VOERMOL LANDELEK VIR DIE OPTIMALE BENUTTING VAN OESRESTE EN WEIMIELIES
Hendrik van Pletzen (Voermol Voere)
Bo-gemiddelde en goed verspreide reëns het bygedra tot ’n groot mielie-oes op meeste plase in die somersaaigebied. Groot hoeveelhede oesreste is beskikbaar om vee te oorwinter en die strategiese aanvulling van Voermol Landelek (V 15414) bied die geleentheid om goeie waarde toe te voeg tot reste en weimielies.
Kenmerke van Mieliereste Weiding
· Hoë drakrag van 0.8–1.4 GVE/ha vir 90–120 dae. Die drakrag kan selfs hoër wees met die hoë opbrengste vanjaar.
· Hoë energiewaarde. Weens die lae mielieprys en hoë arbeidskoste sal mieliekoppe nie opgetel word nie.
· Proteïenwaarde is marginaal tot laag vir koeie met kalwers, lammerooie, speenkalwers en speenlammers.
· Spoorelemente is laag, veral sink, koper, mangaan en selenium op swaarder gronde.
· Hamels wat lank op mieliereste wei (75 dae en langer) ontwikkel blaasstene.
· Suurpens is ’n groot probleem wat aanleiding gee tot vrektes en swakker groei. Hoe meer graan op die grond (koppe wat nie opgetel is nie), hoe groter die probleem.
Weimielies
· Drakrag van weimielies word deur graanopbrengs bepaal. Vir elke 1t graan is daar 1 000 skaapweidae (45-50 kg skaap). Met ’n graanopbrengs van b.v. 5t/ha, is die drakrag 55 skape/ha vir 90 dae. Drakrag kan verhoog word deur spaarveld aangrensend.
· Dubbeldoel speenlammers (wol en vleis) met ’n aanvangsgewig van 30-34 kg voeg die beste waarde tot weimielies. Met die huidige pryse kan ’n “mielieprys” van ongeveer R3 200/t realiseer.
· Ooie met lammers kan ook weimielies benut, maar voeg nie soveel waarde toe soos speenlammers nie. Lammerooie word vet op weimielies en tot 68 % lam tweelinge in die volgende lamseisoen.
· Beeste benut weimielies swak met groot vermorsing tot gevolg en skape moet dus beeste opvolg om ’n land skoon te vreet.
· Weimielies het basies dieselfde voedings beperkinge as mieliereste soos bo bespreek.
Bestuursriglyne om Oesreste en Weimielies Optimaal te Benut
· Voermol Landelek is ontwikkel om tekorte aan te vul en voedingsprobleme te beperk op reste van mielies, graansorghum, sonneblomme en weimielies.
· Weimielies kan reeds in die harde deegstadium bewei word – dit vergemaklik aanpassing.
· Skape op weimielies moet vooraf geprosesseer word, d.w.s. ent teen bloednier, behandel teen inwendige en uitwendige parasiete en dien ’n oorinplantaat toe.
· Gelykmatige aanpassing op mielies is belangrik. Gee Landelek ten minste 14 dae voor skape op lande gaan en pas mielies gelykmatig oor die 14 dae aan. Begin met 200g mielies of mieliekoppe/skaap/dag en verhoog elke tweede dag met 100g.
· Gee vars Landelek elke dag in lekbakke met ’n vreetspasie van ten minste 5 cm/skaap.
· Plaas lekbakke naby waterkrippe om goeie inname te verseker.
· Monitor lekinname. Die aanbevole inname van Landelek is 200g per 45-50 kg skaap. Groter (swaarder) skape moet meer inkry (300g/dag). Maak waterkrippe ten minste een keer per dag skoon.
· Skuif skape betyds na vars blok – pitte moet nog sigbaar wees.
· ’n “B” trop, d.w.s. droë diere met ’n laer voedingsbehoefte wy agter om die land skoon te vreet.
· Skape wat nie aangepas is nie, moet nie by ’n “aangepaste” trop gevoeg word nie.
· Monitor diere vir simptome van suurpens – diere is styf en beweeg moeilik, lakseer, ontwater, mis ruik suur.
· Onttrek siek skape en behandel met teensuurmiddel b.v. geaktiveerde houtskool of ant-acid. Voer ruvoer (verkieslik lusernhooi), begin weer mielies gelykmatig byvoer en plaas gesonde diere so gou moontlik terug op die land.
· Landelek word ook aanbeveel vir koeie met kalwers en speenkalwers op oesresteweiding.
· Die aanbevole inname vir beeste op oesreste is 0.8-1.2 kg Landelek/bees/dag.
ONTHOU – Voermol Landelek en bogenoemde bestuursmaatreëls sal die risiko van suurpens drasties verminder. Aangesien enkele diere in ’n trop baie min of geen lek vreet nie, is dit onmoontlik om te waarborg dat geen suurpens sal voorkom nie. Landelek bevat medikamente en moet dus nie aan perde gevoer word nie.