30 g/bees/dag. In die praktyk word dikwels 0.5 %, dus 75 g sout/bees/dag as die algemene norm aanvaar. Die maksimum toleransie vir sout is egter baie hoog, tot 9 % van die rantsoen, mits daar egter voldoende vars water beskikbaar is.

Soutvergiftiging

Beeste wat aan akute soutvergiftiging ly, toon simptome wat op die oog af baie soos dié van 'n fosfortekort (bv. laer weidinginname; uithongering en vermaering; krom rug; stywe gewrigte; verlies aan produksie) lyk. Gedurende die wintermaande is daar veral in die grasveldgebiede van die somerreënvalgebied 'n tekort aan proteïen en energie. In sulke omstandighede, veral as daar nie voldoende weiding is nie of as die weidings van 'n baie lae gehalte is, is die beeste se lekinname hoër as die aanbevole peil wat dan tot hoë soutinname vanuit die lekke aanleiding gee. Wat dikwels in die praktyk gebeur, is dat addisionele sout dan by die lekke gevoeg word in 'n poging om die lekinname laer te kry. Indien voldoende vars drinkwater beskikbaar is, sal diere voldoende water kan drink wat die liggaam dan in staat stel om die oortollige sout uit te skei sonder dat dit te veel skade berokken. Die werklike probleem van soutvergiftiging ontstaan egter wanneer die drinkwater ook sout bevat. 'n Bose kringloop van lek vreet gevolg deur water suip (nog meer sout) lei tot vrektes weens lae veldinname en 'n verstoring van die liggaam se katioon-anioonbalans weens te hoë soutinname.

Ondanks die uitstekende resultate wat met fosfaataanvulling verkry word, is daar nog steeds produsente wat slegs 'n soutlek of klipsout (soutblok) op groenweiding verskaf. Te hoë soutinname ontwrig sekere prosesse in die grootpens en verlaag massatoename en produksie waarskynlik as gevolg van 'n wanbalans tussen natrium en kalium in die liggaamsvloeistowwe. Baie hoë soutinnames wat dikwels in die praktyk ondervind word waar slegs soutlekke gevoer word, is nie net altyd as gevolg van 'n southonger nie, maar kan moontlik ook 'n aanduiding van pika (afwykende aptyt) wees as gevolg van 'n fosfortekort en/of ander makromineraal- of spoorelementtekort en/of -wanbalans. Daarbenewens is aangetoon dat te hoë soutinname 'n fosfortekort kan induseer (veroorsaak). Soutlekke (bv. klipsout) moenie terselfdertyd eenkant saam met soutfosfaatmineraallekke, trouens met geen ander lekke gevoer word nie, want diere verkies sout en sal dus glad nie of te min van die mineraallek inneem!!!! (Arthington, 2002). "Ruminants have an appetite for sodium and if salt is provided free-choice, they will consume more than they require (Buskirk et al., 2002)." Daar moet dus nooit soutlekke of -soutklip gevoer word wanneer enige ander lekke gevoer word nie, want hierdie lekke voorsien voldoende sout. Tabel 1 toon die resultate waar diere net 'n soutlek gevoer word en hulle dan 'n tekort aan minerale ondervind.

Tabel 1 Sout- vs. Mineraallek (McDowell, et al., 1983)


Item

Soutlek

Mineraallek

Aborsies

9.3 %

0.75 %

Vrektes vanaf geboorte tot speen

22.6 %

10.5 %

Speenpersentasie

38.4 %

60.4 %

Speenmassa op 9 maande

117 kg

147 kg

Massatoename van  groeiende beeste 
oor 572 dae

86 kg (GDT = 150 g/dag)

141 kg (GDT = 247 g/dag)

Kg Kalf geproduseer per koei per jaar

44.8 kg

88.7 kg



Metodes om soutinname te beperk

Sout is die mees praktiese en goedkoopste manier om lekinname te beheer. Soutinname kan deur verskeie metodes asook lekbestuur beperk word:

  • Indien die soutinname van 'n P6-lek wil verminder, meng 100 kg Rumevite 12P met 40 kg Voermol Super 18 en 50 kg sout.
  • Indien hoë soutinname 'n probleem is, kan 'n P12-lek net so, sonder sout, ook gevoer word.
  • Hoe fyner die sout hoe beter beheer dit die lekinname, m.a.w. deur fyn sout te gebruik hoe minder sout kan in lekke ingesluit word.
  • Lekinname kan fisies beheer word deur blokke aan beeste te verskaf. Blokke is relatief laag in sout en hulle inname word deur die hardheid van die blok beheer.
  • Voermol se klaargemengde lekke is laag in sout omdat ander inname-inhibeerders gebruik word om lekinname te beheer. Hierdie inname-inhibeerders is intellektuele eiendom en gevolglik kan meer besonderhede daaroor nie bekend gemaak word nie. Daar is goeie inname-inhibeerders beskikbaar, maar hulle is baie duur en maak dit nie koste-doeltreffend nie.
  • Wanneer lekinname skielik styg, is dit meestal 'n aanduiding dat die kampe opgevreet is en dat die diere geskuif moet word.
  • Wanneer lekinname baie hoog is, moet vasgestel word of die regte lek gebruik word. Dikwels het koeie gekalf en styg hulle voedingsbehoeftes omdat hulle melk moet produseer en voldoen 'n onderhoudslek nie aan hulle behoeftes nie en moet daar dan na 'n produksielek oorgeskakel word. Deur die lekbakke aan die teenoorgestelde kant van die waterbak in kamp te plaas, word oormatige lekinname ook beheer.

Samevatting

Dit is belangrik om te beklemtoon dat sout nie apart van lekke gevoer moet word nie, want herkouers verkies sout en sal dan hulle soutbehoefte grootliks bevredig deur slegs sout te vreet wat tot lae of onvoldoende lekinname aanleiding sal gee. Dit kan op sy beurt weer tot tekorte aan makro-minerale, spoorelemente en proteïen aanleiding gee (Arthington, 2002). Deur die vervaardigers se voorskrifte en aanbevelings te volg, behoort diere se produksie en reproduksie nie benadeel te word waar sout as inname-inhibeerder van lekke gebruik word nie.

SOEK ARTIKELS

Sleutelwoord, Produk of Skrywer

TEGNIESE SPAN

Hendrik van Pletzen - Tegniese Bestuurder:
Vleisbeesbestuur, voeding, weidings, produksiestelsels en ekonomie.

Technical Manager - Tegniese Bestuurder:
Suiwel- en Pluimveevoeding, Gehaltebeheer & Produkontwikkeling

Ulrich Müller - Tegniese Bestuurder:
Voerkraal-, Wild- & Volstruisvoeding

Voermol - Tegniese Direkteur:
Voeding, Bestuur & Kleinveeteling