WINSGEWENDE AFRONDING VAN LAMMERS ONDANKS HOË GRAANPRYSE

Die grane in 'n voerkraalrantsoen vir lammers is vir ongeveer 42 tot 50 % van die voerkoste verantwoordelik. Om hierdie rede is produsente daarom geneig om duur grane soos mielies en gars in 'n voerkraalrantsoen met goedkoper alternatiewe soos hominy chop, semels, "screenings," ensovoorts te vang. Die vraag is egter of dit 'n hoër winsmarge sal verseker? In tye van hoë graanpryse en relatief lae vleispryse is voeromsettingdoeltreffendheid (kg voer ingeneem per kg massatoename) egter die heel belangrikste faktor om op te fokus om winsmarges te verbeter. Die voeromsetverhouding (VOV) is een van die belangrikste faktore wat wins in die voerkraal bepaal en word dikwels as 'n "benchmark" van winsgewendheid beskou (Lundeen, 2004). Die omsettingsdoeltreffendheid van ingenome voedingstowwe (voeromsetverhouding) na vleis word deur die gehalte van die voerkraalrantsoen; vrywillige voerinname; aanpassing; oorinplantate; medikamente; ouderdom en gehalte van die lam; vlak van voerkraalbestuur, ensovoorts bepaal.


Tipe en gehalte voerkraallam

Die gehalte van die lammers wat afgerond word, het 'n groot invloed op die voeromsetdoeltreffendheid of voeromsettingsverhouding (VOV) en groeitempo van die lammers en gevolglik die winsgewendheid daarvan. Die gesegde: "You cannot feed the wrong lamb right" is in hierdie geval baie waar. Swak en boepenslammers asook enige lammers wat nie 'n hoë groeitempo in die voerkraal handhaaf nie, moet so gou moontlik verkoop word omdat hulle die winsgewendheid van hierdie onderneming verlaag.


Die ideale voerkraallam moet aan die volgende vereistes voldoen:

  • n Gesonde lam (‘n swak boepenslam presteer nie). Moenie siek lammers vir 'n voerkraal aankoop nie.

  • n Jong (< 4 maande), goed uitgegroeide lam met ‘n dun vetlaag en ‘n groot karkas (28 – 32 kg). Waar lammers kruipvoer gevoer geword, kan hulle met welslae op 'n vroeë ouderdom (vanaf 75 dae) op 'n massa van 22 tot 25 kg gespeen word en hoogs winsgewend in 'n voerkraal afgerond word.

  • n Vleistipe lam met ‘n hoë groeipotensiaal. Moenie lae groeipotensiaal lammers koop nie, want hulle verleng die staandae in die voerkraal en hulle het meestal 'n swak voeromsetting. Vleis- en vleiswoltipes presteer beter as woltipes en tipes wat geneig is om oormatig vet aan te pak omdat vetaansit meer energie vereis as spiergroei. Vleiswoltipes groei nie net vinnig nie, maar produseer ook wol wat 'n ekstra inkomste genereer. Soms is Dorpers gewild omdat hulle velle dikwels 'n hoë premie verdien.

  • n Kruisraslam wat weens basterkrag ‘n baie hoë GDT met ‘n uitstekende VOV het.

  • n Ramlam of kriptorchid (d.i. waar die testes eers in die liggaamsholte ingedruk en die rekkie daarna om die skrotum gesit word) omdat hulle stadiger en minder vet aansit, tot
    19 % hoër GDT en tot 9 % beter VOV het. Bemarking moet egter voor geslagsrypheid
    (4 – 8 maande ouderdom afhangend van die ras) geskied om te verhoed dat afgradering weens sekondêre manlike eienskappe plaasvind. Ramlammers behoort nie afgekeur te word nie, solank hulle nog net nie gewissel het nie.

  • Gee voorkeur aan lammers wat kruipvoeding ontvang het of wat gewoond is aan byvoeding. In 'n ondersoek waar lammers kruipvoeding ontvang het, was hulle VOV 3.51:1 teenoor die 5.18:1 van dié lammers wat 'n voedingsknou (geen kruipvoeding) ervaar het. Die lammers wat kruipvoeding ontvang het, is op 'n vroeë ouderdom gespeen en sulke jong lammers het 'n beter VOV as ouer lammers.

  • Lammers presteer beter in voerkrale as ou ooie omdat hulle 'n baie beter VOV het. Die fisiologiese vermoë van 'n lam om voer na vleis om te sit, is afhanklik van sy ouderdom, met ander woorde hoe jonger die lam is, hoe beter is die VOV. Die VOV = 2 + 0.025X, waar X = ouderdom met die aanvang van afronding.

  • Koop voerkraallammers in die nabyheid van die voerkraal om vervoerkoste en spanning te beperk.


Tipe en gehalte voerkraalrantsoen

Aangesien mielies die graan met die hoogste energie-inhoud is, sal die voeromsetverhouding (VOV) meestal die beste wees as mielies as enigste graankomponent in die voerkraalrantsoen gebruik word. Soos die mielie-inhoud van die rantsoen verhoog, verhoog die energie-inhoud en gevolglik verbeter die VOV en uitslagpersentasie. Elke 1 %-styging in die uitslagpersentasie is tans (8/08/2008) R14 tot R15 werd. Volgens Speedy (1980) sal 'n rantsoen met 'n ME-inhoud van 9 MJ ME/kg DM (60.2 % TVV) slegs 'n groei van 100 g/lam/dag onderhou en sal die VOV ongeveer 11.6:1 wees teenoor 'n groei van 300 g/lam/dag en 'n VOV van 4.2:1 wanneer die energie-inhoud 13 MJ ME/kg DM (86.9 % TVV) is. Oliesade soos katoensaad het 'n hoë energie-inhoud en kan 10 tot maksimum 15 % van die mielies in 'n voerkraalrantsoen vervang om nog 'n hoër energie-inname en dus 'n beter VOV te verseker. Die VOV verbeter soos die energie-konsentrasie van die rantsoen verhoog deurdat die voerinname daal terwyl die groeitempo (GDT) toeneem.

Naas mielies is gars die tweede beste graankomponent en dit kan mielies totaal vervang. Die gebruik van hoë vlakke van newe- en byprodukte asook grane met 'n lae energie-inhoud (bv. hawer) verswak die VOV. Hawer, newe- en byprodukte soos hominy chop, semels, "screenings" is relatief laag in energie terwyl eersgenoemde drie ook baie lywig is en gevolglik moet hulle glad nie gebruik word nie of die insluitingsvlak moet tot lae vlakke beperk word, want anders gaan dit die VOV verswak en dus die winsmarge beperk. Hominy chop is lywig en verlaag gevolglik voerinname. Groei van lammers was tot 100 g/lam/dag (ekwivalent van R1.65/lam/dag verlies) laer waar chop mielies vervang het. Indien chop meer as 8 % vet bevat, kan maksimum 50 % van die mielies met chop vervang word. Om die probleem met lywigheid te oorkom, is dit hoogs aan te beveel om chop-bevattende rantsoene te verkorrel. Die gebruik van semels word totaal ontmoedig weens sy lae energie- en hoë fosfaatinhoud wat tot blaasstene aanleiding gee. "Screenings" en hawer word geensins aanbeveel nie weens hulle lae energie-inhoud.

'n Hoë insluiting van deurvloeiproteïenbronne (bv. 5 tot 10 % Voermol Procon: V12701) in voerkraalrantsoene is hoogs aan te beveel, want dit verbeter VOV en bevorder spiergroei wat op sy beurt die uitslagpersentasie verhoog (Beerman et al., 1986). Soos die deurvloeiproteïeninname toeneem, verbeter die VOV en die uitslagpersentasie. In 'n ondersoek waar 0; 3; 6 en 9 % vismeel in 'n voerkraalrantsoen as 'n deurvloeiproteïenbron ingesluit is, was die VOV onderskeidelik 5.9; 4.2; 3.7 en 2.9:1 (aangehaal Brand, 1993). Hoewel vismeel die beste deurvloeiproteïenbron is, word 'n mengsel van minstens drie hoë gehalte deurvloeiproteïenbronne, soos in Voermol Procon, verkies om te verseker dat al die essensiële aminosure vir spiergroei voorsien word. 'n Enkele deurvloeiproteïenbron moet daarom nie meer as 60 % van die deurvloeiproteïenmengsel uitmaak nie (Klopfenstein et al., 1985). In plaaslike proewe met Voermol Procon-insluiting en 'n lae vlak van ruvoerinsluiting [150 kg gemaalde lusern + 525 kg gemaalde mielies + 200 kg Voermol SS 200 (V8592) + 50 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel (V1995)] het die uitslagpersentasie van SA Vleismerinolammers van 49.1 tot 49.7 % gevarieer. Hoendermis moet geensins in voerkraalrantsoene gebruik word nie omdat dit laag in deurvloeiproteïen en energie is; lamsiekte en ionofoorvergiftiging kan veroorsaak; toksiese mikotoksiene kan bevat wat kankerwekkend is en omdat VOV met ongeveer 1 % verlaag vir elke 1 % insluiting van hoendermis.

Die gehalte en die tipe ruvoer vervul 'n belangrike rol in die voerkraalrantsoen. Hoe beter die gehalte van die ruvoer hoe hoër die verteerbaarheid en hoe smaakliker is dit wat dus 'n hoër energie-inname en 'n beter VOV verseker. Ruvoer voorsien effektiewe vesel wat dien as 'n "scratch factor" om die rumenpapillae (vingeragtige uitsteeksels in rumenwand) en speekselvloei te stimuleer (Coetzer, 2002). Dit help mee om asidose (suurpens) en laminitis te voorkom omdat dit herkou stimuleer waardeur speekselafskeiding verhoog word. Speeksel is hoog in natriumbikarbonaat (koeksoda) wat 'n uitstekende buffer is. In die verband is die ruvoerlengte, in gemaalde voerkraalrantsoene, 'n sleutelfaktor om uitstekende voerkraalprestasie te verseker. Die ruvoerlengte word bepaal deur die gehalte en tipe ruvoer. Die aanbevole ruvoerlengte vir swak (bv. strooi en Eragrostishooi); medium (bv. hawerhooi en bemeste grashooi) en goeie gehalte ruvoer (bv. lusern); is onderskeidelik 10 – 15 mm;
15 – 20 mm en 20 – 25 mm. Voermol se melassegebaseerde produkte (bv. Voermol Melassemeel en SS 200) bevat almal
bagasse (suikerrietvesel) wat 'n uitstekende bron van effektiewe vesel is wat verseker dat diere voldoende effektiewe vesel inneem om hulle grootpense gesond te hou en metaboliese versteurings en ander probleme te beperk.

Hoe hoër die ruvoerinsluiting in die voerkraalrantsoen, hoe minder gevalle van maagsteurnisse kom voor, maar hoe swakker die VOV en hoe laer die uitslagpersentasie. In 'n ondersoek waar lammers op lusernhooi alleen afgerond is, was die uitslagpersentasie
39.9 % teenoor 43.6 % toe die afrondingsrantsoen 66 % lusern bevat het (Van Niekerk, 1987). In 'n afrondingsrantsoen moet die ruvoer tot maksimum 15 % beperk word om uitstekende VOV en 'n hoë uitslagpersentasie te verseker.

'n Hoë vlak gebalanseerde mineraal-, spoorelement- en vitamienaanvulling is noodsaaklik om 'n hoë groeitempo te handhaaf asook om 'n sterk immuunstelsel vir hoë weerstand teen siektes te verseker. Daar moet egter gelet word dat te hoë vlakke van fosfor en magnesium in voerkraalrantsoene blaasstene tot gevolg kan hê. Vermy voerkraalrantsoene met te hoë kopervlakke omdat diere onder intensiewe toestande, soos 'n voerkraal, geneig is om oormatig koper in die lewer aan te samel wat toksies kan wees. Die beste opsie is om 'n klaargemengde voerkraalkonsentraat soos die hoogs aangeskrewe Voermol SS 200 te gebruik wat al die noodsaaklike minerale, spoorelemente en vitamines in die korrekte verhouding bevat. Voermol SS 200 bevat ook 'n ionofoor en 'n medikament wat VOV met tot 12 – 18 % verhoog. Weens die hoë stresvlakke waaronder voerkraallammers verkeer asook die talle siekte-uitdagings waaraan hulle blootgestel word, word dit aanbeveel om voerkraallammers verkieslik drie weke voor inname, so nie, met inname met Multimin (G1853: bevat sink, mangaan en selenium) asook Vitamien A en E te spuit om hulle immuunstelsel te versterk.

Die belangrikheid van 'n volledige gebalanseerde voerkraalrantsoen blyk duidelik uit die navorsing van Vosloo (1982). In sy ondersoek is lammers 'n gemaalde rantsoen bestaande uit 60 % lusern en 40 % mielies gevoer. Die VOV van die lammers was 8:1 teenoor die 3.3:1 van die lammers wat 'n volledige gebalanseerde voerkraalrantsoen met 'n lae ruvoerinhoud ontvang het. Alvorens die rantsoen behoorlik gebalanseer is, kan daar nie van diere verwag word om volgens hulle genetiese potensiaal te produseer nie (Scott, 2001).

Kommersiële voerkrale gebruik, weens die gemak van bestuur, drie voerkraalrantsoene (d.i. Aanpassing-, Groei- en Afrondingsrantsoen) terwyl dit vir die kleiner plaasvoerkrale (geleentheidsvoerders), met hulle beperkte infrastruktuur, meer gerieflik is om net een rantsoen (d.i. Afrondingsrantsoen) te gebruik. Resepte van die verskillende voerkraalrantsoene in 'n gemaalde of verkorrelde formaat is op aanvraag by dr. Jasper Coetzee beskikbaar.

Die gebruik van 'n anaboliese (vir opbou of sintese van spierselle), nie-hormonale oorinplantaat (slegs Ralgro of Zeraplix vir skape geregistreer) is hoogs aan te beveel veral ook omdat dit 'n sinergistiese werking met die ionofoor in Voermol SS 200 het. Oorinplantate verhoog spiergroei ten koste van vetneerlegging; verbeter groei (GDT) en VOV terwyl dit die uitslagpersentasie met 1.5 % (47.4 vs. 45.9 %: Brand, 1995) verhoog. In ondersoeke oorsee waar 1193 lammers en 20 voerkrale betrokke was, het Ralgro die groei van lammers met gemiddeld 11.9 % verhoog en die VOV met 11.1 % verbeter. Navorsing deur dr. Phillip Strydom van Irene toon dat die groei van lammers met 15.8 % (359 vs. 310 g/dag) en die VOV met 14.6 % (3.92 vs. 4.59:1) verbeter het deur die gebruik van 'n oorinplantaat. Aangesien 'n oorinplantaat spiergroei bevorder, is dit uiterste belangrik dat daar voldoende deurvloeiproteïen in die vorm van Voermol Procon in die voerkraalrantsoen ingesluit word om maksimum respons te verseker. Hoe laer die groeitempo van die diere, hoe kleiner is die respons met 'n inplantaat. Gevolglik moet diere altyd ad lib. gevoer word en moet die rantsoen die hoogs moontlike energie-inhoud hê om maksimum groei te verseker. Jong groeiende diere wat aktief spiere groei, m.a.w. voor geslagsrypheid, gee die beste respons met 'n inplantaat terwyl die respons kleiner is by volwasse diere.

Beide die tempo waarteen lammers groei (GDT) en die doeltreffendheid waarteen hulle groei (VOV) het 'n groot invloed op winsgewendheid omdat dit die aantal staandae in die voerkraal beïnvloed (Coetzer, 2002). Hoe hoër die GDT en hoe beter die VOV, hoe korter is die staandae en hoe minder voer word benodig tot bemarking. 'n Kritieke fout wat dikwels in voerkrale gemaak word, is om nie toe te sien nie dat lammers volgens hulle volle genetiese groeipotensiaal groei. 'n Deel van die ingenome voedingstowwe word vir die onderhoud van die dier self gebruik, met ander woorde hierdie voedingstowwe is nie vir groei beskikbaar nie. Vir elke dag wat 'n lam langer neem om bemarkingsmassa te bereik, word die voer wat vir liggaamsonderhoud (± 2 % van liggaamsmassa: NRC, 2007) verbruik word, vermors en dit is 'n finansiële verlies. Hoe langer die dier dus in die voerkraal staan, hoe meer voedingstowwe word vermors. In die geval 'n 30 kg lam is dit 0.6 kg voer per dag, die ekwivalent van R1.61/lam/dag (vir pryse geldig op 8 Augustus 2008). Vermy dus die gebruik van swak gehalte en ongebalanseerde voerkraalrantsoene met 'n lae energie- en lae deurvloeiproteïeninhoud omdat dit die staandae in die voerkraal verleng. Maksimum doeltreffendheid sal bereik word indien diere soveel as moontlik energie, so vinnig as moontlik inneem wat die VOV (Coetzer, 2002) en groeitempo sal verbeter. Dit het korter staandae tot gevolg en dus is die afronding van die lammers meer koste-doeltreffend en word meer wins genereer.


Vrywillige voerinname

Hoë vrywillige voerinname is belangrik om hoë groeitempo’s (GDT’s) en goeie VOV te verseker. Voerinname is 'n funksie van die massa van die dier, tipe rantsoen wat gevoer word en die fase van die voerperiode (Coetzer, 2002). Die gemiddelde droë materiaalinname van die lammers gedurende die voerperiode varieer van 4 tot 6 % van liggaamsmassa (NRC, 2007).

Vrywillige voerinname kan deur verskeie faktore beïnvloed word. Die twee belangrikste faktore is voedingsfrekwensie en voginhoud van die voer. Diere wat meer gereeld kos kry, sal geneig wees om meer te vreet as diere wat slegs een of twee voedings per dag kry. Diere moet ten minste twee keer per dag gevoer word en moet nooit langer as twee tot drie ure sonder voer wees nie. Voere wat te droog of te nat is, is ongewens. Vogtigheidsvlakke tussen 12 en 20 % sal hoër inname tot gevolg hê (Coetzer, 2002). Ander faktore wat ook 'n rol speel in vrywillige voerinname is die energiekonsentrasie van die rantsoen, die genetiese groeipotensiaal van die lammers en die tipe (vroeg- of laatryp) lammers (NRC, 2007). Hoogs smaaklik en nie-stowwerig rantsoene verseker hoë vrywillige inname. In hierdie verband is die gebruik van melassegebaseerde produkte (bv. Voermol SS 200 en Voermol Melassemeel) wat die stowwerigheid beperk en hoogs smaaklike produkte (bv. Voermol Melassemeel en Procon) in 'n voerkraalrantsoen hoogs aan te beveel.


Hoë vlak voerkraalbestuur

Om 'n hoogs winsgewende voerkraal te bedryf, word 'n volgehoue hoë bestuursvlak vereis. In hierdie verband is die volgende gesegde baie waar: dit is die voerkraalbestuurder se oë wat die diere vetmaak!!

Waar net een voerkraalrantsoen (d.i. Afrondingsrantsoen) gebruik word, is dit uiters belangrik dat die lammers stadig en geleidelik op die Afrondingsrantsoen aangepas word om laminitis, asidose (suurpens) en moontlike vrektes te voorkom. Lammers wat eenkeer probleme opgetel het, presteer daarna baie swak in die voerkraal en hulle word selde winsgewend afgerond. As gevolg daarvan moet die volgende voedingsinstruksies stiptelik nagekom word:

  1. voer die lammers die eerste dag slegs lusernhooi;

  2. voer die lammers vanaf die tweede dag slegs 100 g/lam van die voerkraalrantsoen;

  3. verhoog die voedingspeil van die voerkraalrantsoen elke dag daarna met 100 g/lam, m.a.w. Dag 3: 200 g/lam; Dag 4: 300 g/lam, ensovoorts totdat 'n peil (ad lib.) bereik word waar hulle begin om van die voer te los;

  4. voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag;

  5. voer ongemaalde lusernhooi eenkant ad lib. by vir die eerste 14 dae waarna dit gestaak word;

  6. sorg dat daar voldoende vreetspasie is sodat al die lammers gelyk kan vreet, m.a.w. moenie selfvoerders gebruik nie, want dan gaan die lammers hulle aanvanklik oorvreet wat tot laminitis, suurpens en vrektes aanleiding kan gee en

  7. na die aanpassingsperiode (eerste 10 dae) moet die daaglikse hoeveelheid voer verkieslik drie maal (oggend, middag en laatnamiddag) per dag gevoer word.


Wanneer al drie voerkraalrantsoene gebruik word, word op die eerste dag in die voerkraal met die Aanpassingrantsoen ad lib. begin vir ongeveer 10 dae (soms word lusernhooi vir die eerste 14 dae eenkant bygevoer om die aanpassing te vergemaklik) waarna na die Groeirantsoen vir ongeveer 10 dae oorgeskakel word. Daarna word die Afrondingsrantsoen tot bemarking gevoer.


Samevatting

Die tipe en gehalte van die voerkraalrantsoen asook die tipe en gehalte lam wat gevoer word, is sleutelfaktore in die bepaling van winsgewendheid in 'n voerkraal. Die gebruik van sogenaamde "goedkoop" rantsoene wat 'n hoë persentasie laegraadse ruvoer, graanneweprodukte en afvalprodukte bevat, is dikwels verantwoordelik vir lae groeitempo en swak VOV wat voerkraalwins ernstig knou. Om steeds wins te maak in tye van hoë graanpryse word aanbeveel dat 'n hoë kwaliteit gebalanseerde rantsoen gebruik word en dat slegs goeie gehalte lammers, wat in voerkrale presteer, afgerond word. Ondanks die hoë graanpryse kan die afronding van ‘n skraal nie-marklaarlam (A0) om sy graad na ‘n A2 te verbeter, egter steeds geregverdig word deurdat sy vleiswaarde verhoog word. Bestuurspraktyke veral dié wat te doen het met voedingsbestuur, aanpassing gesondheidsbeheer en toesig asook doeltreffende fasiliteite speel ook 'n sleutelrol in die welslae van 'n winsgewende skaapvoerkraal. Optimum produksie en maksimum winsgewendheid word bereik deur 'n kombinasie van verbeterde genetiese potensiaal, toepassing van sleutelbestuurspraktyke en inname van gebalanseerde voedingstowwe (Larsen, 2007). Die primêre winsdrywer in 'n voerkraal is die VOV (kg voer ingeneem/kg liggaamsmassatoename).

Daar moet altyd vooraf seker gemaak word dat daar 'n mark vir die afgeronde lammers is. 'n Goeie kontrak en beter slagvoorwaardes moet ook vooraf beding word om 'n hoër wins in die voerkraal te genereer.

Vir verdere inligting oor voerkraalafronding van lammers asook bestuurspraktyke en afrondingsrantsoene vir die produksie van natuurlik geproduseerde ISO-gesertifiseerde vleis (Natural Lamb) skryf aan dr. Jasper Coetzee, Voermol Voere, Posbus 13, Maidstone 4380 of stuur 'n e-pos aan info@voermol.co.za


SOEK ARTIKELS

Sleutelwoord, Produk of Skrywer

TEGNIESE SPAN

Hendrik van Pletzen - Tegniese Bestuurder:
Vleisbeesbestuur, voeding, weidings, produksiestelsels en ekonomie.

Technical Manager - Tegniese Bestuurder:
Suiwel- en Pluimveevoeding, Gehaltebeheer & Produkontwikkeling

Ulrich Müller - Tegniese Bestuurder:
Voerkraal-, Wild- & Volstruisvoeding

Voermol - Tegniese Direkteur:
Voeding, Bestuur & Kleinveeteling