Navorsing toon dat lammers meer koste-doeltreffend op aangeplante weiding en gebrande groen grasveld met 'n komplementêre aanvulling soos Voermol Superlamkorrels (V17425) as in 'n voerkraal afgerond kan word. Die drie belangrikste faktore wat die groeirespons en gevolglik die wins bepaal waar lammers op weiding afgerond word, is die gehalte en bestuur van die weiding, lam en aanvulling.
Weiding
Om 'n hoë groeitempo en uitstekende voeromsetting te verseker, is die volgende aspekte belangrik betreffende die weiding:
-
Volop, blaarryke, aktief-groeiende groenweiding is 'n voorvereiste vir lammers om hulle maksimum genetiese groeipotensiaal te bereik en dus om maksimum wins te genereer.
-
Die ideale weiding is 'n gras-klawerweiding. Hoe hoër die peulplantkomponent hoe beter presteer lammers. Proewe toon dat skape 'n weiding verkies wat 70 % klawer en 30 % gras bevat (Venning, 2006) terwyl die meeste gras-klawerweiding minder as 20 % klawer bevat. Deur 'n suiwer stand klawer in 'n kamp te hê met 'n suiwer stand gras in 'n aangrensende kamp en dan hierdie twee kampe gelyktydig te bewei en die lam toe te laat om self te kies hoeveel hy van elk wil vreet, kan lamgroei met 20 tot 30 % verhoog (Venning, 2006).
-
Goeie gehalte, bemeste groenvoer wat op droëlande verbou word, gee ook uitstekende resultate. Lammers kan ook met welslae op natuurlike grasveld afgerond word, mits dit jonk, aktief-groeiende blaarryke weiding is.
-
Inname en die voedingswaarde van 'n weiding het die grootste invloed op die groei van lammers. Groeitoenames van lammers op raaigrasweidings onder besproeiing is dikwels nie na wense nie. Weens die hoë voginhoud van raaigrasweidings is die droë materiaalinname te laag, tot 25 % laer inname, om 'n hoë groeitempo te onderhou. Nieu-Seelandse navorsers rapporteer dat lammers gemiddeld 109 g/dag vinniger op klawerweiding as op raaigrasweiding gegroei het weens die hoër proteïen- en energie-inhoud asook verteerbaarheid van die klawerweiding. Sommige navorsers rapporteer tot 90 % hoër groeitoenames op klawer- as op raaigrasweiding.
-
Aangeplante weiding moet gereeld volgens voorskrif bemes word.
Lammers
Om 'n hoë groeitempo en uitstekende voeromsetting te verseker, is die volgende aspekte belangrik betreffende die lam:
-
Slegs hoë gehalte lammers met 'n uitstekende groeipotensiaal moet afgerond word. 'n Swak lam kan nie reg gevoer word nie! Klein en boepenslammers moet verkoop word en nie afgerond word nie, want hulle het meestal 'n lae groeitempo met 'n swak voeromsetting.
-
Gesonde lammers, wat minstens 28 tot 32 kg weeg, met 'n hoë genetiese groeipotensiaal is 'n voorvereiste vir winsgewende afronding op groenweiding.
-
Daar moet gestrewe word na 'n groeitempo van meer as 300 g/lam/dag. Lammers moet so swaar moontlik (meer as 50 kg volpens) bemark word, maar hulle moet nog steeds A2/A3 gradeer met 'n ± 22 kg karkas.
Aanvulling
Om 'n hoë groeitempo en uitstekende voeromsetting te verseker, is die volgende aspekte belangrik betreffende die kragvoeraanvulling:
-
Weiding is nie 'n gebalanseerde voeding vir lammers nie en gevolglik word 'n laer groeitempo en swakker voeromsetting verkry. Ongeveer 70 tot 80 % van die weidingsproteïen breek in die grootpens van die lam af (Corbett, 1987) en daarom moet hoë vlakke van deurvloeiproteïen aangevul word om 'n hoë groeitempo te handhaaf, om 'n uitstekende voeromsetting en 'n hoë uitslagpersentasie te verseker. Probleme word dikwels op weiding ervaar om lammers afgerond te kry omdat hulle nie die regte vetheidsgraad bereik nie weens 'n energietekort in die weiding.
-
Die gebruik van 'n komplementêre aanvulling soos Voermol Superlamkorrels (V17425) om die deurvloeiproteïen-, energie- en essensiële mineraal- en spoorelementtekorte aan te vul, sal verseker dat die lammers se volle genetiese groeipotensiaal ontsluit word. In die ontwikkelingsproewe van Superlamkorrels het die kontrolelammers op groen koringweiding slegs 146 g/lam/dag gegroei teenoor die 340 g/lam/dag van die Superlamgroep. Die aanvulling van Superlamkorrels het tot gevolg gehad dat dié lammers R99 meer wins per lam genereer het en dat die lammers binne 50 dae afgerond is. Die kontrolelammers het gemiddeld 81 dae langer geneem om af te rond. Superlamkorrels word ad lib. gevoer. Die gemiddelde inname is ongeveer 400 tot 800 g/lam/dag oor die afrondingsperiode.
-
Op sappige groenweiding ontwikkel lammers dikwels 'n "ruvoerhonger" weens 'n tekort aan effektiewe vesel ("harde vesel") wat ook tot subkliniese suurpens (asidose) en maagwerk aanleiding gee. Op sulke weidings daal die pH van die rumenvloeistof laer as wat nodig is om optimale veselvertering te verseker (Catanese et al., 2009) waardeur die groei van die lam gestrem word. Vir hierdie rede word aanbeveel dat ruvoer eenkant addisioneel bygevoer word. Navorsing toon dat die aanvulling van droë ruvoer, veral lusernhooi (± 200 g/lam/dag), 'n betekenisvolle invloed op lamgroei het (Arelovich et al., 2003).
Algemene bestuursaspekte
Om 'n hoë groeitempo en uitstekende voeromsetting te verseker, is die volgende bestuursaspekte baie belangrik:
-
Afgesien van die gehalte en die hoeveelheid weiding, is die groeitempo van diere direk afhanklik van die hoeveelheid weiding wat daagliks ingeneem word. Weidingshoogte en
-digtheid is dus van kritieke belang om maksimum weidingsinname te verseker (Wade, 1991). Om dus die daaglikse weidingsinname te maksimeer, is 'n digte stand blaarryke groen gras of kleingraanweiding met 'n weidingshoogte van minstens 16 cm of klawerweiding van minstens 10 cm nodig. Dit moet nie korter as onderskeidelik 8 en 5 cm gevreet word nie, waarna die diere na 'n volgende kamp geskuif word. Met ander woorde, vreet net die blare af en skuif die lammers voordat hulle die stingels begin vreet anders gaan hulle groeitempo drasties afneem.
-
Groot weidingskampe moet óf met permanente draad óf met elektriese draad in kleiner kampe verdeel word. Die geheim is om kampe vinnig te bewei en die lammers dan aan te skuif terwyl die beweide kampe dan bemes en besproei word.
-
Maksimum 50 lammers per hektaar, mits daar minstens 2.5 ton droë materiaal weiding per hektaar is.
-
Kleiner troppe (minder as 100 lammers is ideaal met maksimum van 250) per kamp. Lammers moet in homogene groepe volgens massa, kondisie en geslag ingedeel word. Die groepe moet in aparte weidingskampe geplaas word.
-
Lammers moet met 'n geskikte oorinplantaat (bv. Ralgro of Zeraplix) geïnplanteer word omdat dit groei met tot 22 % kan verhoog.
-
Waar groenweiding beperkend is, kan die lammers op die groenweiding tot ongeveer 35 kg gegroei word en dan in 'n voerkraal op die volgende mengsel afgerond word: 100 kg gemaalde lusern (20 – 25 mm-sif) + 200 kg Voermol SS 200 + 100 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel + 550 kg gemaalde mielies.
-
Daar moenie met bemarking gewag word totdat al die lammers markklaar is nie. Begin met bemarking sodra die eerste lammers markklaar is. Bepaal die kondisie en massa van die lammers weekliks en bemark hulle soos hulle markgereedheid bereik op voorwaarde dat die prys aanvaarbaar is. Lammers vreet die wins op indien hulle langer gehou word nadat hulle reeds markklaar is. Hoogs aan te beveel om lammers direk oor die skaal te verkoop.
-
Interne parasietvlakke moet voortdurend gemonitor word en waar nodig moet met 'n doeltreffende doseermiddel gedoseer word om te verhoed dat interne parasiete die groei en voeromsetting benadeel.
-
Voordat lammers na die weiding geskuif word, moet hulle met 'n multiklostridiale entstof, wat pasteurella insluit, gespuit word.
-
Lammers moenie gedurende die koue tyd van die jaar geskeer word nie, omdat dit dan teenproduktief is en groei sal vertraag omdat die lam dan meer energie gebruik om sy liggaamstemperatuur in stand te hou en gevolglik is minder energie vir groei beskikbaar.