Suksesvolle binding (vorming van ooi-lamband) tussen 'n ooi en haar lam(mers) is 'n voorvereiste vir hoë lamoorlewing wat meehelp om lamvrektes tot 'n minimum te beperk. Die twee belangrikste aspekte wat 'n rol speel om volledige binding te bewerkstelling, is bies en afsondering (Val-Laillet, 2004). Die oorlewing van lammers is afhanklik van die sukses-volle interaksie van die ooi en haar lam(mers) kort na geboorte (d.i. binding) (Poindron et al., 1984) en die vinnige inname van voldoende bies (Murphy et al., 1996) binne drie uur na geboorte (Brown & Meadowcroft, 1990). Lamoorlewing hou verband met die voeding van die ooi gedurende laatdragtigheid (Binns et al., 2002). Ongeveer 80 % van die fetusgroei vind gedurende die laaste twee maande van dragtigheid plaas wat 'n betekenisvolle toename in die voedingsbehoeftes van die laatdragtige ooie tot gevolg het (Bell, 1995; Dawson et al., 1999). Terselfdertyd is daar 'n groot toename in die proteïenbehoeftes, veral deurvloei-proteïen, vir uiergroei en biesproduksie gedurende laatdragtigheid, veral die laaste twee weke (Robinson, 1985). Ongeag die hoë voedingsbehoeftes van die laatdragtige ooi (Bell, 1995) neem die vrywillige voerinname gedurende die laaste twee weke voor lam af (Orr & Treacher, 1984) omdat die kapasiteit van die grootpens beperk word weens die toename in die volume van die baarmoeder as gevolg van die vinnige groei van die fetus(se). Weens die lywigheid van weiding en ruvoere moet hulle gedeeltelik met konsentrate (lekke) verplaas word om in die laatdragtige ooi se hoë voedingsbehoeftes te voorsien. Hierdie artikel fokus hoofsaaklik op die belangrikheid van biesinname deur die pasgebore lam en die afsondering van die ooi wanneer sy geboorte moet skenk.
Voldoende biesinname betyds
Die beskikbaarheid van voldoende bies vir pasgebore lammers onmiddellik na geboorte is van kritieke belang vir hoë lamoorlewing. In 'n ooitrop waar die meeste ooie min bies het, sal 'n groot persentasie van die ooie eers 'n paar uur na geboorte van hulle lammers begin om bies te produseer wat hulle lammers se kanse om te oorleef drasties verlaag. Hierdie toestand dui op 'n voedingsprobleem (bv. geen of te lae deurvloeiproteïeninname). Aspekte wat verseker dat pasgebore lammers voldoende bies betyds inneem vir 'n suksesvolle binding is:
Plasenta-ontwikkeling en biesproduksie
Ondervoeding voor Dag 100 van dragtigheid (d.i. middragtigheid) kan bies- en melk-produksie nadelig beïnvloed weens die betrokkenheid van die plasenta (nageboorte) in mammogenesis (melkklierontwikkeling) (Mellor, 1987). Die grootte van die plasenta bepaal grootliks die grootte van die uier en gevolglik ook bies- en melkproduksie. 'n Afname van tot 25 % in melkproduksie is by ooie waargeneem wat voor Dag 100 van dragtigheid ondervoed is ten spyte dat hulle ad lib.-voeding gedurende die laaste ses weke van dragtigheid ontvang het (Mavrogenis et al., 1980). Die plasenta produseer hormone wat noodsaaklik is vir die instandhouding van dragtigheid asook die ontwikkeling van die uier en gevolglik die hoeveelheid melk beskikbaar met lam. Plasentale hormone speel ook 'n belangrike rol in moederlike gedrag (moedereienskappe) omdat dit verantwoordelik is vir die vorming van die band tussen die ooi en die lam onmiddellik na lam.
Om optimale plasenta-ontwikkeling te verseker, waardeur uierontwikkeling bevorder word, moet middragtige ooie ± 50 – 100 g/ooi/dag in massa vanaf Dag 30 tot 100 van dragtigheid toeneem. Op volop droë grasveld of oesreste met pitte kan vir hierdie klas ooie een van die volgende onderhoudslekke (100 – 180 g/ooi/dag) gevoer word: Rumevite Ekonolek; Winslekonderhoudmengsel (250 kg Winslekkonsentraat + 40 kg Voermol Melassemeel +
100 kg sout) of Voermol Proteïenblok. Indien die ooie skraal is of nie hulle voorgeskrewe liggaamsmassatoename handhaaf nie, moet een van die volgende produksielekke (250 – 400 g/ooi/dag) voorsien word: Voermol Maxiwolkorrels; Ekonolek-produksiemengsel (700 kg Rumevite Ekonolek + 300 kg gemaalde mielies of heel garspitte); Winslekproduksiemengsel (400 kg Winslekkonsentraat + 400 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 150 kg sout); Voermol Produksielek of Voermol Energieblok.
Deurvloeiproteïeninname en biesproduksie
Uierontwikkeling en biesproduksie (Banchero, 2004) asook totale melkproduksie is hoogs gekorreleerd (Bencini & Purvis, 1990). Daar is ook 'n direkte korrelasie tussen biesproduksie en proteïeninname (Robinson & Aitken, 1985), veral deurvloeiproteïen (Cowan et al., 1981). Plaaslike navorsing het telkemale al bewys dat, mits voldoende deurvloeiproteïen in laatdragtigheid voorsien word, daar geen waarborg is dat voldoende uierontwikkeling sal plaasvind om 'n hoë produksie van vloeibare bies te verseker nie, selfs al handhaaf laatdragtige ooie die voorgeskrewe liggaamsmassatoename (MLC, 1988; NRC, 2007). Volgens Robinson (1990) is uierontwikkeling direk afhanklik van die hoeveelheid deurvloeiproteïen ingeneem. Die voorbereiding vir laktasie deur die voorsiening van die regte voedingstowwe (deurvloeiproteïen en energie) gedurende laatdragtigheid is volgens Lindsay (1988) baie meer belangrik as die voeding gedurende laktasie self. Lammers van ooie wat 'n hoë lekinname gedurende laatdragtigheid gehad het, het 27 % beter gegroei (248 vs. 196 g/lam/dag) as dié wie se moeders 'n lae lekinname gedurende laatdragtigheid gehad het (Moore, 1996).
Laatdragtige ooie wat in Australië slegs hawerpitte as byvoeding ontvang het se biesproduksie met lam en die eerste ses uur daarna was laer of dieselfde as die ooie wat geen byvoeding ontvang het nie weens 'n deurvloeiproteïentekort (Hall et al., 1992). Ongeveer
30 % ooie met tweelinge en 10 % met enkelinge produseer nie voldoende bies op groen hawerweiding nie terwyl 5 % geen melk een uur na geboorte gehad het nie (Mellor & Murray, 1986) weens 'n deurvloeiproteïentekort. Om dieselfde rede het 33 % van ooie met tweelinge gedurende koue, nat toestande nie genoeg bies op gras-klawerweiding geproduseer nie (Murphy et al., 1996).
Laatdragtige ooie wat geen of te min deurvloeiproteïen inneem, toon nie net swak uierontwikkeling nie, maar produseer ook abnormale taai en dik bies wat hoë lamvrektes tot gevolg het. Abnormale taai en dik bies hou verband met lae biesproduksie (Banchero, 2004); is moeilik om uit te suig (Holst, 1997); vertraagde aanvang van laktasie (Holst et al., 1996) en die lammers drink nie binne drie uur na geboorte nie (McCance & Alexander, 1959). Hoe taaier en dikker die bies, hoe groter die kans dat een van 'n tweeling kan vrek (Holst et al., 1996). Ooie wat vloeibare en voldoende bies reeds met die geboorte van haar lam(mers) het, se lammers suip gouer na geboorte wat die vorming van 'n sterk ooi-lamband verseker.
Navorsing toon dat die verskaffing van deurvloeiproteïen aan laatdragtige ooie lamoorlewing met tot 15 – 50 % verhoog (McMeniman et al., 1982; Hinch et al., 1996) ondermeer omdat dit die biesproduksie verhoog (11 tot 55 %: Robinson, 1987). Nie alle proteïenbronne is geskik vir laatdragtige ooie nie omdat sommiges (ureum, lupiene, sonneblomoliekoekmeel, kanola-oliekoekmeel, grondbone-oliekoekmeel, soja-oliekoekmeel, ensovoorts) laag in deurvloei-proteïen is omdat hulle hoogs degradeerbaar (breek in die grootpens af) is en/of nie die ideale aminosuurprofiel voorsien nie. Australiese navorsing vind dat kanola-oliekoekmeel geboorte-massa en lamgroei verlaag en lamvrektes verhoog weens die voorkoms van antivoedings-faktore. Om optimum diereprestasie te verseker, moet die insluiting van kanola-oliekoekmeel met omsigtigheid geskied (Brand et al., 2007). Dit is verder belangrik dat die deurvloei-proteïenbronne in 'n sekere verhouding gemeng word sodat hulle aminosure, wat in die laer spysverteringskanaal geabsorbeer word, die aminosure wat deur die mikrobiese proteïen voorsien word, op so 'n wyse aanvul dat al die ontbrekende essensiële aminosure aangevul word om bies te sintetiseer (vervaardig). Die beste deurvloeiproteïenbronne is vismeel, katoenoliekoekmeel, brouersgraan en gluten 60.
As gevolg van intensiewe navorsing oor jare is daar met die ontwikkeling van Voermol Maxiwol geslaag om die vier beste deurvloeiproteïenbronne (d.i. vismeel, katoen-oliekoekmeel, brouersgraan en gluten 60) in 'n unieke kombinasie met 'n uitstekende aminosuurprofiel saam te voeg sodat Maxiwol al die korrekte aminosure in die regte hoeveelheid en verhouding aan ooie voorsien om uierontwikkeling te stimuleer en die produksie van vloeibare bies te maksimeer. Een van die volgende lekke kan aan laatdragtige en lakterende ooie gevoer word: 'n Maxiwollekmengsel (250 kg Voermol Maxiwol + 200 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 50 kg sout); Voermol Maxiwol Produksiekorrels; Voermol Maxiwol Readymix of Voermol Maxiblok. Vir laatdragtige ooie met tweelingfetusse word een van hierdie lekke vanaf ses weke (± 400 g/ooi/dag) en dié met enkelingfetusse vanaf vier weke voor lam (± 300 g/ooi/dag) gevoer. Na lam word die onderskeie voedingspeile met 100 g/ooi/dag verhoog. Onder geen omstandighede moet skoon grane; sjokoladegrane, droogtekorrels; afrondkorrels of ooi- en lamkorrels vir hierdie klas diere gevoer word nie omdat hulle deurvloeiproteïeninhoud te laag is en/of hulle aminosuurprofiel nie korrek is nie. Dit gee aanleiding tot swak uierontwikkeling; lae bies- en melkproduksie; abnormale dik en taai bies; swak lewensvatbaarheid van pasgebore lammers; swak moedereienskappe (ooie wat lammers weggooi); geboorteprobleme; soms ook domsiekte en melkkoors en uiteindelik hoë lamvrektes en swak lamgroei tot gevolg het.
Gepubliseerde voedingstabelle wat tans gebruik word as riglyne vir die voedingsbehoeftes van skape verwys almal na 'n "gemiddelde dier" onder "normale" voedingstoestande en wat in 'n goeie gesondheidstoestand is. Genetiese vordering asook die boerderypraktyke wat tans gevolg word, het tot gevolg dat "normale" toestande nie meer geld nie en dat die voedingsaanbevelings verouderd is (Meschy, 2003). Hierdie tabelle neem ook nie die deurvloeiproteïenbehoeftes vir uierontwikkeling en biesproduksie in ag nie (Robinson, 1983) terwyl geen voorsiening vir die verhoogde voedingsbehoeftes (kan tot 30 % hoër wees) weens ongure weerstoestande (bv. koue, reën, hitte en wind) gemaak word nie. Robinson (1987) beraam die deurvloeiproteïenbehoeftes van 'n laatdragtige ooi as 2.2 tot 4.4 g/kg geboortemassa van die lam. Aangesien tot 85 % van die proteïen in groenweiding in die grootpens van die skaap afgebreek word (Corbett, 1987), is dit noodsaaklik dat deurvloeiproteïen ook op groenweidings aangevul word.
Uit die voorafgaande is dit duidelik dat ongeag of laatdragtige ooie in 'n uitstekende kondisie is; die voorgeskrewe massatoename handhaaf of watter tipe en gehalte weiding hulle ook al bewei, hulle onder alle omstandighede 'n deurvloeiproteïenaanvulling gedurende laatdragtigheid moet ontvang. Die nuutste aanbeveling is om reeds vanaf ses weke voor lam met deurvloeiproteïenaanvulling te begin omdat die uier alreeds vanaf vyf weke voor lam begin groei. Die peil van deurvloeiproteïenaanvulling moet stelselmatig verhoog word omdat
± 70 % van die uiergroei gedurende die laaste vier weke voor lam plaasvind met die meeste groei die laaste drie weke (Robinson et al., 1978). Ongeveer 25 % meer uiergroei vind by laatdragtige ooie met tweelingfetusse as by dié met enkelingfetusse plaas en daarom moet meer deurvloeiproteïen en ook vir 'n langer periode vir eersgenoemdes voor lam gevoer word.
Vroeë inname van voldoende bies
Die vinnige inname van voldoende bies (Murphy et al., 1996), binne die eerste drie (Brown & Meadowcroft, 1990) tot vier uur na geboorte, is van lewensbelang vir lamoorlewing (Murphy et al., 1996). Onvoldoende biesinname kan tot lamvrektes aanleiding gee weens verkluiming of hitte-uitputting en ontwatering; lae weerstand teen siektes of ooie wat hulle lammers weggooi (Holst, 1997). Om te verseker dat die lam voldoende immuniteit teen siektes opbou, moet die lam ± 50 ml bies/kg liggaamsmassa binne die eerste drie uur na geboorte inneem, want daarna neem die vermoë om die teenliggaampies te absorbeer drasties af (Mellor, 1990). Navorsing toon ook dat die vorming van 'n band met die ooi vertraag word, al word die lam net vir die eerste twee uur na geboorte verhoed om te suip (Nowak, 1994). Lammers moet reeds 'n uur na geboorte begin suip.
Verlengde en veelvoudige suippogings die eerste vier uur na geboorte is 'n aanduiding dat lammers nie voldoende bies inneem nie (Holst, 1997) en dit is veral opmerklik hoe taaier en dikker die bies is (Holst et al., 1996). Lammers behoort elke uur te suip (Nowak & Poindron, 2006). Voldoende voorsiening van bies gedurende die eerste paar uur na geboorte voorsien die lammers van die energie, vog en teenliggaampies (immunoglobliene) wat lewensbelangrik is vir oorlewing (Milton, 2005). Lammers moet voldoende bies, dit is ± 5 % van liggaamsmassa binne eerste drie uur; ± 10 % (Mellor, 1990) binne 12 uur en ± 20 % van liggaamsmassa binne die eerste dag na geboorte inneem (Shubber & Doxey, 1979), want 'n volpens stimuleer binding (Val-Lailett, 2004). Hierdie aanbevole biesinname kan onder baie koue, nat en warm toestande met tot 30 % toeneem.
Onbeperkte suip gedurende die eerste dag na geboorte, veral die eerste ses uur, is van kritieke belang vir die lam om sy ma te leer ken. Lammers wat verhinder is om die eerste ses uur na geboorte te suip, was nie in staat om hulle moeders 24 uur na geboorte uit te ken nie omdat die bindingsproses nog nie plaasvind gevind het nie (Goursaud & Nowak, 1999) met gevolglike hoë lamvrektes. Indien die lam nie binne die eerste drie uur na geboorte suip nie, neem sy speensoekaktiwiteit af asook die ooi se belangstelling in die lam (Cottle, 1987 & Holst, 1997).
Suiging (suip) en die inname van bies gedurende die eerste ses uur na geboorte speel 'n wesenlike rol in die binding van die lam aan die ooi (Nowak et al., 1997; Goursaud & Nowak, 1999) en die handhawing van die moederlike gedrag deur die ooi (Rosenblatt & Siegel, 1981). Hierdie bindingsproses asook die handhawing van die moederlike gedrag word benadeel in die geval van ooie met 'n lae melkproduksie (Dwyer et al., 2003). 'n Pasgebore lam vorm slegs 'n band met die ooi wat hom laat suip het (Nowak et al., 1997).
Wanneer 'n lam begin suip, word die hormoon oksitosien deur die ooi vrygestel om die melk af te skei. Die hormoon oksitosien induseer moederlike gedrag (Keverne & Kendrick, 1992) en instink wat dan die binding van die ooi se kant laat plaasvind. Die vermoë van 'n lam om sy ma te herken, word deur die teenwoordigheid van bies in die lam se pens aangehelp (Goursaud & Nowak, 1999). Navorsing toon dat 'n lam wat die eerste ses uur na geboorte in totaal 100 ml biesmelk met vier suippogings ingeneem het, dit as 'n voldoende "beloning" beskou om met die spesifieke ooi te bind. Dit wil voorkom asof die inname van biesmelk 'n meganiese stimulering veroorsaak deurdat die maag opswel wat dan waarskynlik senuwees prikkel waardeur die lam dan 'n band met die ooi ontwikkel. Dit wil voorkom of die hitte-gevoelstimuli (bv. lek en nabyheid van die moeder) die eerste twee tot drie uur na die geboorte van die lam nie vir die lam voldoende is vir die ontwikkeling van 'n voorkeur verhouding (d.i. ooi-lamband) met sy moeder nie en dat die teenwoordigheid van biesmelk in die maagdermkanaal gedurende die eerste ses uur na geboorte noodsaaklik is (Goursaud & Nowak, 1999).
Om dus sterk en volledige binding te bewerkstellig, moet die ooi eerstens voldoende bies vir haar lam(mers) met geboorte beskikbaar hê en tweedens moet die lam(mers) die geleentheid gegun word om so gou moontlik na geboorte voldoende bies in te neem. Dit blyk dus dat 'n volpens en bies die twee belangrikste faktore is wat die binding tussen die ooi en haar lam(mers) bepaal (Val-Laillet et al., 2004).
Afsondering van die ooi en haar pasgebore lam(mers)
'n Ooie met haar pasgebore lam(mers) moet haar van die res van die trop afsonder om suksesvol te kan bind en gevolglik moet die inmenging deur ander ooie en/of mense voorkom word. Lamhokke boots hierdie natuurlike afsondering na en sal dus binding en gevolglik lamoorlewing bevorder. Indien 'n pasgebore lam van sy ma geskei word voordat hy gesuip het, byvoorbeeld deur die inmenging van mense en/of ander ooie, kwyn die ooi se moederlike instink en kan dit veroorsaak dat die ooi binne drie uur belangstelling in haar lam(mers) verloor (Cottle, 1987). Aspekte wat verseker dat 'n ooi en haar pasgebore lam(mers) hulle van die trop kan afsonder vir suksesvolle binding is:
Verblyf op geboorteplek
Ooie wat ondervoed is, sal kort na geboorte haar lamplek verlaat opsoek na kos, wat die bindingproses nadelig sal beïnvloed (Putu et al., 1988). Die voorkoms van skeiding tussen 'n ooi en een van haar lammers gedurende die eerste dag na geboorte word beïnvloed deur die tydperk wat die ooi binne 20 m van die geboorteplek deurbring. Die skeiding neem toe soos die tydperk wat op die geboorteplek spandeer word, afneem. Ooie wat onderskeidelik minder as 1 uur; 1 tot 2 uur; 2 tot 3 uur; 3 tot 4 uur en meer as 4 uur op die geboorteplek gebly het, is in ongeveer 75 %; 62 %; 38 %; 15 % en 5 % van die gevalle permanent van een of beide lammers geskei. Ooie met meerlinge moet vir ten minste ses ure naby die geboorteplek bly om die voorkoms van skeiding van een van die tweelinge te verminder. Volgens Murphy et al. (1996) is dit nie die feit dat die ooi vir die eerste ses ure na lam op die geboorteplek is nie, maar dat sy en haar lammers almal saam bymekaar is. Volgens Nowak (1996) kan tot 40 – 50 % van tweelinge van hulle moeders, binne die eerste 48 uur na geboorte, geskei word omdat hulle haar nie volg as sy wegstap nie. Voorspeense lamvrektes is baie hoog by lammers wat op dié manier van hulle moeders geskei word. Slegs ongeveer 32 % van sulke lammers oorleef in die praktyk (Anderson, 1984).
Ooie wat in 'n goeie kondisie (3 tot 3.5 kondisiepunt) met lam is en ook byvoeding gedurende laatdragtigheid ontvang het, is meer geneig om op die geboorteplek te bly om met hulle lam(mers) te bind as skraal (2 tot 2.5 kondisietelling) ooie. Indien die ooie op volop, goeie gehalte weiding lam, voldoende byvoeding ontvang en die lamkampe voldoende skuiling en skaduwee het, sal die ooie vir 'n langer periode op die geboorteplek bly (Pollard & Littlejohn, 1999). Vermy toestande en faktore wat veroorsaak dat die ooi gou na lam van haar lamplek padgee omdat dit lamvrektes in die hand werk. Dit gebeur met swak verspreiding van watersuipings in lamkampe wat ooie noodsaak om kort na lam die geboorteplek te verlaat op soek na drinkwater. Net so word ooie verplig om gou weg van hulle lamplek te wei as hulle op yl, swak weidings lam. Ooie wat aanvulling op sulke weidings ontvang, kan baie maklik van hulle lamplekke gelok en sodoende van hulle lammers geskei word deur die voertuig wat die aanvullings bring en daarom is die aanbeveling om ooie vanaf sewe dae voor lam totdat al die ooie klaar gelam het ad lib. te voer en te sorg dat die voerbakke nooit leeg is nie.
Veelading en tropgrootte
Veelading en tropgrootte het 'n definitiewe invloed op die oorlewing van lammers. In die Bredasdorp-omgewing is gevind dat die persentasie lammers gespeen per ooi gepaar met
7.5 % afgeneem het vir elke 50 ooie waarmee die tropgrootte vermeerder is (Fourie, 1990). Die rede hiervoor is 'n toename in die aantal lammers wat permanent van hulle moeders geskei word namate die getal ooie wat daagliks lam per eenheidsoppervlakte toeneem. Die hoofoorsaak van die skeidings is inmenging deur ooie wat op die punt is om te lam met die lammers van ooie wat besig is om te lam of wat pas gelam het. Voorspeense vrektes is baie hoog by lammers wat op dié manier van hulle moeders geskei word. Tot 20 % van ooie in 'n trop is geneig om in te meng (Arnold & Morgan, 1975). Hierdie ooie gooi meestal die vreemde lam(mers) weg sodra hulle eie gebore word (Nowak & Poindron, 2006). Hierdie inmenging begin 'n betekenisvolle faktor word waar meer as 10 ooie met meerlingfetusse en meer as 18 ooie met enkelingfetusse per hektaar gedurende lamtyd in een trop aangehou word.
Lamstelsels
Verskeie lamstelsels (ekstensiewe, rondskuif, klein kampie, klein troppie en lamhok) word gebruik. Indien een van die eerste vier lamstelsels gebruik word, moet die bestuurspraktyke die ooie toelaat om ongestoord vir minstens ses uur op die geboorteplek te bly (Murphy et al., 1994; Nowak & Poindron, 2006).
Kort voordat 'n ooi lam, sonder sy haar van die res van die trop af. Hierdie gedrag bevorder die binding tussen die ooi en haar pasgebore lam(mers) (Gonyou & Stookey, 1987). Die gebruik van lamhokke boots die natuurlike afsondering na (Val-Laillet, 2004) waardeur die vorming van die ooi-lamband bevorder word omdat die ooi en haar lam(mers) die eerste kritieke ses ure bymekaar is. Dit is hoogs aan te beveel dat minstens die ooie met tweelinge en jongooie, wat die eerste keer lam, in lamhokke laat lam word. Tot 50 % van jongooie ervaar vrees teenoor die pasgebore lam terwyl sommige aggressief teenoor die lam is en tot 20 % van die jongooie het na drie uur nog nie hulle lammers laat suip nie (Nowak & Poindron, 2006). Hierdie faktore dra almal tot hoë lamvrektes by, maar deur die gebruik van lamhokke kan dit grootliks voorkom word.
Ooie met hulle lammers behoort vir ten minste twee dae, maar verkieslik drie dae in die lamhokke gehou te word, want dit duur tussen 48 en 60 uur vir die lam en die ooi om volledig te bind. Die ooie met hulle lammers kan uitgeplaas word sodra die ooie hulle lammers aanvaar en die lammers dik gesuip is. Dit is normaalweg ongeveer twee tot drie dae in die geval van enkelinge en ongeveer drie tot vyf dae in die geval van twee- en meerlinge.
Aangesien lamhokke die binding tussen die ooi en haar lam(mers) bevorder, dra dit grootliks daartoe by dat lamvrektes tot minder as 5 % en selfs so laag as 3 % (Putu et al., 1988a, b) en
2 % (Meyer, 2008) is, mits 'n volledige gebalanseerde rantsoen gevoer word. Waar die lamhoklamstelsel gebruik word, moet ooie met tweelingfetusse ses weke en dié met enkelingfetusse vier weke voordat hulle na die lamhokke gaan op die volledige Lammerooirantsoen, wat hulle in die lamhokke gaan ontvang, aangepas word. Daar moet aanvanklik met ongeveer 500 g/ooi/dag van die Lammerooirantsoen begin word en dit moet dan geleidelik (bv. weekliks met ± 250 g/ooi/dag) verhoog word sodat, op die tydstip wat die laatdragtige ooie na die lamhokke gaan, dié met meerlingfetusse ongeveer 1.5 tot 2.0 kg/ooi/dag en dié met enkelingfetusse ongeveer 1.0 kg vreet. Sodra met die Lammerooi-rantsoen begin word, moet alle lekbyvoeding gestaak word. Voorbeelde van 'n volledige Lammerooirantsoen, wat in 'n gemaalde formaat verskaf word, word in die onderstaande tabel verskaf. Aangesien hierdie rantsoene ureum bevat, moet die maksimum inname van elke rantsoen nie oorskry word nie anders kan dit tot ureumvergiftiging aanleiding gee. Resepte vir rantsoene met ander grondstowwe of vir rantsoene in korrelvorm is op aanvraag beskikbaar. Skoon drinkwater moet te alle tye vrylik beskikbaar wees.
| Grondstowwe | Gemaalde volledige Lammerooirantsoene* |
| Maks. inname 1.5 kg/ooi/dag | Maks. inname 2.5 kg/ooi/dag | Maks. inname 3.5 kg/ooi/dag |
| Gemaalde lusern (25 mm) | 375 kg | 375 kg | 375 kg |
| Gemaalde mielies of garspitte | 350 kg | 350 kg | 350 kg |
| Voermol Maxiwolkonsentraat | 200 kg | 150 kg | 100 kg |
| Voermol Procon | ─ | 50 kg | 100 kg |
| Voermol Melassemeel | 80 kg | 80 kg | 80 kg |
| TOTAAL | 1 005 kg | 1 005 kg | 1 005 kg |
* Voer ooie met 1-lingfetusse ± 2.5 % en dié met 2-lingfetusse ± 3 % van liggaamsmassa
* Voer ooie met 1-linglammers ± 3 % en dié met 2-linglammers ± 4 % van liggaamsmassa
Samevatting
Die vorming van 'n suksesvolle ooi-lamband hang daarvan af of die lam se eerste suippogings, binne die eerste ses uur na geboorte, suksesvol was en of die lam voldoende bies gedurende hierdie periode ingeneem het (Val-Laillet et al., 2004). Navorsing toon dat die voorsiening van voldoende deurvloeiproteïen aan laatdragtige en lakterende ooie tot gevolg het dat 5.1 kg (Brand, 2000) tot 5.9 kg (Hoon, 2004) meer kilogram lam per ooi gepaar gespeen word, wat dit 'n koste-doeltreffende aanvulling maak. Daarbenewens verminder deurvloeiproteïenaanvulling die impak wat parasietbesmetting op die produktiwiteit van diere het deurdat dit die immunologiese weerstand van diere veral tydens tye van stres (bv. paring, laatdragtigheid, lam-, en speentyd, ensovoorts) verhoog. Volgens Knox (2003) verminder deurvloeiproteïenaanvulling die miseiertellings.